July 2016
PIETMAN BOTHA, SA Graan/Grain medewerker en SAKKIE KOSTER, Pioneer
Weens die droë 2015/2016-seisoen behoort daar baie druk op die finansiering van insette vir die 2016/2017- seisoen te wees. Produsente sal sorgvuldig moet besluit waarop hulle hul kosbare fondse gaan spandeer.
Die skep van welvaart bestaan uit twee vraagstukke: Wat geproduseer (ekonomiese probleem) en hoe dit geproduseer moet word (produksieprobleem). Die produksievraag sluit in watter stelsel en watter en hoeveel insette gebruik moet word vir produksie. (Die gewasse wat geproduseer moet word, is weer ‘n vraagstuk vir ‘n volgende artikel.)
In ‘n droogtejaar, soos vanjaar, is die probleemkolle baie duidelik sigbaar. Dit kan gronddiepte, pH-probleme, wortelsiektes of talle ander probleme wees. In hierdie kolle sal ‘n profielgat en die plant se wortels die probleem mooi uitwys.
Potensiaalmikpunte
Die hulpbron, wat insluit grondtipe en gronddiepte, die voedingstatus van die grond en die langtermynreënval van die plaas bepaal die produksiepotensiaal van die spesifieke land of kol in die land. Die produsent moet hierdie hulpbron só bestuur dat dit optimaal produseer deur te kyk na goeie boerderypraktyke – wat insluit be werking, bemesting, onkruid- en plaagbeheer asook wisselbou. As daar ‘n afwyking van die langtermynopbrengste teenoor die pro duk siepotensiaal is, soek die oorsaak en stel dit reg. Maak seker dat die potensiaalmikpunte vir elke land met die grootste omsigtigheid bepaal word. Gebruik hierdie mikpunte en die huidige vogstatus van die grond om die bemestingsaanbeveling en -beplanning daarvoor te doen.
Langtermynbemestingswerk wat vanaf 1979/1980 tot 1995/1996 op Wildebeesfontein (proefplaas van die destydse OTK naby Bethal) gedoen is, se resultate word in Tabel 1 aangedui. In hierdie proef is gedeeltes wat oor- en onder-potensiaal bemes is, getoets. Die effek van noodbemestings is ook getoets.
Uit die inligting in Tabel 1 is dit duidelik dat die hoogste bemestingsvlak nie noodwendig die hoogste opbrengste oor tyd lewer nie. In ‘n spesifieke jaar kan dit wel die geval wees, maar as dit die jaar nie gunstig is nie, kan die opbrengste selfs negatief wees. Bemesting volgens potensiaal gee oor tyd die beste opbrengste. As die koste bygereken word, sal die 20% laer-bemesting se rendement die hoogste wees.
Presisieboerdery
Presisieboerdery is aanvanklik duur, maar die rendemente hierop is net deur en deur die moeite werd. Deur die grond op ‘n ruitverwysing te laat ontleed, kan die kalk en bemestingstowwe op die regte kolle teen die regte hoeveelhede toegedien word.
Oor- en ondertoediening van duur insette, soos kunsmis en kalk, word in die proses voorkom. Dit kan die bemestingsaanbeveling teenoor konvensionele aanbevelings merkwaardig laat verskil, alhoewel dit nie noodwendig die koste gaan verminder nie. Die opbrengste sal egter dramaties verskil en op die ou einde die winsgewendheid ook.
pH
‘n Aanvaarbare pH-vlak in die grond is die basis waarop produksie en die reaksie van ‘n land op bemesting berus.
‘n Absolute minimumvereiste vir mielieverbouing is ‘n pH(KCL) van 4,6, terwyl die norm van 5 en hoër ideaal is. Bekalking van lande sal die elemente soos fosfaat en kalium, wat in die grond vir opname vasgelê is, beskikbaar stel. Op dié manier kan daar dalk ‘n besparing gerealiseer word. Raadpleeg jou landboukundige om te hoor waar jy moontlik kan sny sonder om opbrengs in te boet.
Voedingstatus van die grond
Die voedingstatus van die grond, veral die P- en K-inhoud, is van kardinale belang vir die bepaling van bemestingshoeveelhede wat toegedien moet word. Waar die voedingstatus van die grond opgebou is tot aanvaarbare vlakke, of selfs bo aanvaarbare vlakke, kan dit sinvol gebruik word om ‘n jaar of twee te oorbrug – soos navorsingswerk op Wildebeesfontein in Tabel 1 getoon het.
