October 2018
Produsente word jaarliks toegegooi onder ’n magdom inligting rakende al die verskillende produksiefaktore wat betrekking het op die fisiese en finansiële beplanning van elke bedryfstak op die plaas. By mielies sluit dit onder andere grondbewerking, kultivarkeuse, planttyd, plantestand, bemesting en bekalking, onkruid- en insekbeheer in.
Dit verg besondere insig van die produsent om uiteindelik die regte besluite te neem. Grondkeuse vir die verbouing van mielies word ook al hoe belangriker. Daar bestaan egter dikwels verwarring by produsente oor begrippe soos grondpotensiaal, marginale gronde en opbrengsmaatstawwe.
Bewerings word soms gemaak dat daar nie so-iets soos grondpotensiaal is nie en dat die hoeveelheid en verspreiding van reënval die oorheersende bepalende faktor by opbrengs is. Daarom word fisiese en finansiële beplannings wat gegrond is op ’n sekere opbrengsverwagting of opbrengsmaatstaf ook soms verwerp.
Daar word soms ook beweer dat grondontledings nie veel waarde het nie, omdat daar ’n swak korrelasie tussen grondontledingsresultate en oesopbrengs is. Sulke bewerings dra by tot verwarring by produsente. In hierdie artikel word die faktore wat aanleiding tot verwarring kan gee wat grondkeuse vir mielieverbouing en die sinvolle beplanning van die mieliebedryfstak betref, sorgvuldig ontleed.
Grondpotensiaal
Dit is so dat reënval die oorheersende faktor by opbrengs is, maar kom ons ontleed hierdie stelling sorgvuldig. Mielies neem nie water deur hul blare op nie, maar wel deur wortels in die grond. Daarom is dit vanselfsprekend dat opbrengs, sover dit reënval betref, uiteindelik bepaal sal word deur die mate waartoe die grond in staat is om die reën wat val te absorbeer en te stoor en dit aan die mielieplant beskikbaar te stel.
Die vermoë van ’n grond om reënval te absorbeer, hang onder andere af van die helling van die grond en die toestand van die grondoppervlakte. Hierdie vermoë kan grootliks met behulp van doeltreffende hidrologiese beplanning en bewerkingspraktyke gemanipuleer word. Die feit bly staan dat hoe meer water, wat andersins in die grondprofiel gestoor kon word, wegloop, hoe groter is die uitwerking daarvan op die verbouing van mielies.
Die vermoë van ’n grond om reën te stoor en aan die plant beskikbaar te stel word bepaal deur gronddiepte, die klei-inhoud van die grond en keerlae in die grondprofiel. Hoe meer water die grond in die potensiële wortelsone van die plant kan stoor sonder om versuiptoestande te skep, hoe kleiner word die risiko vir mielieverbouing. Die gegewens in Tabel 1 laat geen twyfel nie dat diegene wat grondpotensiaal ignoreer, ’n bitter groot fout maak.
Gedurende die maksimum watergebruikperiode van mielies rondom saadstoot, bestuiwing en kopvul, is die watergebruik van die mielie (plus verdampingsverliese) ongeveer 6 mm per dag. Dit beteken dat die 30 mm beskikbare water op ’n sandgrond wat 30 cm diep is, slegs vyf dae lank kan voorsien in die mielie se behoefte – met ander woorde vyf dae wat daar water beskikbaar is. Dit beteken ook dat, wanneer die profiel vol water is, ’n kleileemgrond van 90 cm diep, water vir 30 dae tot beskikking van die mielie het.
Weer eens laat Tabel 1 geen twyfel dat verskillende gronde tot ’n groot mate wat potensiaal vir mielieverbouing betref, verskil nie. Ons kan nie reën bestel wanneer ons dit wil hê, of wanneer die vogvoorraad in die grond uitgeput is nie. Daarom is ons verplig om gedurende kritieke ontwikkelingstadiums van die mielie, op water in die grond staat te maak – en dan is die verskil van ’n addisionele tien tot 15 dae beskikbare water op hoëpotensiaalgronde deurslaggewend.
Wat mielieproduksie op die Hoëveld-gebied betref, is dit ’n absolute feit dat produsente op grond van produksiepotensiaal van gronde sal moet begin differensieer tussen hoërisiko- en laerisikogronde – selfs met inagneming van die interaksie tussen mielieproduksie en die huidige wisselende ekonomie van veevertakkings.
Dit beteken dat ons besondere aandag aan ons laerisikogronde sal moet gee – dié gronde wat nie sommer in Januarie en Februarie tydens ’n twee weke-droogte in dié kritieke groeistadium “uit die bus val” nie.
