• Login
  • Search Icon

PRYSBESTUUR: Hoe bestuur 'n produsent sy verskansingsboek?

May 2012

HANSIE SWANEPOEL, VRYSTAAT MIELIES

Aangesien die plantseisoen nou verby is, is dit noodsaaklik dat produsente aan die prysing van hul graan moet aandag gee. Die prysing van graan is net so krities soos die aanplan ting en versorging daarvan, maar tog is dit dikwels ‘n aspek wat nie altyd die nodige aandag geniet nie.

Die prysing van graan is ‘n kritieke besluit wat in die produksieseisoen gemaak moet word, maar anders as met die versorging van die graan, kan ‘n enkele produsent weinig doen aan die prys daarvan. Dit is dus baie belangrik vir ‘n produsent om sy prysingsbesluite sodanig reg te kry, om munt te kan slaan uit tye wat die mark gunstige pryse bied.

Die eerste en belangrikste stap in die neem van prysingsbesluite is om beplanning te doen. Dit is beter om aan die hand van ‘n voorafuitgewerkte plan goeie pryse te behaal, as om met geluk goeie pryse te tref.

‘n Produsent moet akkuraat vasstel wat die grootte van sy oes kan wees (met ander woorde hoeveel graan hy met gemak vooruit kan prys). Hierdie is die belangrikste deel van die besluit om reg te kry, aangesien daar risiko’s aan oor- of onderverskansing is.

Indien die produsent meer verskans as wat gelewer kan word, kan dit moontlik lei tot verliese indien uitkope gedoen moet word. Andersyds kan daar “verliese” ontstaan indien ‘n klein gedeelte van die oes verskans is en pryse laer verhandel. Indien daar onsekerheid bestaan oor die grootte van ‘n produsent se oes, is dit wys om ten minste ‘n gedeelte van die verskansing met opsies te doen, aangesien opsies ‘n force majeur insluit.

‘n Tweede belangrike aspek is die tyd waarin die oes gelewer gaan word. Aangesien daar ‘n drakoste-element in die prys van graan ingesluit word, kan vroeë graan eerder teen nader kontrakte as teen die verder kontrakte gelewer word; dit impliseer ‘n kleiner drakoste-element sowel as ‘n effe hoër prys in hierdie jaar. Verder gaan vroeë lewerings meestal gepaard met hoër premies.

‘n Laaste element is om te beplan hoe die verskansing gestruktureer gaan word. Hiermee word bedoel dat ‘n produsent vooraf moet besluit hoeveel van sy beskikbare tonne hy op elke prysingsbesluit gaan verskans. Verder moet ‘n produsent besluit of hy opsies gaan gebruik en in watter strukture hy die opsies gaan gebruik.

Byvoorbeeld: Produsent A het 3 000 ton se mielies om te verskans. Hy voel gemaklik daarmee om in vyf geleenthede deur die seisoen 600 ton op ‘n slag te prys. Verder besluit hy om die eerste drie geleenthede te gebruik, as gevolg die onsekerheid oor sy produksie wat dan nog bestaan. Die laaste twee geleenthede gebruik hy net vaste pryse en kan dan ook op hierdie geleenthede besluit of hy van sy opsies wil omskakel na vaste pryse en ‘n gedeelte van die oorspronklike premie terugkry. ‘n Moontlike verloop van so ‘n strategie word in Grafiek 1 aangedui. Alhoewel Produsent A hier later heelwat swakker pryse behaal het as in sy eerste verskansings, kon hy steeds ‘n goeie gemiddelde prys vir sy mielies behaal.

image

Nadat die prysingstrategie bepaal is, is dit belangrik om die strategie op die regte tydstip te implementeer. Hoewel hierdie sekerlik die moeilikste deel van die prysingsbesluit is, kan goeie besluite geneem word deur ingelig te wees oor marktoestande. Daar kan aangeneem word dat Suid-Afrikaanse graanpryse iewers tussen in- en uitvoerpariteit gaan verhandel. Invoerpariteit is die prys wat in die binneland betaal moet word vir graan wat vanaf die buiteland kom. Uitvoerpariteit is die prys wat in die binneland gekry word vir graan wat aan die buiteland verkoop word.

Indien die plaaslike voorraadvlakke hoog is, is die aanbod van graan hoër as die vraag daarna en kan produsente dus swakker pryse verwag, omdat die prys dan na uitvoerpariteit gaan neig. Die teenoorgestelde is ook waar – as voorraad min is, kan produsente hoër pryse verwag, omdat afnemers dan moet meeding vir voorraad of dit invoer.

‘n Goeie wegspringpunt vir enige ontleding in die graanmark is dus om ‘n ontleding te maak van die voorraad wat in die binneland beskikbaar is en te bepaal of pryse na in- of uitvoerpariteit gaan neig. Hier is Graan SA en SAGIS se webruimtes byvoorbeeld van groot belang om die inligting te verskaf.

‘n Verdere aspek om aan aandag te gee, is die prys waarteen verskans moet word om winsdoelwitte te behaal. Indien goeie vlakke deur die mark bereik word, kan sodanig geprys word sodat finansierings- en ander skuldverpligtings afgelos kan word. Die oorblywende tonnemaat kan dan op die ander prysingsgeleenthede geprys word en sodoende kan wins ontsluit word.

Produsente kan baat vind deur bewegings in die mark te benut oor ‘n langer termyn. Die voordeel hiervan lê daarin dat die mark se beweging vasgevang kan word met ‘n kleiner kapitaaluitleg as die fisiese graan en sonder die bykomende koste van stoor. Deur in die mark aktief te wees, kan bykomende waarde ontsluit word en goeie gemiddelde pryse kan in die lang termyn behaal word, eerder as om in een seisoen ‘n prys te probeer bepaal.

Publication: May 2012

Section: Input Overview

Search