• Login
  • Search Icon

Samesyn in 'n biertuin

July 2015

image

image

Beste Grootneef

Ou Neef, ek sit die anderdag in NAMPO se biertuin en luister hoe die manne by die tafel langs my visvangstories uitruil. Die een storie wat oral opduik, maak nie saak in watter biertuin jy sit nie, is oor Vaaldam se groot babers. “Nee,” sê die een ou, “duikers wat die wal in die Vaaldam moes regmaak, het bang geword vir die babers daar onder op die bodem. So groot soos haaie! Hulle moes toe omdraai terug boot toe...”

So verskuif die toneel na die Zambezi se tiere. Die tweede ou laat loop toe met die storie van die groot tiervis wat in die Kariba gevang is. Dié het so woes aan die lyn gespook, dat die ou besluit het om die vis saam te vat huis toe. Daar gekom, is die vis in die bad mak gemaak. Die vis en die hengelaar raak toe so geheg aan mekaar, dat die ou sy vis elke dag so ‘n rukkie uit die water haal, om bietjie te gesels en om die huis en die werf vir die vis te wys.

Ná ‘n maand of wat kon die vis toe heeltemal sonder water klaarkom en was tiervis se kind teen daardie tyd heel danig met die honde op die werf. Die vis het naderhand leer blaf ook en het saans sommer voor die kaggel lê en slaap. As die bakkie van die dorp af kom, was die vis tussen die bondel honde, al om die bakkie, om vir die baas te sê welkom tuis. Die moeilikheid het egter gekom met die eerste groot reën, toe die vis versuip het...

“Ja,” se die derde ou, “dis nog niks – die piranhas in die Amasone is so kwaai, die ander dag het ‘n ou op ‘n kanoe sy hand in die water gedruk om af te koel. Hy hoor toe net krrr, en toe hy sy arm oplig, was net sy vingerbene oor, al die vleis afgeëet!”

So het die biertuinwyshede heen en weer gedryf – harmonie en gemoedelike samesyn. Want dit was NAMPO en vir ‘n dag lank was dit ‘n oorgawe aan totale verwondering aan die groot trekkers en stropers. Vir ma los jy met die inkomslag, sodat sy haar eie koers vat – solank julle mekaar net weer vieruur by die hek kry.

Op ‘n manier is NAMPO vir die land se boere ‘n pelgrimstog. Ver om te ry, groot verkeer met ‘n eie “North Gate” en “South Gate”, maar lekker man, lekker.

Die stukkie kommer wat die sagste sosatie egter nie kon wegneem nie, is die halwe oes op die land en die man van die bank se strammigheid oor planttyd in Desember. En die grond. Want dit lyk of die owerstes in die goewerment elke week ‘n ander grondplafon uitdink.

Buurman sê dat indien die staat al die geld wat op vliegtuie en duikbote gemors is, in grond belê het, was daar al lankal harmonie en vrede in onse land soos geen biertuin kan bring nie.

Kyk maar elke week se geelbladsye. Weekliks is daar hope plase in elke distrik in die mark. Die goewerment kan elke week top plase koop en toevertrou aan nuwe boere. Ons klomp ou manne sal help met raad en daad om enige nuwe span touwys te maak. Dit gebeur oral dat buurmanne mekaar help. Dit was deur al die eeue so, ‘n pes of ‘n plaag word nie deur ‘n draad gekeer nie. Dis tog in jou belang ook dat buurman ‘n sukses maak.

Ou Neef, ‘n wiel sal altyd rond bly. Dis tog nie nodig vir die goewerment om te kyk of ‘n vierkantige wiel gladder sal werk as ‘n ronde een nie. Eintlik kan ons die goewerment so goed laat lyk met grondsake, want die plase is daar en so ook die welwillendheid om die nuwe manne te wys wat, waar en hoe.

Maar dan moet die goewerment mét ons praat en nie ván ons nie.

Groete op die Oosgrens!

Kleinneef

Lesers is welkom om ‘n e-pos aan Kleinneef te stuur by kleinneef@graingrowers.co.za.

Publication: July 2015

Section: Features

Search