• Login
  • Search Icon

Riglyne vir die benutting van verdroogde graangewasse en oesreste

April 2015

PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain medewerker en HENDRIK VAN PLETZEN, Voermol Voere

Die omvang van die 2014/2015-droogte in die somersaaigebiede is van so ‘n aard dat daar feitlik geen area is wat nie deur die droogte geraak is nie. Die omvang van die skade wissel tussen gebiede, maar selfs op dieselfde plaas is daar blokke graan wat minder of meer skade het as gevolg van oneweredige reënval.

Dit is so dat graanvorming en dus oesopbrengs in sekere streke geweldig benadeel is, maar ‘n redelike hoeveelheid vegetatiewe groei het plaasgevind. In ander streke is die gewasse baie vroeg beskadig en daar is dus min materiaal op die lande. Ten spyte van die droogte, is daar ‘n redelike hoeveelheid plantmateriaal waarop diere kan oorwinter en dit is ‘n baie groot pluspunt.

Sonder oesreste of verdroogde plantmateriaal sou dit haas onmoontlik wees om vee in die somersaaigebiede te oorwinter. Verskil lende benuttingsmetodes van die plantmateriaal het koste-implikasies en daarom moet deeglik besin word voor mielies net summier afgesny word.

Besluit eerstens oor die heraanwending van die droogtebeskadigde oeste. Gaan dit byvoorbeeld oor die maksimering van winste, oor voervoorsiening aan vee omdat daar niks anders is om te vreet nie, oor moontlike waardetoevoeging van die droogtebeskadigde oeste of oor die beste en goedkoopste oorwinteringsmetode vir vee?

Om ‘n besluit te neem:

  • Bepaal eers hoeveel en watter tipe voer (ruvoer en/of kragvoer) werklik vir die vee benodig word.
  • Bepaal hoeveel ton graan per hektaar geoes kan word.
  • Bepaal met die hoeveelheid graan of die graaninkomste per hektaar die stroopkoste gaan oorskry.
  • Bepaal die hoeveelheid materiaal en graan wat per hektaar beskikbaar is. Daaruit sal die drakrag van die gewas afgelei kan word.
  • Bepaal ook vir hoe lank die gewas en materiaal beskikbaar sal wees.
  • Neem ‘n besluit oor watter alternatief die boerderyverlies sal minimeer.

image

Beweiding op die land

Die heel goedkoopste metode is om die gewas net so op die land te los en te bewei wanneer dit nodig is. Skape benut die graan baie goed en daar is feitlik geen vermorsing nie.

Die grootste risiko is dat skape hulleself sal oorvreet aan graan en groot verliese kan as gevolg van suurpens (asidose) voorkom. Skape moet geleidelik oor ten minste 14 dae op graan aangepas word voordat hulle op die lande gaan en gee daarmee saam 'n produk om suurpens te voorkom.

Voermol Landelek (V15414) is ‘n voorbeeld van só ‘n lek. Maak seker dat die lek medikamente en buffers bevat om suurpens te beperk. In die 14 dae-aanpassingsperiode moet mielies aanvanklik teen 200 g/skaap/dag gegee word vir twee dae en daarna elke tweede dag gelykmatig met 100 g verhoog word.

Vars Landelek moet daagliks naby waterkrippe gegee word om 'n daaglikse inname van ten minste 200 g per 45 kg tot 50 kg skaap te verseker. Landelek bevat ook 26% proteïen en die regte minerale en spoorminerale om tekorte op mielies, graansorghum en sonneblomme aan te vul.

Mielieplante kan reeds in die groenstadium bewei word, maar groen, verlepte graansorghumplante het ‘n hoë blousuurinhoud en moet verkieslik bewei word wanneer die plante heeltemal dood is. Hypo teen 1 kg per 200 liter drinkwater sal help om blousuurvergifting te beperk.

Bonegewasse, soos byvoorbeeld sojabone wat verdroog het, kan baie goed deur skape benut word. Skape moet ook geleidelik oor ten minste 14 dae op sojabone aangepas word om spysverteringsteurnisse te voorkom.

‘n Breek in die wol by wolproduserende rasse kom algemeen voor indien die aanpassing nie geleidelik is nie. Die regte aanvulling op bonegewasse en bonereste is Voermol Molovite (V7266) en 'n daaglikse inname van ongeveer 200 g per 45 kg tot 50 kg skaap is voldoende. Molovite bevat 10% goeie gehalte natuurlike proteïen en die nodige medikamente, minerale en spoorminerale om tekorte op bone en bonereste aan te vul.

