

83
July 2016
Hy beklemtoon ook hoe belangrik rekordhouding en beplanning is.
“Om te meet, is om te weet. Sonder goeie rekords, is beplanning
uiters moeilik. ‘n Mens se geheue is maar kort – en ek sê dit uit eie
ondervinding. Historiese inligting, hetsy oor produksie of finansieel,
is al hoe jy sal weet of daar vordering gemaak word.
“Hierop kan foute of goeie besluite uitgewys word, waarop daar
dan vir die toekoms voortgebou kan word. Sonder presisieboerdery
het my boerdery waarskynlik vandag nie meer bestaan nie. En dit
maak júís produksierekords en beplanning heelwat makliker, want
nou kan ek elke stukkie van my grond meet, aanpas en beplan. Dele
wat nie ekonomies is om te bewerk nie, word nie meer geplant nie,”
antwoord hy.
Jaco brei uit oor presisieboerdery. “Waar ek boer is die gronde nogal
wisselvallig. In normale jare wissel mielieopbrengste maklik tussen
2 t/ha en 10 t/ha in dieselfde stroperbaan en juis daaroor kan jy nie
alles op dieselfde manier bestuur nie. Die meer effektiewe manier
van benutting maak ‘n wesenlike verskil in winsgewendheid.”
Hy het agtergekom dat – selfs na 15 jaar se varieerbare toediening
– sekere goeie dele steeds net beter raak. “Ek doen varieerbare
toediening van kalk, kunsmis, saad en chemiese middels en as
gevolg van spoorverkeerstelsel het ek ook stuurstelsels op die
meeste van my trekkers. Data-integrasie is uiters belangrik en
daarom gebruik ek ook net een maatskappy se toerusting.”
Oor produksiepraktyke
Jaco het nie net een gewasverbouingstelsel wat hy op al
sy grond toepas nie. Hy gebruik verskillende stelsels. Op
sommige gronde (30%) pas hy geenbewerking (
no-till
)
toe met gewasrotasie tussen mielies en sojabone.
“Hierdie gronde het ‘n hoër klei-inhoud en ander
eienskappe wat dit geskik maak vir geenbewerking.
Op die ander 70% pas ek verminderde bewerking
toe, maar met ‘n diepripaksie van tyd tot tyd. Dit
is nie noodwendig elke jaar nie, maar hang van die
grond af.” Hier volg hy ‘n gewasrotasie van mielies,
sojabone en soms sonneblom.
Die produksie van gewasse hang nóú saam met
die kwaliteit van die grond. “Hoe beter die grond
(biologies, chemies en fisies), hoe beter die produksie.
Ek poog om konstant my grond te verbeter deur
bemesting, bekalking en verbouingspraktyke.
In die meerderheid van gevalle is dit net
iets kleins wat gedoen word, wat ‘n groot
verskil kan maak.”
Hy glo ook aan ‘n wisselboustel-
sel. “Heelwat werk is al in die
verlede hierop gedoen en die
uitwerking van monokultuur
is deeglik gedokumenteer.
‘n Produsent moet ook
finansieel kan oorleef – en
daarom moet jy maar jaarliks
die somme maak.
“Ons weet wisselbou is goed vir
die grond, maar as dit finansieel nie
sin maak nie, is dit moeilik. Ek pas al vir
baie jare wisselbou toe – aanvanklik was dit
op mielies en koring, maar die kompeterendheid
van koring en die wisselvalligheid van opbrengste
op koring in ons gebied, het die risiko net te groot
laat word.
“Dit is waarom ons oorgeskakel het na sojabone, maar ons in
die weste het nog heelwat uitdagings wat sojaboonproduksie
betref. Sojabone se vatbaarheid vir droogte bly ‘n besondere
uitdaging en ons sal moet leer om dit te bestuur. Ons kry egter goeie
resultate met wisselbou en vogbestuurstelsels,” sê hy.
Jaco Minnaar se betrokkenheid
by georganiseerde landbou het by
die Hennenman Boerevereniging
in 2001 begin – eers as sekretaris
en later as voorsitter. Van 2003
tot 2010 dien hy op Vrystaat
Landbou se uitvoerende bestuur
en is sedert 2010 op Graan SA se
hoofbestuur. In Maart vanjaar is
hy as voorsitter verkies.