August 2016
PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain medewerker
In die vorige artikel (SA Graan/Grain, Julie 2016) is daar klem gelê op verbouingspraktyke. Daarin is verwys na proefwerk wat destyds by Afgri (toe nog OTK) se proefplaas op Bethal gedoen is, asook maniere om te kyk na die aanpassing van hoeveelheid insette gebruik.
Die belangrikste is egter om grond volgens potensiaal te bestuur. Die fisiese en chemiese grondkartering is van kardinale belang om die realistiese langtermyn-potensiaal van die grond te bepaal.
Presisieboerdery is aanvanklik 'n duur belegging, maar die rendement hieraan gekoppel, maak dit oor en oor die moeite werd. Deur die lande volgens hul potensiaal te bestuur en kalk presies toe te dien, maak al klaar 'n groot verskil. Voorts kan daar deur die lande se vog ook te bepaal, 'n bydrae gelewer word om die produksie te rig.
Natuurlik kan al hierdie faktore aangespreek word, maar as jy nie die essensiële aksies effektief, doeltreffend en veral tydig afhandel nie, is alles 'n verlore saak. Maak dus seker dat jy weet wanneer, waar en hoe dit gedoen moet word.
Landbou se beperkings kan basies tot net twee gereduseer word, naamlik 'n oppervlakte- en 'n geldbeperking. As daar 'n opper vlaktebeperking is, moet die hoogste bruto marge per hektaar gebruik word om die boerdery se wins te maksimaliseer.
As daar 'n beperking op geld is, moet die hoogste rendement op insette gebruik word om die besigheid se wins te maksimaliseer. Gebruik hierdie riglyne verkeerd en wins sal nooit gemaksimaliseer word nie.
In hierdie artikel word daarop gefokus om 'n paar riglyne te verskaf sodat jy self te kan bepaal watter kombinasie van gewasse jy moet verbou. Daar is nie 'n standaardresep nie, net 'n metode om hierdie berekening te kan doen.
Die volgende stappe kan gevolg word om die kombinasie waarmee geboer moet word, te verduidelik en te bepaal:
Deur hierdie metode te volg, word daar seker gemaak dat elke boerdery sy eie unieke verbouingsprogram ontwikkel – wat kan lei na die generering van die maksimum wins waartoe die boerdery in staat is. Dit beteken dat die beperkings van die boerdery in aanmerking geneem word. Die rendemente word gemaksimaliseer as die geld beperkend is en dié stap sal die besigheid se wins maksimaliseer deur die optimale kombinasie van gewasse wat ver bou kan word, saam te stel.
Maak seker dat realistiese opbrengste en produkpryse gebruik word. Weens 'n tekort aan gewasse, is die meeste grane en oliesade se pryse tans naby invoerpariteit. Sodra 'n spesifieke produk meer as die vraag daarvoor geproduseer word, sal die pryse na uitvoerpariteit daal en kan dit produsente negatief affekteer.
As aanvaar word dat die mielieverbruik in die land 11,51 miljoen ton (5,86 miljoen ton wit en 5,65 miljoen ton geel) is en daar word meer as dit verbou, kan mieliepryse van invoerpariteit (soos dit tans is) na uitvoerpariteit daal.
Gegewe die huidige omstandighede, kom dit op R1 500/ton verskil vir geelmielies neer. Die daling vir witmielies kan nog heelwat meer wees. As jy besluit om 'n sekere gewas te verbou, is prysverskansing noodsaaklik.
Gegewe die reënval, is daar vir elke gewas en verbouingspraktyk 'n verwagte opbrengs. Die grond se fisiese eienskappe en chemiese ontledings sal dit bepaal. Marginale gronde moet verkieslik nie geplant word nie. Vestig dit met weiding en benut dit só.
Kom ons neem 'n praktiese voorbeeld om te demonstreer hoe die be rekeninge in die stelsel sal werk:
Mnr Swaartrek boer in die Putsonderwater-omgewing en het 500 ha lande beskikbaar vir graanverbouing. Weens die droogte, is daar vanjaar net R2 miljoen beskikbaar vir graanverbouing. Op die plaas is dit moontlik om drie gewasse, naamlik AA, BB en CC te verbou.
