August 2017
Daar sal altyd ‘n debat wees oor of rusperbandtrekkers die oplossing vir ‘n groot aantal graanprodusente se bewerkingsprobleme is. Die kostes vir die aankoop van só ‘n trekker is heelwat hoër, so is die addisionele effektiwiteit en die ekstra besparing op brandstof die moeite werd?
Aangesien die enigste bron van inligting om hierdie vrae te beantwoord van óf oorsee óf van die vervaardigers bekom moet word, is ‘n klompie produsente wat reeds rusperbandtrekkers besit, gekontak om hul ervaring met ons te deel. Produsente van die Oostelike Hoëveld, Sentraal-Vrystaat en van die watertafelgronde in Noordwes-Vrystaat is in dié verband gekontak.
Soms word die kilowatt van die trekker verkeerdelik as die alfa en omega beskou. As hy net die regte hoeveelheid kilowatt het, is alles reg. Dit is ongelukkig nie die geval nie, omdat soveel energie verlore gaan vandat die enjin aangeskakel word totdat die implement beweeg. Ongeveer 10% van die enjin se krag is verlore as die kragaftakas of PTO gebruik word. Dit is bloot omdat daar koppelaars is wat werk, ratte wat draai en hidrouliese pompe wat moet funksioneer.
Die volgende belangrike kragmeetpunt word by die trekstang gemeet. Dit is op hierdie punt waar die wielglip, trekkermassa en terrein van werk in berekening gebring word. Die kilowatt oorgedra na die grond is wat die effektiwiteit en doeltreffendheid van die trekker bepaal en nie die kilowatt van die enjin na die finale aandrywing nie.
Tabel 1 verskaf handige inligting wat gebruik kan word om vinnig te bereken of ‘n trekker genoeg krag sal hê om ‘n implement te kan sleep.
Uit hierdie inligting is dit duidelik dat die rusperbande die minste trekkrag verloor, ongeag die grondtoestand. Dit beteken ‘n groot besparing in brandstof.
Grondkompaksie
Kompaksie benadeel die groei van gewasse. Behalwe vir die verlies in produksie, vereis dit boonop soveel energie om die verdigting weer op te hef. Grondverdigting word net beperk deur óf die grondoppervlakte te verhoog óf deur die gewig te verlaag; buiten dít is daar nie veel wat gedoen kan word nie.
Indien ‘n 813 mm x 1 000 mm rubberrusperband met een standaard 800/65r32 rubberband vergelyk word, verskaf die rusper-
band ‘n 6,4 keer groter voetspoor. Die gevolg hiervan is laer grondkompaksie en groter stabiliteit.
Weens die hoër kilowatt beskikbaar by die trekstang, kan dieselfde trekker dieselfde implement in dieselfde grond vinniger trek. Die gevolg is dat daar met dieselfde trekker meer werk per dag gedoen kan word.
Volgens een van die produsente waarmee ek gesels het, kan hy nou sy lande in die winter bewerk – wat hy voorheen nie met meer van dieselfde kilowatt trekkers gedoen kon kry nie. Volgens hierdie produsent kan hy ongeveer 30% meer werk per dag
met die rusperbandtrekker gedoen kry. Dié stap bring mee dat hy tydig sy gewasse geplant kan kry – wat weer tot hoër opbrengste lei.
Verlaging in brandstofverbruik
Omdat die wielglip van die rusperbandtrekker heelwat minder as dié van wieltrekkers is, moet daar ook ‘n verlaging in die brandstofverbruik van die rusperbandtrekkers wees. Hierdie produsente noem dat hul dieselrekening per hektaar beduidend verminder het. Afhangend van waar die produsente geleë is, wissel die besparing tussen 10% en 30% per hektaar vir die aksies wat gemeet is. Hierdie besparing maak verseker ‘n verskil in die kostes van die bewerkings en dit kan ‘n gedeelte van die verhoging in die kapitaaluitleg regverdig.
Grondverdigting is ook ‘n aspek wat heelwat bespreking uitlok. As ‘n wieltrekker in ‘n los bewerkte land ry, is daar heelwat verdigting. Die rusperbandtrekkers veroorsaak ook verdigting, maar dit is heelwat minder. ‘n Produsent in die Oostelike Hoëveld noem dat hy in die verlede met sy bakkie in die trekker se spore in die losbewerkte land kon ry sonder dat die bakkie se wiele ingesak het. Noudat die trekkers met rusperbande toegerus is, sak die bakkie se wiele in en kan daar nie meer in die spore gery word nie. Dit is duidelik dat die wielkompaksie beduidend minder is.
Wieltrekkers het ook die nadeel dat die klomp wiele elkeen sy eie spoor en verdigting veroorsaak. Met die rusperband is die oppervlakte wat die gewig moet dra groter, maar die rusperbande verbreed nie die voetspoor nie, dit verleng dit binne standaardrywydtes. Daarteenoor moet standaardrubberbande sywaarts uitgebrei word om dieselfde voetspoor te verkry.
Rusperbandtrekkers hou ook heelwat ander voordele vir produsente in. Die trekkers se beter trekkrag en die groter stabiliteit maak dit moontlik om die beste implemente te sleep. Dit bring ook mee dat ‘n kombinasie implemente wat hoë kilowatt vereis, gebruik kan word.
Uitdaging
Ongelukkig hou die gebruik van rusperbandtrekkers ook sekere uitdagings in. Hul onderhoud is ‘n bietjie hoër as dié van wieltrekkers. Die rusperbande se slytasie is hoër, maar as die regte spoed met die trekkers gehandhaaf word, wil dit blyk of die bande nie soveel slytasie opdoen nie. Dit is belangrik dat die trekkers binne die vervaardigers se aanbevelings gebruik moet word om instandhouding te beperk.
Die kapitaalkoste van die rusperbandtrekker is heelwat hoër as dié van ‘n wieltrekker. Die effektiwiteit en doeltreffendheid van die trekker moet hiervoor instaan. Produsente noem dat die effektiwiteit van die trekkers dan tussen 20% en 30% beter is. Met die meer werk wat die trekker kan doen en die minder diesel wat die trekker gebruik, dra dit by om die hoër kapitale uitleg te regverdig.
Produsente waarsku dat die trekker en implement akkuraat ingestel moet word. Indien dit nie gedoen word nie, kan die waarde van die rubberrusperbande verlore gaan en kan dit daartoe lei dat grondkompaksie verhoog word. Bestudeer die trekkers se handleidings behoorlik. Dit is die moeite werd.
Kontak Pietman Botha by 082 759 2991 vir navrae.
Publication: August 2017
Section: Focus on