Februarie 2014
64
Die weer is deurmekaar
– Februarie 2014
Beste Grootneef
D
ie somerreën het eintlik eers net voor Kersfees in ons geweste
begin val. Begin Desember was die veld nog vaal en kaalgevreet
en het die vee regtig swaar gekry. Die grootste geskenk was die
reën in die week voor Nuwejaar. En tipies Vrystaat, het die rooigras- en
borseltjievelde binne twee weke uitgeloop. Die beeste lê nou vroegmôre
al by die dam en herkou – dik gevreet aan die milde weiding.
Ou Neef, verlede week sien ek op een bladsy in die Volk se blad twee
berigte van twee kante van die aardbol, maar met baie raakpunte. In
Australië het hulle in die hinterland temperature van 50°C en meer
opgeteken, op sommige plekke die hoogste temperature sedert dit
gemeet word. (Seker een van die redes waarom die Ingelse krieketspan
in die land van die Aus verwelk het!) Aan die anderkant van die planeet
lees ek weer van die ongelooflike koue in die noordelike deel van die VSA
en Kanada. Die grootste waterval op aarde, die Niagra Valle, het plek-
plek verys! Nou moet jy weet, as só ‘n massa vallende water in ys stol, is
dit selfs vir ysbere koud. Temperature van -33°C is in ‘n dorpie “Hell” in
Michigan gemeet! Waar die plek sy naam gekry het (in sulke koue), kan
‘n mens net raai...
Op die oog af het die Aussies se hitte en die Yanks se koue niks met
mekaar te doen nie. Behalwe dat dit ekstreme weersomstandighede
weerspieël en sommige wetenskaplikes skryf dat dit die gevolge van
aardverwarming is.
In die wêreldwye debat oor aardverwarming, is reeds baie gesê oor die
mens se rol al dan nie, om die weer so deurmekaar te maak. Sommige
wetenskaplikes sê die weer was maar al die eeue so met siklusse warmer
en kouer. Ander sê weer, mense en hul fabrieke ontwrig die atmosfeer
en dat te veel CO
2
gasse deur industrieë losgelaat word, vandaar dat die
weer so deurmekaar reageer.
Die Panamakanaal (vanjaar 100 jaar oud), word tans opgegradeer
om hopelik teen 2015 wyer en dieper skepe deur te laat. Sommige
wetenskaplikes beweer egter dat die Noordpool se ysplate as gevolg van
aardverwarming so vinnig smelt, dat skepe moontlik in sekere maande,
kortpad deur die Arktiese see sal kan vat! Dit sal ‘n gatslag vir die
tollenaars in Panama wees...
Buurman sê as al die ys in die pole smelt en die seevlakke styg, moet hy
dalk nou al belê in ‘n strandhuis op Beaufort-Wes...
Hoe dit ook al sy – die weer is oral deurmekaar. Vir Suid-Afrika voorspel
langtermyn klimatoloë dat dieKaroodiewestelikemielieproduksiegebiede
stadig maar seker bekruip. Die natuur het egter haar eie tyd en ritme, en
nie een van die wetenskaplikes wil standpunt maak om te sê wat wanneer
gaan gebeur nie. Dis amper soos in die vroeë dae, om vir weervoorspellers
te vra waar “elders” is, waar dit so lekker gereën het. Die goue draad wat
egter raakgelees word, is dat ‘n tendens van klimaatsverandering ook in
Suid-Afrika verwag word.
Dit maak dat ons nog meer versigtig met vog sal moet boer. Ons sal
ook al hoe meer moet leer van bewaringsbewerking om op insette te
bespaar. Eintlik is daar net een raad en dit is om betyds aan te pas, want
aardverwarming, ekstreme weersomstandighede en ‘n Karoo wat stadig
maar seker van die weste inwig, moet alles in ag geneem word voordat ‘n
koring- of ‘n mieliepit geplant word. Dit laat ‘n mens dink nè?
Sterkte op die Oosgrens!
Kleinneef
Rubrieke