SA Grain March 2014 - page 121

119
March 2014
Die veilige Volvo V40 vuurwa
d
ie diesel-aangedrewe Volvo V40 D3 Geartronic Excel
was een van die nege finaliste vir die 2014 Suid-
Afrikaanse Wesbank Motor van die Jaar-toekenning. Hy
was die enigste dieselaangedrewe voertuigkandidaat
wat hieraan meegeding het. Die ander finaliste is almal
hoëwerkverrigting motors, soos die Jaguar F-type,
die Porsche Cayman en die Mercedes Benz A45 AMG. Dit wys dat
vanjaar se motormode vuurwarm wiele is.
Die Volvo V40 D3 was egter nie buite sy gemaksone tydens die
toetsdae wat in Januarie vir die beoordelaars gehou is nie. Die
finaliste is deur die 25 beoordelaars op die Gerotek-toetsbane
buite Pretoria geneem, waar verskeie padtoestande nageboots word.
Die voertuie is byvoorbeeld op hoë snelhede op ‘n spesiale ovaalbaan
getoets asook op ‘n baan wat verskeie padoppervlaktoestande
verteenwoordig om die motors se vering en rygemak te evalueer.
In al hierdie omstandighede het die Volvo V40 D3 uitstekend gevaar.
Die Volvo V40 D3 word as ‘n luikrug geklassifiseer, maar eintlik
is dit ‘n kompakte stasiewa. Met ‘n totale lengte van 4 369 mm is
dit net 26 cm korter as sy grootboet, die V60. Daar is genoeg plek
vir vier volwassenes met genoeg spasie vir hulle vakansiekoffers.
‘n Groot pluspunt is dat al is hy effens kleiner as die groter
Volvo V60, is die Volvo V40 besonder veilig. In botsingtoetse wat
deur die Europese Motorveiligheidsinstituut, die NCAP, met die
V40 gedoen is, het dit die hoogste punte nog ooit vir ‘n voertuig
verkry. Dit het byvoorbeeld ‘n buite-lugsak wat sal ontplooi as dit ‘n
voetganger of selfs ‘n groot dier, soos ‘n bok of ‘n donkie, tref. Die
idee is dat dit nie net veral kopbeserings van die voetganger sal
verminder nie, maar ook die voertuig se voorruit en sodoende ook
die insittendes van die voertuig sal beskerm.
Net soos die groter Volvo’s het die V40 ook die sogenaamde
“gevorderde stabiliteitskontrole” wat die onderstel elektronies be-
heer om vroegtydig glybeheer toe te pas. Die onderstel word ook
verder elektronies ondersteun met ‘n padklou-sisteem wat onder
meer inskop wanneer daar vinnig in draaie in gery word. Die onderstel
werk dan teen die laterale kragte om te verseker dat die voertuig nie
buite beheer raak of selfs rol nie. Hierdie voordeel was duidelik met
die 2014 Motor van die Jaar se evaluasieprosesse waarneembaar,
waar dit soos ‘n neet op die gly- en renbaan gesit het. Die remme is
‘n krag ommee rekening te hou en dit is gerusstellend om te weet dat
dié voertuig se remme van die beste is wat motortegnologie bied.
Die V40-reeks kom in verskeie turbo-ondersteunde petrol- en
dieselenjins uit. Die V40 D3 het die grootste van die twee beskikbare
diesel-enjins, die 2 liter vyfsilinderdieselenjin. Hierdie enjin het ‘n
kraglewering van 110 kW teen 3 500 rpm en hy bereik sy maksimum
wringkrag, van 350 Nm, tussen 1 500 rpm en 2 750 rpm. Sy
topsnelheid is 205 km/uur en hy wikkel van 0 tot 100 km/uur in net
9,3 sekondes. Nie te sleg vir ‘n diesel nie. Nou kan ‘n mens verstaan
hoekom hy onder die nege finaliste vir Motor van die Jaar was.
Ondanks al die krag, is die V40 D3 uiters brandstofekonomies. Dit het
‘n amptelike gemiddelde brandstofverbruik van slegs 6,4 liter/100 km
in ‘n gekombineerde siklus van stads- en ooppadverkeer. Die Volvo
V40 D3 is toegerus met ‘n ses-spoed dubbelgangratkas. Dit wil sê dit
kan outomaties wees, of met ‘n skuif van die hefboom ook verander
na ‘n handrattoepassing.
Die V40 bied op beide teer- en grondpad ‘n besonderse gerieflike
rit. Op die teerpad kan jy lang ritte onderneem sonder om as
bestuurder of passasier daardie vuisvoos-moegheid van die langpad
te ervaar. Op ‘n grondpad kom sy sterk onderstel en die elektroniese
stabiliteitskontrole ten volle in werking om ‘n padvaste rit te verseker.
Min voertuie gee jou soveel rygenot, veral met die wete dat dit een
van die veiligste voertuie op die pad is. Enige persoon wat in gebiede
ry waar daar voetgangers en diere die pad kruis, behoort die V40 te
oorweeg.
Die Volvo V40 D3 Geartronic Excel is een van die luukse modelle in
die V40-reeks en is daarom toegerus met standaard luukse items wat
‘n mens van ‘n voertuig met ‘n prysetiket van R353 700 verwag. Vra
vir dit en dit is daar.
Diensintervalle is elke 20 000 km, maar elke 10 000 km moet dit ook
‘n olievervanging ondergaan. Die V40 het ‘n vyfjaar/100 000 km-
waarborg en ‘n onderhoudsplan. Volvo handelaars is landswyd in
die hoofsentra beskikbaar.
GERRIE SMIT,
lid van die SA Motorskrywersgilde
WIELE
vir die plaas
1: Die Volvo V40 wys sy padvastheid op ‘n
glybaan tydens die Motor van die Jaar-toets-
dae in Januarie vanjaar.
2: Die Volvo V40 D3, luuks, padvas, ekono-
mies en waarde vir geld.
2
1
1...,111,112,113,114,115,116,117,118,119,120 122,123,124
Powered by FlippingBook