120
Maart 2014
Beste Grootneef
k
yk, dese dae kry jy nasionale
dae vir elke ding denkbaar. Dis
Nasionale Braaidag, Nasionale
Staakdag (dit is elke dag),
Moedersdag, Vadersdag en die
dag van die groot verdrukking
(dis nou elke man se troudag).
Ou Neef, anderdag in die “ma-pick-en-pa-
pay” se winkel, sien ek perskes te koop
– sulke lekker taaipitgeles. Die goed lê los
en dan moet jy dit laat weeg vir ‘n prys
– die skaal trek die goed toe op R16,99/
kg. Net daar besluit ek basta met mielies,
nou plant ek taaipitgeelperskebome by die
hektaar...Ek meen, dit is R17 000 per ton!
Ou Neef, met die enkele perske geweeg
en gekoop teen R16,99/kg, sit ek toe en
terugdink aan ons eie Nasionale Skildag
van toeka. Dié was gewoonlik jaarliks in
Februarie. Maar dit was nie sommer vir skil
nie – dit was ‘n hele prosessie. Skildag was
ook nie elke jaar op dieselfde dag nie, die
dag het homself aangekondig wanneer die
taaipitte begin geel-wang maak het.
Die dag van die groot skil is voorafgegaan
met ‘n toetslopie in die boord met ‘n lekker
skerp knipmes. Dan is daar hier gepluk
en daar geproe, net om seker te maak die
bome besluit saam dat die oes reg is. As die
steekproef geslaagd was, met die geelheid
en soetheid van die oes bevestig, is die
Skildag van die jaar afgekondig.
Eers het die vroue gekom. ‘n Streep van die
statte se kant af met helder kopdoeke. Met
die stoor skoon en die bokseil uitgerol, is die
messe geslyp en die skottels uitgedeel. Jy
kan maar sê die span was slaggereed. Die
gekuier van jolige Sotho-stemme het ver in
die oggendlug getrek.
Die manne het dan die boord met lere en
kruiwaens genader en is boom vir boom
vir die oes omsingel. Vele hande maak ligte
takke en vol kruiwaens. Net die heel boonste
perskes is vir die voëls gelos.
Die kruiwaens is volvrag stoor toe, waar
die taaipitgeles eers in ‘n drom water
gedompel is. Vandaar na vrouehande met
flinke vingers en skerp messe. Met die skil
af, was dit een ferm snit rondom en is die
pit uitgedop. En daar lê ta in twee volmaakte
goudgeel helftes!
Die geskilde taaipit is daarna in ‘n emmer
soutwater gegooi, waarna dit op die
droograkke uitgepak is.
Met die jaarlikse Skildag was daar genoeg
vir almal. Wanneer die droograkke volgepak
was, is die res van die oes vort na die skillers
se huise – elk met ‘n mudsak op die skouer.
Kyk, op Skildag het tot die otte geweet dit is
Krismis in Februarie – al die skille is by die
varkhokke afgelewer.
Met die oes veilig op die droograkke, was
dit oor na die son om die perskes droog te
bak. ‘n Geur van somer het getalm wanneer
verby die sonstoep gestap is. ‘n Goeie slot
en grendel was nogal ‘n goeie belegging...
Ná so drie weke het Ma gaan proe-toets om
te kyk of die oes droog genoeg was. As die
sondroogtoets geslaag het, is die perskes
een vir een van die rak losgewikkel en in ‘n
linnesak toegewerk. Dié is dan in die spens
opgehang met ‘n geur wat steeds deur die
linnesak geadem het.
Kom winter, was dit tyd om die droëperskes
met ‘n beesbredie of wildspastei voor te sit.
Winterkos uit die Aga-stoof, wanneer die
ysige suidewind oor die vlaktes gejaag het.
Die anderdag ry ek ‘n agterpad verby die
ou plaaswerf, nou in puin. Deur die draad
kon ek sien dat enkele perskebome steeds
moedig bo die kakiebos uitbeur. In die top
van die een ou boom, kon ek wraggies ‘n
geelperske tussen die blare sien uitloer. Toe
dag ek by myself – die bome onthou nog om
ietsie vir die voëls te los.
Groete op die Oosgrens
Kleinneef
E-POSSE
aan Groot neef
Skildag
Lesers is welkom om ‘n e-pos aan Kleinneef te stuur by