

112
Beste Grootneef
d
ie Chinese is met die maan gepla – dis amptelik. Hul
beplan om voor Nuwejaar ‘n onbemande tuig Maan
toe te stuur om die Maan se skadukant te verken. Dis
daardie deel van die Maan wat ons nie van die Aarde
af kan sien nie.
Die Chinese soek nou by die mensdom ‘n naam vir die vreemde
tuig. Buurman se stuiwer in die naambeurs is kort en kragtig, maar
dit dra tog ‘n stukkie emosie van die gemoedere in die Vrystaat na
afloop van die openbare grondsessies. Buurman se voorstel aan
die Chinese is om die tuig, “URTU I” te doop, ingeval die ding op
die Maan se agterkant sou vasval.
Ou Neef, luister hoe sing David Kramer op sy rooi kitaar oor die
Aarde en die Maan. Hy vra in een refrein, “as jy na die Aarde van die
Maan af kyk, waar lê noord en waar lê suid?” Dalk lê die antwoord
in die Maan se skadukant, want tans ontwyk die ware noord vir
grondsake ons mense in die Suidland.
Die tweede vraag waarop daar nie ‘n eenvoudige antwoord is nie,
is hoe om tandepasta terug in die buis te kry as dit eers uitgedruk
is. Met die string openbare sittings oor grondvat-sonder-om-
daarvoor-te-betaal, het veral twee menings in die kookpot gedryf.
Een groep hou duidelik nie van Jan van Riebeeck nie. Hierdie groep
het by talle verhore laat hoor dat Jan met die Drommedaris en die
Titanic as rampokker in die Kaap aangekom het en die mense se
grond afgevat het. En daarom moet grond nou teruggevat word.
Die ander mening was dat grond nie in hierdie leeftyd gesteel is
nie, maar dit met baie sweet, trane, voorspoed, teëspoed én rente
betaal is. En dat die meeste boere met Land Bank se lening op
Absa se grond vir die koöperasie boer. Daar loop immers nie veel
kontantboere daar buite rond nie.
Ou Neef, hoe op aarde het ons in een land so ver van mekaar se
noord en suid beland?
So van tandepasta gepraat. Daar is soveel stoom opgebou oor
grond wat afgevat en verdeel moet word, dat dit bitter moeilik sal
wees om die verwagting van kitsrykdom weer terug in die buis
te druk.
Buurman het laat weet dat hy nou soveel geld as moontlik by
die bank gaan leen. Dan kan die bankbestuurder in die nagte wakker
lê oor die land se grondsake.
Maar hoe maak jy jou somme vir die nuwe plantseisoen? Want as
jou plaas nie meer die balansstaat se skaal met sekuriteit in plek
hou nie, wie se geld is dan te leen? Die res van die wêreld werk
nie met iets vir niks nie. Die graanekonomie van wins en verlies en
tonne wat per hektaar nodig is om gelyk te breek, maak besluite voor
planttyd ‘n nog groter uitdaging.
Genoeg van die swaarmoedigheid. Ons mense van die Suidland kon
nog altyd van ‘n afgrond wegstuur wanneer daar hande gevat word.
Dis nou die tyd vir leiers om legendes te word. En om met koel koppe
die pad vorentoe oop te praat.
Intussen is daar steeds musiek op die draadloos en skuim op die
bier terwyl ons Saterdae Curriebeker kyk. As Blokkies net daai
bôl
uit die grondsakeskrum kan haak...Daar is vele drieë wat deur die
landbouspan gedruk kan word. Maak nie saak of jy groot of klein is
nie. Daar is ‘n plek vir elkeen in die span.
Groete op die Oosgrens.
Kleinneef
e-posse
aan Groot neef
Hoe kry ons die tandepasta
terug in die buis?
Lesers is welkom om ‘n e-pos na Kleinneef te stuur by
kleinneef@graingrowers.co.za.
Oktober 2018