Gewas AA het drie verbouingstelsels waarvan gekies kan word. Die eerste een se opbrengs is 4 t/ha en die koste is R5 411/ha. Die tweede een se opbrengs is 4,5 t/ha en die produksiekoste is R6 799/ha, terwyl die laaste een se opbrengs 2 t/ha en die produksiekoste R4 000/ha is.
Weens onkruiddoder wat voorheen gebruik is, kan net 250 ha met gewas BB en CC beplant word. Die stroperkapasiteit is beperkend vir gewas BB en gewas CC. Vir gewas BB kan derhalwe net 200 ha gestroop word en vir gewas CC net 100 ha. Daar is geen beperking vir gewas AA se verbouing nie en die hele 500 ha kan beplant word.
Stel vir jouself 'n tabel soos Tabel 1 op waarin al die inligting in een oogopslag gesien kan word. Volg die stappe in die hakies (byvoorbeeld A) ná die beskrywing, om die berekeninge in elke lyn te maak.
Vervolgens is gewas CC se rendement die tweede hoogste (R2,05). Daar is 'n beperking op 100 ha vir die gewas, maar die gesamentlike oppervlakte van BB en CC mag nie meer as 250 ha wees nie. Dit wil sê: Daar kan net 50 ha met gewas CC beplant word. Dit kos R282 176,83.
Dit beteken daar is nou R822 511,35 beskikbaar vir gewas AA. Gewas AA, stelsel 1 se rendement is die derde grootste, so dit beteken dat 144,39 ha hiermee beplant kan word.
In totaal is R2 miljoen spandeer en die verwagte bruto marge vir die boerdery is R2 067 955,62. Dit beteken dat daar nou net op 394 ha geboer word. Die res van die lande sal skoon gehou moet word of kan verhuur word.
Tabel 2 verdien ook aandag. Dit is die direk-toedeelbare veranderlike kostes vir gewas AA met verskillende verbouingstelsels. Dit word gebruik om die verskil uit te wys as die verkeerde metode gebruik word om die beperkings aan te spreek. Die doel van enige besigheid is om sy totale wins te maksimaliseer. Volg weer die stappe in die hakies ( ) na die beskrywing om die berekeninge in elke lyn te kan maak.
Volgens Tabel 2 het gewas AA drie produksiestelsels. In die eerste praktyk is die opbrengs 4 t/ha en die bruto marge R5 412/ha. In die tweede een is die opbrengs 4,5 t/ha en die bruto marge R5 697/ha en die laaste een is die opbrengs 2 t/ha en die bruto marge is R1 554/ha.
As jy besluit het om op grond van bruto marge die gewasse vir verbouing te kies, met R2 miljoen vir insette en sou stelsel 2 bo stelsel 1 gekies word, sou die resultaat beteken dat die bruto marge R224 116,29 minder sou gewees het, bloot omdat daar in stelsel 1, 56,95 ha ekstra geplant kon word. Indien stelsel 3 gekies is, sou jy R1 123 000 verloor het. Die laaste verbouingstelsel se bruto marge is só laag dat dit nie eers oorweeg kan word nie.
Pas dus op om die insette te rek om al die beskikbare hektare te plant, want winsgewendheid gaan nie noodwendig oor baie hektare nie. Indien jy oppervlakte jaag, kan dit dalk net die teenoorgestelde uitwerking hê as wat jy dink.
Hierdie voorbeeld bewys net dat as daar 'n finansiële beperking is, die gewasse wat die hoogste rendemente lewer, verbou moet word. Indien daar egter 'n oppervlaktebeperking in die boerdery is, moet die bruto marge per hektaar as kriterium gebruik word.
Sien ook Tabel 2: As daar genoeg geld was om alles te plant en die aanname word gemaak dat net gewas AA verbou kan word, sal daar 'n R142 864,45 verlies wees as die rendement gebruik word as kriterium om die gewasse wat verbou word, te kies in plaas daarvan om die grootste bruto marge per hektaar te kies.
Hierdie voorbeeld wys net weer op die belangrikheid daarvan om hierdie beperkings reg te identifiseer en reg te bestuur. Interpreteer hierdie beperkings verkeerd en die resultaat sal dit duidelik reflekteer.
Vir meer inligting, kontak Pietman Botha by 082 759 2991.
Publication: August 2016
Section: On farm level