

89
March 2017
Met die aanvaarding van gemiddelde produksiebeginpunte en pro-
duktiwiteitswaardes, kan 400 mm waterverbruik ‘n mielie-opbrengs
van 4,2 t/ha, sonneblom 1,8 t/ha en sojabone meer as 2 t/ha lewer.
Dit verteenwoordig daarom opbrengste wat deur die kurwe in die
grafiek aangetoon word.
Werklike opbrengste wat behaal word, lê egter selde op die kurwe.
Daar is verskeie faktore wat dit veroorsaak. Siektes, insekplae,
grondkompaksie, onder-optimale grondvoedingstatus, ‘n swak aan-
gepaste kultivar of ‘n bo- of onder-optimale plantestand is maar
enkele van die faktore wat die opbrengs kan beperk.
Sommige van die faktore beperk die opbrengs sonder dat die
produsent daarvan bewus is. Werklike opbrengste lê gewoonlik
onder die kurwe – soos deur die punte onder die kurwe in
Grafiek 1 voorgestel.
Die kurwe in Grafiek 1 verteenwoordig die potensiële opbrengs en
die punte onder die grafiek dít wat deur produsente behaal word.
Die verskil tussen die potensiële en werklike opbrengs word die
opbrengsgaping genoem. Dit is ‘n aanduiding van die doeltreffend-
heid van produksie. Daarom: Hoe kleiner die opbrengsgaping, hoe
beter slaag die produsent daarin om die reënval te benut.
Kan die opbrengsgaping verklein word of selfs uitgewis word? Die
meeste van die belangrike oorsake van die opbrengsgaping kry
die nodige aandag van ons produsente. Onkruid word effektief
bestry, bemesting word in die regte hoeveelhede toegedien, ‘n
goedaangepaste kultivar word gewoonlik teen die regte plantdigt-
heid geplant en die beheer van plae en die mees-ooglopende siektes
is gewoonlik voldoende.
Een baie belangrike faktor wat die opbrengsgaping in baie gevalle
aansienlik kan verklein, is die onderskepping van reënval. ‘n Groot
deel van die reën wat op baie lande val, gaan verlore as afloop.
‘n Element wat aanleiding gee tot afloop, is reënbuie met ‘n hoë
neerslagintensiteit, waaraan niks gedoen kan word nie. Die ander
element is korsvorming op die oppervlak van die grond wat deur
reën veroorsaak word. Met bewerking word die aggregaatstabiliteit
van die grond vernietig of ernstig benadeel en ‘n deel van plant-
materiaal, indien enige, wat die grond beskerm, word ingewerk.
Met die eerste reën wat val, veroorsaak die impak van die reën-
druppels dat ‘n infiltrasiekors baie gou vorm en afloop is die ge-
volg. Deur die grond nie te versteur nie en plantreste te behou,
word die vorming van ‘n infiltrasiekors beperk of selfs voorkom
– wat die afloop heelwat kan beperk.
‘n Studie wat gedurende die 1988/1989-seisoen naby Potchef-
stroom op ‘n sanderige leemgrond met 16% klei uitgevoer is,
demonstreer die invloed van ‘n oesresdeklaag baie goed. Klein
persele is teen ‘n helling van 5% op bewerkte grond (gereed om
geplant te word) uitgelê en afgeskerm om die afloop te kan meet.
Van die persele is met die ekwivalent van 3 ton oesreste per hektaar
bedek en ander sonder bedekking gelaat. Die afloop is vir tien
agtereenvolgende reënbuie gemeet. Die totale reënval was 316 mm,
waarvan slegs 15 mm vanaf die bedekte persele en 201 mm vanaf die
onbedekte persele afgeloop het.
Gemeet aan die waterproduktiwiteit wat hierbo genoem is, het
2,9 ton mielies per hektaar met die afloop van die kaal grond verlore
gegaan en slegs 0,2 t/ha op die bedekte grond. Die opbrengsver-
skil wat die bekamping van afloop kan meebring, word deur resul-
tate van bewaringslandbouproefwerk wat by Ventersdorp uitgevoer
is, bevestig.
Oor ‘n periode van ses jaar was die mielie-opbrengs van bedekte,
onbewerkte grond 1,8 t/ha hoër as dié van kaal konvensioneel-
bewerkte grond. Dié opbrengsverskil is grootliks deur die verskil in
afloop teweeggebring.
Graan SA/Sasol fotokompetisie
Aangesien reën die belangrikste beperkende faktor vir gewasverbouing is, is dit logies dat alle
pogings aangewend moet word om dit so doeltreffend moontlik te benut.