59
March 2018
“Onkruiddoder” kan soms ook
‘n vloekwoord wees...
“H
omonieme is woorde wat dieselfde spelling het en
ook dieselfde klink, maar waarvan die betekenisse
verskil.
”
Menige produsent het al tot die besef gekom dat die woord
“onkruiddoder” potensieel ‘n woord sou kon wees wat ook twee
wyd uiteenlopende betekenisse kan hê, afhangende van die konteks
waarin dit in ‘n sin gebruik word…“Hiérdie onkruiddoder gaan jou
probleem oplos” teenoor “Ons weet wat die probleem is – dit is
onkruiddoder…”
Twee kante van dieselfde munt
In die strewe na optimale opbrengste en die vermindering van
opbrengsverliese weens onkruidkompetisie, het onkruiddoders ‘n
onmisbare komponent van hedendaagse landboustelsels geword.
Met onkruidbeheer is ‘n onkruidvrye land egter die een kant van
die munt en die potensiële risiko wat onkruidresidu’s inhou,
ongelukkig die ander kant.
“Residu’s” verwys na die hoeveelheid onkruiddoder wat nog in
sy oorspronklike, of naby verwante vorm, in die grond voorkom
lank nadat dit sy doel gedien het. Hierdie residu’s lei dan tot groot
skade wanneer ‘n opvolggewas, waarvoor die onkruiddoder nie
geregistreer is nie, geplant word.
Hoe lank ‘n onkruiddoder aktief in die grond bly, bepaal sy geskikt-
heid, al dan nie, om in ‘n spesifieke grond en gewasproduksiestel-
sel gebruik te word. Onkruiddoders wat te vinnig afbreek is in
sekere omstandighede minder gewens as in ander, aangesien hulle
nie effektief is met die beheer van later-ontkiemende onkruide nie.
In ander gevalle is onkruiddoders met langer nawerking weer
ongeskik, omdat hul toksiese residu’s sensitiewe gewasse, wat
in gewasrotasie geplant word, kan beskadig. Wanneer daar dus ‘n
beplanning opgestel word, kan produsente nie bekostig om slegs
die komende seisoen se gewasse en gepaardgaande onkruiddoders
in ag te neem nie.
Daar moet seker gemaak word dat daar ook voorsiening gemaak
word vir die opvolggewas, om skade as gevolg van residuele oordrag
van onkruiddoders te voorkom.
Afbraak van onkruiddoders en die
faktore wat hul beïnvloed
Vier faktore wat betrokke is by die afbraak van onkruiddoders sluit
in biologiese en chemiese prosesse, lig en/of verdamping. Alle
onkruiddoders word egter nie deur alle prosesse afgebreek nie.
Mikro-organismes soos alge, fungi en/of bakterieë benut onkruid-
doders as voedselbron of is in staat om dit metabolies af te breek
en dra op so ‘n wyse by tot die afbraak daarvan. Oksidasie, reduksie,
hidrolise en hidrasie is weer chemiese prosesse wat onkruiddoders
vernietig.
In tye van hoë temperature en droogtes kan lig ook onkruiddoders
naby die grondoppervlak direk na toediening afbreek, terwyl
vervlugtiging ook kan bydra tot die minder effektiewe werking van
onkruiddoders.
Alle onkruiddoders word egter nie ewe maklik afgebreek nie.
Grondtipe, kleipersentasie en organiese materiaalinhoud van grond,
grond pH, grondtekstuur, grondmikrobes, bewerkingspraktyke,
loging en plantpopulasie het almal ‘n invloed op hoe vinnig die
onkruiddoder afgebreek word en sy nawerkingsperiode.
Wat bepaal die risiko’s verbonde
aan residu’s?
Verskeie faktore kan ‘n bydrae lewer tot verhoogde risiko’s rakende
residu’s en ‘n groot aantal van hierdie faktore is op een of ander
manier afhanklik van mekaar. Grondmikrobes wat residu’s moet
afbreek, word beïnvloed deur vog en hitte.
Droogtetoestande, tesame met hoë temperature, kan dus bydra
tot verlaagde aktiwiteit en sodoende die afbraaktempo van
residu’s verlaag. Loging sal ook minder kan plaasvind onder sulke
omstandighede. Die graad van loging wat kan plaasvind is weer op
sy beurt nie net afhanklik van of dit reën nie, maar ook of die doder
in só ‘n vorm beskikbaar is dat dit in water kan oplos – wat weer deur
grondtipe, grond pH en ander elemente bepaal word.
Wanneer daar van grond pH, waterstof-ione en verbindings gepraat
word, kan die gesprek redelik tegnies raak. Ons probeer hier ‘n
betreklik vereenvoudigde verduideliking gee, wat nie heeltemal die
hele verhaal vertel nie.
Waarop dit egter neerkom, is dat ‘n groot aantal onkruiddoders
ionies is, wat beteken dat hulle die vermoë het om waterstof-ione
af te gee of op te neem wanneer hulle in die grond beland. Hierdie
eienskap verleen aan hulle die vermoë om verbindings met water,
grond of organiese materiaal in die grond te vorm. Wanneer die
onkruiddoder met die water in die grond bind, is dit in ‘n vorm wat
deur plante opgeneem kan word. Wanneer dit met gronddeeltjies
bind, kan dit nie deur plante opgeneem word nie.
Die pH van die grond bepaal, tot ‘n mate, of onkruiddoders ‘n bin-
ding met die grond en organiese materiaal gaan vorm en of dit eerder
met die water wat in die grondprofiel voorkom, sal bind. In ‘n sekere
sin is dit soos parkeerplekke by die winkelsentrum – jy het óf plek om
te parkeer, óf jy moet maar na ‘n ander winkelsentrum ry.
2,4-D se ioniese aard bepaal, byvoorbeeld, dat dit “suur” eienskappe
het. In ‘n suur grond is die meerderheid van die parkeerplekke by
die watermolekules in die grond reeds geneem. Die doder sal dus
meer geredelik aan die gronddeeltjies bind, wat meer beskikbare
parkeerplekke het.
Wanneer 2,4-D egter in meer alkaliese gronde beland, het die
watermolekules in die grond meer “plek” om die 2,4-D te bind, met
die gevolg dat die doder nou in ‘n oplossing is wat deur plantwortels
opgeneem kan word. Hierdie eienskappe van onkruiddoders kan dus
bydra tot die risiko verbonde aan residu’s.
Kundiges maan byvoorbeeld dat die toediening van kalk nadat
triasien-onkruiddoders met die vorige gewas toegedien is, daartoe
kan lei dat die beskikbaarheid vir opname deur die opvolggewas
verhoog word.
FOKUS
Onkruidbeheer op wintergrane
Spesiale
DR MARYKE CRAVEN, MARLENE VAN DER WALT
en
DR JEANETTA SAAYMAN-DU TOIT,
LNR-Graangewasse, Potchefstroom