Augustus 2018
98
Agri SA “phakisa” met plan
vir plaaswerkers
E
nigeen wat nie besef hoe landbou se werkerskorps af
neem nie, hoef maar net deur die platteland van die
somersaaigebiede te ry. Daar sal hul al die eens netjiese
werkershuise van twee tot drie dekades gelede sien – wat
almal nou met gebreekte ruite leegstaan.
Plaas op plaas het dikwels tien tot 20 van hierdie huise, met dalk
een of twee waaruit daar nog ‘n rokie trek. Die Hexrivier-vallei se
plakkerskamp is ‘n ander voorbeeld hiervan.
Benewens meganisering en nuwe regulasies het die sluiting van
plaasskole weens burokratiese wanadministrasie ook hiertoe by
gedra, deurdat talle werkers deesdae verkies om eerder in die
township
naby die skool te woon. Amptelike statistieke wys dat
die ekonomies-aktiewe bevolking op plase in 1970 ‘n piek van
2,4 miljoen bereik het. Teen 2010 was die beraamde getal
plaaswerkers net 832 348.
Toename in seisoensarbeid
Hiermee saam het seisoensarbeid ook drasties toegeneem. Teen
1994 was 890 000 plaaswerkers seisoensarbeiders – 32% van die
totale aantal plaaswerkers. Sedert daar begin is om statistieke in
die vroeë 1900’s aan te teken, het seisoensarbeid in 2010 vir die
eerste keer die grootste gedeelte van die plaaswerker-arbeidsmag
gevorm. Toe het hierdie komponent, volgens wyle dr Frikkie
Liebenberg van die Universiteit van Pretoria se navorsing,
53% beloop.
Dr Liebenberg het in sy PhD-tesis geskryf dat onsekerhede in
die arbeidsmark vanweë nuwe wetgewing sedert 1994, soos die
Basiese Wet op Indiensneming en die Wet op Verblyfregsekerheid,
veral tot die snelle omskakeling na seisoensarbeid bygedra het.
Plaaswerkerbemagtiging
Agri SA het hierdie uitdaging die afgelope ruk ernstig gepak deur
grootskaals by plaaswerkerbemagtiging betrokke te raak. Dit word
in vennootskap met die regering gedoen en vorm deel van Operasie
Agri-Phakisa, waardeur sogenaamde agropreneurskapsones vir
plaaswerkers geskep word.
“Phakisa is ‘n Sotho-woord wat ’maak gou‘ beteken en Operasie
Agri-Phakisa vorm deel van ons Nasionale Ontwikkelingsplan
om ekonomiese groei en werkskepping te bewerkstellig,” het
mnr Christo van der Rheede, adjunk-uitvoerende hoof van Agri SA,
gesê.
Hy sê daar moet nog baie water in die see loop – onder meer om
al die belanghebbendes bymekaar te trek – maar die Kabinet het
reeds aangedui dat hy in sy skik is met hierdie inisiatief en produ
sente se deelname daaraan.
“Daar moet ‘n volhoubare toekoms geskep word, waar elkeen
na homself en sy geliefdes kan omsien. Nie alle produsente kan kos
bare landbougrond afstaan nie, maar by hul almal is die bereidwil-
ligheid om te help,” sê Van der Rheede.
“Agri SA se betrokkenheid by Agri-Phakisa is in pas met sy verbinte
nis tot maatskaplike programme,” sê hy. Dié bedryfsorganisasie
is een van 161 deelnemers wat vroeër aan ‘n vyf-week-lange
Agri-Phakisa-werksessie deelgeneem het. Ander deelnemers was
van regeringsdepartemente, gemeenskapsorganisasies, vakbonde,
die Verenigde Nasies se ontwikkelingsprogram, die Land Bank,
die Landbounavorsingsraad asook Graan SA.
Sedertdien beplan Agri SA saam met die Departement van
Landbou, Bosbou en Visserye en die Departement van Landelike
Ontwikkeling en Grondhervorming gidsprojekte op grondvlak,
in samewerking met die Pro Agri-groep en lede soos die vrugte
produsent Rossouw Cilliers en suikerrietprodusent Charl Senekal.
Die hoofdoelwitte is voedselsekerheid vir alle Suid-Afrikaners,
sowel as die skep van werksgeleenthede. Agri-Phakisa het sewe
fokus-temas, wat onder meer graan, lewende hawe, grond
hervorming, arbeid en landelike ontwikkeling insluit. Vanuit die
program se 27 inisiatiewe dryf Agri SA plaaswerkerbehuising,
grond-eienaarskap en die agropreneurskapprojek. Dit behels ‘n
holistiese plan om plaaswerkers en hul gesinne te bemagtig deur
volhoubare gemeenskapsentrums gegrond op ‘n vennootskap
tussen produsente, werkers en die regering, te skep.
Van der Rheede noem dit die agridorpkonsep, wat aan plaaswer-
kers titelaktes sal gee op grond wat deur die regering of kommersiële
landbou-organisasies geskenk is. Op dié grond sal huise, skole
en klinieke gebou kan word. Deelname hieraan is heeltemal vrywillig
en gee aan boerderye en ander landboubesighede ‘n kans om daarby
betrokke te raak en sodoende SEB-telkaartpunte te verdien.
Volhoubare werkskepping
Die kerndoel is volgens hom om volhoubare werkskepping vir
plaaswerkers en hul nageslag te verseker. Hy noem die voorbeeld
van die Achtervlei-vrugteplaas in die Piket-Boberg, wat besef het dat
hulle huisvesting vir afgetrede werkers moet bewerkstellig. Vir dié
doel het hulle ‘n nuwe onderneming, FruitLips, gestig.
Drie geslagte van die Eigelaars boer al op Achtervlei en ten
minste 26 gesinne woon en werk daar. Hulle het in Februarie 2014
saam met hul werker-gesinne FruitLips gestig, wat eksklusiewe
handgemaakte marmelades, blatjang en ingelegde vrugte sonder
geur- en preserveermiddels aan kleinhandelaars verskaf. Hulle
produseer tussen 4 000 en 5 000 potjies konfyt per maand, waarvan
die meeste aan Woolworths verskaf word.
Al die water wat in die produksieprosesse gebruik word, word her
win om hul kruie- en groentetuin nat te lei. Die skille en pitte word
gebruik om kompos met Red Wriggler-erdwurms te maak. Die
vrugte vir hul produkte kom meestal van Achtervlei of ander
plase binne loopafstand af, van wie hulle inkoop soos wat dit beno
dig word.
In hul konfytreeks is onder meer bloubessie met boegoe, perske met
vanilla, appelkoos met tiemie en aarbei en pruim wat met rooswater
gegeur is. Hulle produseer ook ingelegde groenvye en marmelades
van suurlemoen, lemoen en pomelo.
Mnr Jacques van Wyk, gehaltebeheerbestuurder, sê FruitLips bied
‘n ander opsie om ‘n behoorlike loon te kan verdien. Dit is nie net
vir Achtervlei se seisoenswerkers in die res van die jaar as hulle nie
op die plaas werk nie, maar ook vir ouer mense wat aftree, maar
wat nog steeds wil werk. Hulle het ‘n permanente werkerskorps
van ongeveer 14 werkers.
aktueel
Marleen Smith,
SA Graan/Grain
medewerker