October 2012
Goeie speenpersentasies, veral by kleinvee, gaan hierdie somer hoofsaaklik afhang van tot watter mate probleemdiere bestuur kan word.
Die rooijakkals (Canis mesomelas), rooikat (Caracal caracal) en rondloper honde (Canis familiaris) is die predatore wat die vernaamste probleemdiere is. Navorsing by die Glen Landbou Ontwikkelingsinstituut bevestig hierdie stelling.
Oor ‘n tydperk van nege jaar het die Merino en Dorper kuddes by die Glen Landbou Ontwikkelingsinstituut gemiddeld 18,6% van die totale kudde verloor weens hierdie predatore. Tydens die voorspeenperiode (speen op vier maande) is 49,7% van die lammers hoofsaaklik deur rooijakkalse gevang. Hierdie verliese het grotendeels voorgekom tydens die lente-
lamperiode. Sommige ooie kon nie een lam speen in ‘n ses jaar produksiesiklus nie; net om die skaal van die probleem te illustreer.
Die rooijakkals was verantwoordelik vir 70,4% van die totale verliese, die rooikat 10,1% en rondloper honde 19,5%. Die rooijakkals was die hoof-
oorsaak dat die Merino en Dorper kuddes se getal van 1 130 in 1999 gedaal het tot 246 tans. Hierdie probleem is egter nie uniek aan Glen Landbou Ontwikkelingsinstituut nie en volgens ‘n studie deur mnr Walter van Niekerk (Departement van Landbou-ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat), verloor produsente in Suid-Afrika jaarliks tot so veel as R1 390 453 062 as gevolg van vangste deur predatore. Hierdie probleem is wyd onder bespreking tydens boeredae en alledaagse gesprekke.
Verskeie oplossings (dodelik en nie-dodelik) word op die proef gestel. Sommige van die oplossings lewer suksesverhale op, maar die uniekheid van elke plaas, omgewing en groep predatore beïnvloed die suksesvolle implementering van die onderskeie metodes.
Net soos die produsent van ‘n kuddebestuursprogram gebruik maak om sy kudde te bestuur, word daar ook tans na oplossings gesoek om predatore op dieselfde wyse op ‘n plaas te “bestuur”. Ten einde die produsent in staat te stel om dit te doen, is dit noodsaaklik dat die produsent ook die fisiolo-
giese stadiums van die predatore, spesifiek die rooijakkals, verstaan. ‘n Rooijakkals paar slegs een maal per jaar, meestal tussen Junie en Oktober.
Dus is paartyd reeds verby en menige klein jakkalsies is ná ‘n dragtig-
heidsperiode van ± 62 dae reeds gebore of op pad. Tydens hierdie tyd van die jaar konsentreer die teef en die kleintjies hoofsaaklik rondom die gate en die reun dra die kos aan. Ná tien dae gaan die kleintjies se ogies oop en begin hul die gebied rondom die gate verken. Gedurende die eerste vier maande is die kleintjies grotendeels afhanklik van die ouers om kos te voorsien.
Produsente wat tydens die winter en vroeë lente spesifiek rooijakkalse gejag het, se kuddes staan ‘n kans op ‘n beter speenpersentasie. By die Glen Landbou Ontwikkelings instituut is rooijakkalse gedurende bogenoemde tyd verminder en ‘n afname in vangste word reeds waargeneem.
Dit is verseker nie maklik om op koue, onplesierige nagte ‘n dominante rooijakkals te jag nie, maar dit is tydens hierdie tydperk wanneer die impak die hoogste is.
Volgens navorsing deur dr Nico Avenant (Nasionale Museum, Bloemfontein), bereik klein soogdierpopulasies ‘n hoogtepunt in die laat somer en herfs, wat ook dien as goeie voedselbron aan die rooijakkalse. Alhoewel daar dan volop kos beskikbaar is, het die vangste deur rooijakkalse onder die Merino en Dorper kuddes by Glen steeds gestyg.
Die rede hiervoor: Ná ses maande sny die klein jakkalsies tande en het reeds die vangmetode van die ouers bemeester. Met ‘n gemiddelde aantal klein-
tjies van vyf by elke teelpaar, is daar dus nou sewe jakkalse wat vang. Skadebeheer is dan aansienlik moeiliker. Die ses maande oue jakkalse word gewoonlik eerste uitgehaal of geskiet omdat hulle nog dom is. Die probleem blyk of dit opgelos is, maar ‘n nog slimmer, dominante teelpaar het agtergebly.
‘n Deeglike ondersoek moet gedoen word na waar die rooijakkalse se loop-
gebied is en waar die hotspot broeiplek is, voordat daar gejag word. Om in die veld rond te ry en op enige plek te roep, dien geen doel nie.
Hierdie tyd van die jaar het jy te doen met die dominante reun en teef wat eksperts op hul gebied is. Die jakkalsjagter moet dus ook ‘n kundige op hul gebied wees. Neem die volgende punte ook in aanmerking:
Die rooijakkals hou van ooptes en jag veral in die vlaktes, maar deur die dag hou dit van heuwels en berghange waarvandaan die vlaktes bespied kan word.
Die gate kom gewoonlik voor aan die voet van hierdie berghange wat meestal noord-oos front. Dit word aanbeveel dat hierdie gate nie toegegooi word nie, aangesien die teelpare graag terugkeer na dié gate. Merk die gate op ‘n plaaskaart of met ‘n GPS-posisioneringstelsel. Dit sal die volgende jaar handig te pas kom.
Wanneer spore ontleed word, kyk uit vir klein spoortjies ook, rigting van spore asook merkbossies. Hierdie inligting sal die jagter in staat stel om die hotspots te identifiseer, die jagtyd betekenisvol te verminder en sukses te verhoog.
Mnr Lourens Goosen (probleemdierbeampte van Natuurbewaring in die Vrystaat), stel die volgende roepgeluide voor vir jagters wat die nagroepmetode tydens die lente gebruik, om rooijakkalse te skiet:
Begin met ‘n “kos” roepgeluid, byvoorbeeld ‘n vlakhaas of steenbok. ‘n Fyn balans moet gehandhaaf word sodat klanke nie te lank uit mekaar of aanhoudend gespeel word nie. ‘n Riglyn is min of meer tussen twee tot tien minute uitmekaar.
As daar geen reaksie is nie, kan ‘n enkel jakkalsklank gebruik word, byvoorbeeld ‘n teef of jong jakkals (elsneus). Dit is baie belangrik om veral hierdie jakkalsklanke nie te veel te herhaal nie en ‘n tussenpose van 20 tot 30 minute word voorgestel.
Slegs indien daar naby die gate geroep word, kan die dominante reun of die sogenaamde challenge klanke gebruik word.
Goosen lê veral klem daarop dat dit ‘n baie gespesialiseerde jagmetode is en behoorlike opleiding is van kardinale belang.
Die metode soos bo bespreek, is slegs een manier vir die produsent om sy kudde te beskerm en predatore te beheer. Soos vroeër beskryf, bestaan daar ‘n aantal metodes vir unieke omstandighede en omgewings.
Navorsing word steeds gedoen in die gebied van predatore-beheer en verskeie oplossings word ondersoek en oorweeg. Die belangrikste is egter om te onthou dat dit nie gaan oor hoe predatore uitgeroei kan word nie, maar oor hoe om verliese te verminder ten einde voedselsekerheid te verbeter.
Vir meer inligting, kontak Andries Strauss by andries@glen.agric.za.
Publication: October 2012
Section: Input Overview