Wortelontwikkeling
Goeie wortelontwikkeling op enige grond is die basis van ’n goeie oes. Indien jy as produsent nou saamstem dat gronde, op grond van vogvoorsiening, wel in produksiepotensiaal verskil, moet daar deeglik besef word dat die ontginning van hierdie produksiepotensiaal geheel en al afhanklik is van behoorlike wortelontwikkeling.
Al sou ’n kleileemgrond van 90 cm diep 174 mm vog kan stoor, sal plante met swak wortelontwikkeling in die boonste 30 cm van ’n grond, nét 58 mm van hierdie water kan gebruik (Tabel 1).
Wanneer gronde dus geselekteer word om risiko vir mielieproduksie uit te skakel, moet wortelontwikkeling behoorlik in ag geneem word. Indien die probleem van vlak en/of swak wortelontwikkeling nie reggestel word of kan word nie, moet selfs gronde wat in staat is om 174 mm vog te stoor (30 dae beskikbare water), as hoërisikogronde beskou word.
Chemiese potensiaal
Wanneer dit gaan oor die ontginning van die volle fisiese potensiaal van gronde wat betref die vermoë van die grond om water te stoor en aan die plant beskikbaar te stel, speel die chemiese potensiaal van die grond ook ’n rol.
Die noodsaaklikheid van goeie wortelontwikkeling dwarsdeur die grondprofiel, ten einde water optimaal te benut, is reeds beklemtoon. Hierdie doeltreffende wortelontwikkeling hang ten nouste saam met die verskynsel van grondsuurheid.
Mielies is in staat om op sommige gronde pH’s (KCl) van tot 4,1 te hanteer. Gewoonlik het hierdie gronde ’n goeie ontleding van Ca (kalsium), Mg (magnesium) en P (fosfor). Dit is egter geen versekering dat mielies jaar na jaar redelik suksesvol op dié gronde verbou kan word nie. Gouer as wat ons besef, stort die wortelstelsel op hierdie gronde in duie en al is die potensiaal ten opsigte van water in die profiel aansienlik hoog, kan die oes nie hierdie vog benut nie: Eerstens as gevolg van swak wortelontwikkeling en tweedens as gevolg van ondoeltreffende opname van water.
Op gronde met ’n pH (KCl) van onder 4,1 moet aanvaar word dat die potensiaal van die plant ernstig benadeel word, afgesien van die Ca-, Mg- en P-status van die grond.
Op gronde met ’n pH (KCl)-waarde van hoër as 4,1 tot by ongeveer pH 4,5 kan uitdagings met wortelontwikkeling nogtans verwag word – veral indien die algemene vrugbaarheid laag is. Lae P-ontledings in kombinasie met grondsuurheid en lae Ca-, Mg- en K-ontledings kan produksiepotensiaal ernstig knou. Lae pH-waardes het ’n beduidende invloed op doeltreffende opname van voedingselemente.
As breë riglyn behoort dit prioriteit te wees om die gronde, wat laerisikogronde is – veral met betrekking tot vogvoorsiening – tot by ’n pH (KCl)-waarde van hoër as 4,5 en verkieslik 5 te bekalk. Daarmee saam moet daar steeds ’n wakende oog oor die P-, Ca-, Mg- en K-ontledings van die grond gehou word. Mielies kan nie net op ’n goeie pH groei nie.
Bogenoemde illustreer ’n kritiese produksiefaktor. Persone en instansies wat grondontledings nie optimaal benut en by bemestingsbeplanning insluit nie, hoort nie tuis in die huis waar die belange van die produsent voorop gestel word nie.
Daar is geen plaasvervanger vir grondontledings nie. Daar mag wel swak korrelasie wees tussen grondontledings en opbrengs, maar wanneer dit kom by die samestelling van die bemestingsprogram en die identifisering en evaluering van hindernisse wat potensiële opbrengs nadelig affekteer, is grondontledings onmisbaar. Dit is veral die geval waar dit gaan oor die ontginning van die volle fisiese potensiaal van gronde in die stoor van water.
Opbrengsmaatstawwe
Indien ons die begrip van fisiese en chemiese potensiaal van gronde aanvaar soos dit in hierdie artikel uitgespel word en die waarde van grondontledings onderskryf, moet ons noodwendig ten opsigte van produksiepotensiaal differensieer tussen gronde vir mielieverbouing, gekoppel aan oordeelkundige kostespandering.
