

Produk-inligting
September 2017
62
‘n Kykie na Alternaria en
Sclerotinia op sonneblom
aadsonneblomproduksie was die afgelope seisoen vir
baie produsente – veral in die weste – ‘n alternatief vir
mielies. Wisselbou en onkruidbeheer – veral grasbeheer
– was een van die redes vir dié besluit.
Dit was ‘n uitstekende besluit en ‘n groot aantal produsente het
groot baat hierby gevind in terme van prys én opbrengs. Ons het
gehoor van opbrengste op Hartbeesfontein van 4,25 t/ha. Dit is
ongekend en gesien in die lig van verkoopsyfers van saad, gaan
produsente hierdie jaar duisende hektare aanplant. Sonneblom-,
oftewel “sondeblom”-produksie, soos baie produsente dit noem, is
egter nie heeltemal so eenvoudig nie. Daar is ‘n paar truuks.
Eerstens moet jy tydig wees en slegs die beste genetika in die mark
aankoop, ‘n goeie stand realiseer, goed bemes en beslis uitkyk vir
plantsiektes. Twee blaarsiektes, naamlik Sclerotinia en Alternaria
het hierdie afgelope seisoen amok gemaak en totale oeste vernie-
tig – veral by produsente wat nie vroegtydig iets daaromtrent
gedoen het nie. Om hierdie rede is dit nodig om die twee blaarsiek-
tes van naderby te bekyk.
Alternaria
Lewensiklus
Hierdie patogeen is saprofities. Dit beteken dit oorleef op dooie
plante bo en onder die grond. Dit kan ook in saad oorleef. In die lente
vervaardig die fungi spore, wat deur wind en reën versprei word.
As gunstige weersomstandighede heers kan selfs sekondêre
siklusse volg.
Wanneer die patogeen die gasheer geïnfekteer het, ontwikkel donker
kolle op die blare. Hierdie swam versprei baie vinnig en ‘n oes
kan binne ‘n paar dae in sy totaliteit uitgewis word. Die plante sterf
af en die spore bly weer voortbestaan tot die volgende seisoen.
Identifikasie
Nadat ‘n plant geïnfekteer is, ontwikkel ‘n paar merke op die blaar-
oppervlak. Dit is gewoonlik klein, ronde of vierkantige letsels,
ligbruin in die binnekant en omring met donker, konsentriese
sirkels. Die merke kom gewoonlik eerste op die onderste blare voor
en daarna versprei dit na nuwe blare ook. Blare word gewoonlik
eerste geaffekteer, maar die infestasie versprei later na die stam
en die saad ook. Hierdie swamsiekte word maklik verwar met
septoria, wat minder aggressief is.
Habitat
Warm, vogtige weer is perfek vir die ontwikkeling van die pato-
geen. Plante onder stres, hetsy as gevolg van wanvoeding, droogte
of hitte, is meer vatbaar vir Alternaria. Die siektedriehoek, naamlik
gasheer, klimaat en teenwoordigheid van die patogeen speel hier
‘n kritiese rol in die graad van infektering al dan nie.
Opsomming
Alternaria is hierdie seisoen reeds met ons. Moenie onkant gevang
word en nie betyds beplan om hierdie siekte te fnuik nie.
Sclerotinia
Sclerotinia-kopvrot en -stamvrot is ‘n groot uitdaging om te beheer
vanweë sy wye gasheerreeks en sy vermoë om vir besonder
lang tydperke in die grond te oorleef. Sclerotinia-kopvrot en
-stamvrot val nie net sonneblomme aan nie, maar ook ‘n aantal
ander breëblaargewasse soos sojabone, bone, lupines en sekere
groentesoorte. Hierdie gewasse tree ook outomaties as gasheer
vir die siekte op.
Lewensiklus
“Muismis”, die boerenaam vir sklerotium, is geharde swart struk-
tuurtjies wat dikwels op die grond en op die stam van die
sonneblom gesien kan word – of in die murg van ‘n stam wat reeds
verwelk het. Wanneer toestande gunstig is – tydens nat, koeler
weersomstandighede – stel die “muismis” spore vry wat deur die
wind versprei word. Dooie plantweefsel, aan die agterkant van
die sonneblomkop, kan as ingangspunt vir die verspreiding van
die fungi dien, waarna kopvrot geïnisieer word.
Stamvrot word geïnisieer wanneer die fungi in die grond ontkiem
en die sonneblom se wortels aanval. Die fungi bereik uiteindelik die
penwortel van die sonneblom, wat veroorsaak dat noodsaaklike
water en voedingstowwe nie opgeneem kan word nie. Verwelking
en uiteindelike afsterwing van die sonneblom volg.
Identifikasie
Die ligbruin verkleuring van die sonneblomkop is een van die eerste
tekens wat na infestasie van die fungi waargeneem kan word.
Dit word gevolg deur die verwelking en uiteindelik die afsterwing
van die sonneblomkop en boonste stamarea. Die sonneblom se
saad sal ook uitval en “muismis” (swart, harde strukture) sal in die
sonneblomkop sigbaar wees.
Sclerotinia-stamvrot veroorsaak skielike verwelking van die plant,
met ‘n ligbruin area wat rondom die basis van die stam sigbaar
word. “Muismis” kan ook in die murg van die stam, by die punt van
infeksie, gesien word. Sonneblomstamme breek boonop somtyds
by hierdie punt van infestasie. Swak kopvul kan ook waargeneem
word, omdat die sonneblom verhinder word om die nodige water en
voedingstowwe op te neem.
Habitat
Sclerotinia kan vir jare in geïnfekteerde grond en op gasheerplant-
reste oorleef. Die siekte is die prominentste wanneer koel en nat
weer voorkom.
Beheer
Produsente wat reeds hierdie seisoen besmetting op hul lande
gehad het, word aangeraai om die oesreste te verwyder – hetsy
deur dit in te ploeg of te bewei.
Die aankoop van gesertifiseerde saad met goeie weerstand-
biedendheid teen siektes word sterk aanbeveel.
Die vogstatus van ‘n land, tesame met die langtermynweer-
voorspellings, behoort in ag geneem te word wanneer die
voorgenome plantestand bereken word – om die risiko vir
strestoestande te beperk.
Wisselboustelsels is altyd ‘n goeie praktyk. Daardeur word die
gasheer afgewissel.
Die aanwending van harpinproteïen op ‘n vroeë stadium word
ook aanbeveel.
Raadpleeg jou gewasoplossingspesialis in verband met die
gebruik van geregistreerde chemiese middels.
FOKUS
Geïntegreerde plaagbeheer
Spesiale
GERRIE LUDICK,
landboukundige, InteliGro