Background Image
Previous Page  106 / 124 Next Page
Basic version Information
Show Menu
Previous Page 106 / 124 Next Page
Page Background

Maart 2015

104

Hoe akkuraat was die

Oesskattingskomitee?

D

ie 2013/2014-produksieseisoen, veral in die westelike

dele van Suid-Afrika, sal as een van die beste in terme

van landboutoestande onthou word, als te danke aan

reën wat op net die regte tyd voorgekom het. In hierdie

artikel word ‘n oorsig van die verloop van die oesskatting vir die

2013/2014-produksieseisoen (pas afgelope seisoen) gegee. Daar

word gepoog om te kyk hoe die Nasionale Oesskattingskomitee

(NOK) sedert die bekendmaking van die eerste produksieskatting

(Februarie 2014) tot die finale mielie-oes (Februarie 2015) verander

en afgewyk het. Die bekendmaking van akkurate en tydige inligting

is van kritieke belang aangesien dit ‘n direkte impak op prysvorming

in die vrye mark het.

Verloop van die

2013/2014-produksieseisoen

Die seisoen het afgeskop met grondvogvlakke wat feitlik uitgeput

was in die westelike dele van die land. Hierdie situasie het

egter handomkeer verander as gevolg van tydige reën wat die

grondvog beduidend aangevul het. In die meeste van Suid-Afrika

se produksiegebiede het voldoende opvolgreën geval wat tot

rekordsomergraan- en oliesaadopbrengste bygedra het.

Onderskatting van die witmielie-oes

In

Grafiek 1

kan die maandelikse produksieskattingsyfers vir

witmielies, vanaf die eerste skatting (Februarie) tot die finale skatting

(September), soos bekend gemaak deur die NOK, gesien word.

Die rooi lyn dui die gerealiseerde witmielie-oessyfer wat Februarie

2015 bekend gemaak is aan en die verskil tussen dié syfer en die

maandelikse skattings (geel) is duidelik sigbaar. Die toename in

produksieskattings danksy die gunstige produksietoestande kan

vanaf Februarie tot Mei duidelik waargeneem word, waarna die

skattings vanaf Junie tot September feitlik dieselfde as die finale

skattings wat Februarie vrygetel is, was.

Oorskatting van die geelmielie-oes

In

Grafiek 2

kan die maandelikse produksieskattingsyfers vir

geelmielies, vanaf die eerste skatting tot die finale skatting, gesien

word. Oor die algemeen is goeie geelmielie-opbrengste behaal

en die toename in die geelmielieproduksieskattingsyfers is ook

duidelik sigbaar in die grafiek. Soos die gunstige landboutoestande

in die oostelike dele van die land voortgeduur het, het die verwagte

geelmielie-opbrengste ook toegeneem. Die NOK se eerste skatting

in Februarie vir geelmielies was 5,854 miljoen ton teenoor die werk-

like grootte van die finale oes wat 6,540 miljoen was. Die NOK het

die geelmielie-oes gedurende die laaste twee skattings (Augustus en

September) met ongeveer 69 700 ton oorskat.

Norm waarbinne die NOK moet skat

In Suid-Afrika het die graanindustrie ‘n norm/grens vir die Oes-

skattingskomitee gestel waarbinne die oesskattings moet wees,

naamlik om vanaf die eerste tot die vierde skatting (Februarie tot

Mei) nie meer as 8% vanaf die finale oes af te wyk en om vanaf

die vyfde tot die agtste skatting (Junie tot September) nie meer as

5% vanaf die finale oes af te wyk nie.

Grafiek 3

dui die boonste en

onderste aanvaarbare grens waarbinne die Oesskattingskomitee

moet wees, aan. Indien die skatting (syfer) op ‘n groter afwyking as

die toelaatbare norm/grens dui, kan daar met retrospek na ‘n oor-

of onderskatting verwys word. In die grafiek kan gesien word dat

die afgelope seisoen se skattings afsonderlik vir wit- en geelmielies,

vanaf Februarie tot en met April buite die gestelde norm/grens

geval het. Met dié dat die wit- en geelmielie-oes albei gedurende

Februarie tot en met April onderskat is, het dit meegebring dat

die totale mielie-oes ook gedurende daardie periode onderskat is,

waarna dit vanaf die vierde skatting (Mei) tot die finale skatting,

baie mooi tussen die voorgestelde norm/grense beweeg het.

Slotsom

Dit is vir Graan SA, saam met die Oesskattingskakelkomitee

(CELC), van kardinale belang dat geloofwaardige skattings vryge-

stel moet word. Die bepaling van korrekte gemiddelde opbrengste

is een van die NOK se moeilikste take, aangesien klimaat so ‘n groot

rol speel. Uitgesluit die ongewenste afwykings wat afsonderlik vir

wit- en geelmielies gedurende Februarie tot April voorgekom het,

was die res van die skatting baie goed binne die norm/grens.

OP PLAASVLAK

Produksieskatting / Afgelope produksieseisoen / Oesskatting

Inligting

PETRU FOURIE,

ekonoom, Bedryfsdienste, Graan SA

Grafiek 1: Witmielies: Maandelikse produksieskatting versus finale oes

(2013/2014-produksieseisoen).

Grafiek 2: Geelmielies: Maandelikse produksieskatting versus finale oes

(2013/2014-produksieseisoen).

Grafiek 3: Die persentasie oor-/onderskatting van die mielie-oes teenoor

die finale oes (2013/2014-produksieseisoen).

– 13 Februarie 2015