Die faktore wat ’n belangrike rol in die produsent se besluitneming ten opsigte van die produksiepotensiaal van sy mieliegronde speel, word vervolgens saamgevat:
Produksiegeskiedenis – praktiese kennis
Die medium- tot langtermynproduksiegeskiedenis van landeenhede, gekoppel aan die praktiese kennis van landboukundiges en produsente moet, onder wisselvallige klimaatstoestande, as die belangrikste bepalende faktor in die daarstelling van opbrengsmaatstawwe beskou word.
Chemiese ontleding en grondsuurheid
Chemiese beperkings of grondsuurheid het tot gevolg dat die fisiese potensiaal van ’n grond nie ontgin word nie. Pasop vir onrealistiese opbrengsmaatstawwe as gevolg hiervan.
Opbrengsmaatstawwe vir verskillende lande
Dit is noodsaaklik dat elke produsent wat bemesting, sowel as ander produksiekoste-insette betref, ’n onderskeid sal tref tussen verskillende lande of groepe lande. Beplanning en begroting verloor trefkrag indien alle lande oor dieselfde kam geskeer word.
Navorsingsresultate
Dit is belangrik om die navorsingsresultate van alle proewe, op soortgelyke gronde as dié van die produsent, te evalueer wat opbrengsresultate wat van toepassing kan wees op die bepaling van maatstawwe, betref. Sodanige resultate moet praktykgerig aangepas word.
Hidrologiese beplanning
Doeltreffende hidrologiese beplanning, om die volle benutting van reënval volgens die voghouvermoë van die grondprofiel te verseker en terselfdertyd van oormaat vog ontslae te raak, is van groot belang by grondpotensiaalontginning.
Planttyd
Op die Hoëveld is vroeg plant essensieel in die doeltreffende ontginning van opbrengspotensiaal. Spits grondbewerking en saadbedvoorbereidingspraktyke daarop toe om met die minimum reënval so vroeg as moontlik in die seisoen te plant – al is ondergrondvog laag.
Bestuur
Die produsent se doeltreffende bestuur is ’n ander belangrike faktor in die ontginning van die opbrengspotensiaal van sy plaas. Die optimale bestuur van al die produksiefaktore wat ter sake is, is ’n noodsaaklike vereiste. Dit sluit onder andere planttyd, plantestand, kultivarkeuse, bemesting, bekalking, onkruid- en insekbeheer, grondbewerking en saadbedvoorbereiding in.
Wisselvallige klimaatstoestande
Wisselvallige klimaatstoestande het ook ’n beduidende invloed op opbrengs. Uitsonderlike droë jare of uitsonderlike goeie jare moet nie as opbrengsmaatstaf gebruik word nie. Opbrengsgemiddeldes van lande oor die lang termyn is ’n belangriker hulpmiddel in die bepaling van maatstawwe as wat die opbrengs van ’n enkele seisoen is.
Ooroptimisme
Daar moet ernstig gewaak word teen ooroptimisme in die bepaling van maatstawwe. Maatstawwe op grond van produksiekoste-insette van oeste in uitsonderlike goeie jare, of volgens die buurman se opbrengste, kan die produsent ’n klomp geld kos – veral in uitdagende finansiële toestande.
Indien bogenoemde beginsels deur produsente toegepas word, kan fisiese grondeienskappe en grondontledings uit die laboratorium as handige hulpmiddels aangewend word om realistiese maatstawwe daar te stel.
Belangrike boodskap
Beplanning vir te hoë, onrealistiese opbrengste skep onrealistiese verwagtinge by produsente en veroorsaak te hoë produksiekostes. Dit verhoog risiko’s aansienlik wanneer hierdie maatstawwe nie in ’n droë siklus realiseer nie.
Beplan liewer vir laer opbrengste met laer kostes, wat in ’n goeie reënvaljaar nogtans hoër opbrengste sal realiseer en die gevaar van risiko’s en hoë verwagtings aansienlik kan verlaag.
Gee spesiale aandag aan jou hoëpotensiaalgronde wat goeie vogvoorsiening geniet. Grondsuurheid is ’n dief in die nag: Ons kan nie bekostig dat hierdie gronde as gevolg van grondsuurheid uiteindelik hoërisikogronde vir mielieverbouing word nie. Bewaar ons bodem vir die nageslag. Pas die beginsels van doeltreffende hulpbronbenutting op jou plaas toe.
Verwysings
Snyman, HG. April 1989. Produksiepotensiaal van mieliegronde. Die OTKaner.
Publication: October 2018
Section: On farm level