March 2017
Onkruid is aansienlik nadelig vir gewasproduksie regoor die wêreld. Kompetisie vir lig en voedingstowwe kan opbrengste erg onderdruk en in uiterste gevalle selfs ‘n hele kamp se opbrengs kos. In die Swartland is raaigras sekerlik die nommer een vyand van die koringprodusent. Dit verg ‘n konstante waaksaamheid van die produsent om voor te bly in die beheer daarvan.
Voordat bewaringslandbou, wat op geenbewerking geskoei is, beoefen is, is onkruide meganies deur skaarploeë beheer. Die monokultuurverbouing van koring het ook bygedra tot die opbou van onkruidsaadbanke aangesien die keuses vir chemiese beheer redelik beperk was. Dit het oor tyd gelei tot ‘n toename in onkruiddoderweerstand en gevolglik ‘n verdere beperking in die chemiese arsenaal van produsente.
Die afwisseling van ander gewastipes met koring het nuwe lewe in koringproduksie in hierdie produksiegebied geblaas. Die afwisseling met peulgewasweidings soos medics en breëblaargewasse soos kanola en lupiene (ook ‘n peulgewas) het ander opsies in terme van chemiese beheer teweeggebring.
Die behoud van residu op die oppervlak het ook tot ‘n mindere mate bygedra om onkruid te onderdruk. Die koms van die tandplanters het dit moontlik gemaak om voor-opkomsonkruidbeheer te doen en was baie effektief. Dit was egter nie die alfa en die omega nie en nuwe chemie is so skaars soos hoendertande.
Ons langtermynwisselbouproewe, wat in 1996 begin het, wys dat daar potensiaal in die afwisseling van gewasse (wisselbou) en geenbe werking (no-till) is.
Vir die eerste ses jaar van die proef, wat sy 22ste jaar in 2017 ingaan, is minimumbewerking gedoen. In hierdie tydperk is die grond nog liggies losgemaak met ‘n implement voordat plant plaasgevind het. Sedert 2002 is daar ten volle oorgeskakel na geenbewerking.
Agt wisselboustelsels word getoets waarvan vier stelsels bestaan uit ‘n kombinasie van medic-weidings en kontantgewas(se), drie stelsels waarin daar net kontantgewasse verbou word en monokultuur- koring wat as kontrole dien (Tabel 1).
Tydens die leeftyd van die proewe is ‘n magdom inligting ingesamel – van gewasopbrengste tot die ekonomie van elke stelsel. Die monitering van die onkruidsaadbank was een van hierdie stelle inligting.
Data-insameling
Die bespreking van die data in die artikel sal sekere tendense duidelik uitwys en ook watter stelsels die beste ten opsigte van raaigrasbeheer gevaar het. Die metode wat ons gebruik het om die saad bankgetalle te bepaal, het daarop berus om 40 monsters regoor ‘n kamp vir elke gewas in elkeen van die stelsels te neem.
Die 40 monsters is dan bymekaargevoeg en in saailingbakke onder nette geplaas en besproei. Die bakke is gereeld gemonitor en daar is aangeteken watter onkruide opgekom het. Sodra ‘n saailing getel is, is dit verwyder, sodat saailinge nie meer as een keer getel is nie. Deur die loop van die seisoen is daar dan ‘n totaal verkry – wat dan ‘n aanduiding van die saadbank in die grond is, per m2.
Algemene waarnemings
Uit die resultate blyk dit dat ons, ten spyte van hoë saadbankgetalle, dit regkry om raaigras te onderdruk en gedurende die seisoen te beheer. Dit is egter kommerwekkend dat ons nie daarin slaag om die raaigras uit te roei nie.
Uit praktiese waarnemings gedurende die seisoen wil dit voorkom of ons goeie aanvanklike beheer het, maar dat daar ‘n tweede en derde ontkiemingsgeleentheid later in die seisoen voorkom. Op volgbeheer is nie altyd so effektief nie en gevolglik slaag die laat ontkiemers daarin om saad oor te dra. In Tabel 2 word die verskille tussen die stelsels uitgewys. Raaigrasbeheer in die kontantgewasstelsels (A, B, C en D) was betekenisvol swakker as in die stelsels waar weidings ingesluit is (E, F, G en H).
Die saadbank was deurgaans die hoogste in die monokultuurkampe en die insluiting van slegs een alternatiewe wisselbougewas het beter gedoen. Die stelsel wat die beste ten opsigte van beheer gevaar het, was stelsel G waar weidings afgewissel is met koring en kanola. Daar was nie statistiese verskille tussen die weiding/kontantge wasstelsels nie, maar daar is ‘n groot praktiese verskil tussen 40 plante/m2 en 311 plante/m2 – as dit toegelaat word om saad te maak.
Interessanthede uit die studie
In die volgende paar grafieke gaan ons ‘n paar tendense bestudeer. Soos reeds genoem, was die saadbank die hoogste in die monokultuurstelsel. Kyk ons egter na stelsel B, wat beter gevaar het en waar kanola in een uit die vier jaar ingesluit is, kan die effek van die opbou in die saadbankgetalle met agtereenvolgende jare se Koringverbo ing, duidelik gesien word (Grafiek 1).
Vir elke agtereenvolgende jaar wat koring geplant is, bou die telling op en word dan met die kanola-jaar weer afgebring. In hierdie stelsel is dit van belang dat daar van ‘n triasien-tolerante (TT) kanolakultivar gebruik gemaak word, want dit bied ander chemiese beheeropsies.
‘n Mens boet egter opbrengspotensiaal in deur van die TT-tipe kultivar gebruik te maak. Wanneer jy na die koringopbrengs in hierdie stelsel kyk, verlaag die gemiddelde opbrengs met elke jaar wat koring op mekaar volg. Van jaar een na jaar twee val die opbrengs gemiddeld 250 kg/ha en van jaar twee na jaar drie met ‘n verdere 300 kg/ha.
Grafiek 2 dui die gemiddelde raaigrastellings in drie van die vier weidings/kontantgewaskombinasies aan. Uit die grafiek is dit duidelik dat die saadbankgetalle na die medic-jaar laag is en dan weer optel na die koring-jaar.
Raaigras hou van versteuring van die grond en haat kompetisie. Die voordeel van die peulgewasweidings is dat dit vanself hervestig en daar dus in daardie jaar geen versteuring van die grond plaasvind nie. Die raaigras wat wel ontkiem, word effektief gedurende die seisoen beheer.
Stelsel G se opeenvolging van gewasse toon duidelik die voordele van verskillende wisselgewasse, min versteuring en alternatiewe chemie in Grafiek 3.
Ter afsluiting
Wisselbou werk, want minimale versteuring soos in die weidingsfase is ook beter as in die gewasse waar daar nog van tandplanters (no-till) gebruik gemaak word. Ons is op hierdie stadium nog in staat om die geveg met raaigras binne die produksieseisoen te wen, maar die eintlike vraag is of ons die oorlog wen...En hier is die antwoord kortom: Nee.
Sodra raaigras weerstand teen een chemiese tipe ontwikkel, volg weerstand teen ander tipes vinnig daarop. Nuwe chemie is daar nie, die laaste nuwe chemiese metode van werking is in die 1980’s ontwikkel en sedertdien steun ons op dit wat ons beskikbaar het.
Die antwoord lê in ‘n nuwe denkwyse. Ons sal nie net op chemie kan staatmaak nie. As ons wil vóór bly in die beheer van raaigras, sal die volgende aspekte in die toekoms aandag moet kry:
Kontak dr Johann Stauss by johannst@elsenburg.com vir meer navrae hieroor.
Publication: March 2017
Section: Focus on