Beeste benut verdroogde plantmateriaal op die land baie goed, maar as daar ‘n redelike hoeveelheid graan is (meer as 0,5 ton/ha), vind vermorsing plaas. Pitte wat op die grond val, gaan verlore en beter benutting is moontlik waar skape in kombinasie met beeste wei.

Dit maak sin om die vee in te jaag terwyl die graan nog nat is om verdere verwering en verliese van plantmateriaal te beperk.

‘n Onbeplande brand kan hierdie voer totaal vernietig en daarom moet voorbrande gemaak word waar daar ‘n brandrisiko is.

Maak van kuilvoer

Besin deeglik oor die koste en aanwending van kuilvoer. Om mielies met ‘n enkelrykerwer te sny en uit te ry, gaan ongeveer R1 100/ha kos. Dieselgebruik kan tussen 13 liter/ha en 28 liter/ha beloop.

Hoe hoër die opbrengs, hoe laer sal die maakkoste per ton wees en daar is ‘n hele aantal faktore wat die werklike koste bepaal. Waak daarteen om té vroeg te sny, want alhoewel die blare droog vertoon, kan die stamme nog baie nat wees.

Die ideale vogpersentasie om kuilvoer te sny, lê tussen 70% en 60%. Kerf die materiaal fyn (10 mm - 20 mm) en kompakteer goed om goeie fermentasie te kry. Droogtemielies se stikstofinhoud is normaalweg hoër as dié van mielies wat goed gegroei het. Die suikers in verdroogde mielies is gewoonlik hoog genoeg vir normale fermentasie.

‘n Melkkoei is die mees doeltreffende dier om kuilvoer in geld om te sit. Rantsoene met die maksimuminsluiting van kuilvoer is op aanvraag beskikbaar. Verdroogde mieliekuilvoer kan ook met sukses in voerkraalrantsoene gebruik word of vir beperkte byvoeding om vleisbeeste mee te oorwinter.

Mieliekuilvoer se energiewaarde en veral droogtekuilvoer is te laag om beeste mee af te rond en daarom moet energie in ‘n voerkraalrantsoen bygevoeg word. Melassemeel is ‘n goedkoop bron van energie en dit kan tot 12% van die mieliemeel in ‘n voer kraalrantsoen vervang.

Skape kan ook kuilvoer benut, maar as gevolg van selektiewe vreetgewoontes, is die inname soms nie voldoende nie. Sodra die kuilvoer bietjie uitdroog in die krip, weier skape om dit te vreet. Skape moet ten minste twee tot drie keer per dag vars kuilvoer kry om ‘n goeie inname te verseker.

Stoekmielies

Die kwaliteit van stoekmielies is goed, maar hoë arbeids- en maalkoste veroorsaak dat dit min in die praktyk gedoen word.

Sny, hark en baal

As gevolg van hoë koste, is dit sekerlik die laaste benuttingsmetode om te oorweeg. Baie faktore bepaal koste, maar ‘n riglynkoste vir sny, hark en baal met ‘n rondebaler is ongeveer R701/ha en ongeveer 22 liter diesel per hektaar sal benodig word.

Die kwaliteit van gebaalde mieliereste is hoogstens vir onderhoud, en om beter benutting te kry, moet dit gemaal en met ‘n produk soos Voermol LS 33 (V2678) behandel word. Meng LS 33 in gelyke dele met water en meng 1 liter van die mengsel met 10 kg ruvoer. LS 33 verhoog die smaaklikheid en kwaliteit van enige swak gehalte ruvoer.

‘n Laaste opmerking is dat die herstelvermoë van mielies in baie gevalle onderskat word. Veral jonger mielies kan verbasend herstel mits dit nog reën. Die hoë mielieprys maak dit die moeite werd om selfs by ‘n lae opbrengs te stroop.

Deur net die graan te verwyder, is daar nog baie plantreste om vee mee te oorwinter. Mielieresteweiding se energiewaarde is hoog, maar die proteïenwaarde is marginaal tot laag vir produserende diere, soos lammerooie; koeie met kalwers; en jong, groeiende diere.

Lekaanvulling is belangrik en ‘n lek soos Voermol se Landelek is spesiaal ontwikkel om voedingstekorte op oesresteweidings vir hierdie tipe diere aan te vul. Maak net seker dat die risiko van brand tot die minimum beperk word.

Kontak ‘n landboukundige in jou gebied om behulpsaam te wees met die beplanning hiervan of vir Hendrik van Pletzen by 083 456 3636 of Pietman Botha by 082 759 2991.

Publication: April 2015

Section: On farm level

Search