Uit Tabel 1 is dit duidelik dat daar oor ‘n tydperk van 17 jaar nie werklike groot verskille in opbrengs by die verskillende bemes tingsbehandelings was nie, alhoewel verwag is dat groter opbrengs verskille oor die tydperk verkry sou word.
Die “slegs N-bemesting”, wat die noodbemesting verteenwoordig, het geneig tot laer opbrengste in die laaste paar seisoene – alhoewel dit tot ‘n mate opbrengs gehandhaaf het, soos die langtermyngemiddelde aantoon. Let daarop dat die bemestingsvlak van die proef wel baie goed was en alle elemente reggestel is voordat daar met die proef begin is.
Uit die proef is dit duidelik dat, veral waar P en K voldoende is, daar tog met sukses vir ‘n jaar of selfs twee teruggesny kan word. Die terugsny van N kan wel gedoen word, maar dan moet ‘n N-analise van die grond voor-plant gedoen word en met die landboukundige bespreek word.
In oorwegende sandgronde sal omsigtigheid aan die dag gelê moet word om nie te ver terug te sny nie. Die logingsprofiel van hierdie grond tipes sal in so ‘n geval ‘n groot rol speel.
Ander insette
Daar moet nie net op bemesting gefokus word nie, maar die effek van ander insette moet ook ondersoek word.
Die effek daarvan om ander insette aan te pas, is ook ondersoek. ‘n Proef op Wildebeesfontein is gedoen waar die effek van hoë, standaard en lae insette oor ‘n periode van agt jaar getoets is. Die bruto marges van die verskillende stelsels is oor tyd gemeet en vergelyk. Op dié manier is beide die insette en uitsette binne die stelsel getoets en gemeet. Met hierdie verskillende insette is die stelsels vergelyk. Die resultate word in Tabel 2 getoon.
Uit hierdie inligting is dit duidelik dat opbrengste oor tyd nie dramaties van mekaar verskil het nie. Die hoër insetbenadering regverdig nie noodwendig die styging in produksie nie. By die lae inset benadering is die daling in inkomste minder as die daling in kostes.
Gegewe die prys en insetkoste, kan dit sinvol wees om eerder teen ‘n laer insetbenadering te produseer waar die rendemente op die belegging ‘n bietjie beter is: Presies wat gedoen moet word as fondse ‘n beperkende faktor is.
In Tabel 3 kan ook gesien word dat die bruto marges gehandhaaf kan word as daar oordeelkundig op insette teruggesny word. Dit kan egter nie onbepaald voortgaan nie en moet slegs gebruik word om die volgende jaar of twee te oorbrug.
Verder het hierdie studie bewys dat plantestand wel teruggesny kan word, maar dit moet in oorleg met die saadmaatskappy gedoen word. Elke kultivar het sy eie plek en sekere kultivars sal beter as ander presteer as die plantestand verminder word.
Plaag- en onkruidbeheer
Onkruidbeheer is van kardinale belang en kan met plant teruggesny word van algeheel na stroke, maar onder geen omstandighede moet lande toegelaat word om vuil te word nie. Veral winteronkruide moet baie vroeg effektief beheer word. Produsente moet ook nie waag om in lande te plant waarop daar onkruide is nie. Onkruide is baie sterk kompeteerders en het ‘n drastiese invloed op die opbrengs van enige gewas en moet daarom ten alle tye beheer word.
Insekbeheer kan teruggesny word tot strookbehandelings (op die plant) om kostes te bespaar, maar die geskiedenis van die land is belangrik om te bepaal tot waar teruggesny kan word. Dit is raadsaam om weer eens jou landboukundige te raadpleeg wanneer die beplannings gedoen word.
Al hierdie veranderinge is goed en wel, maar as jy nie die effektiwiteit en doeltreffendheid van jou besigheid verbeter nie, is dit alles verniet.
In ‘n volgende artikel word die metode om te besluit wat geplant moet word, aangespreek. Vir meer inligting kontak Pietman Botha by 082 759 2991 of Sakkie Koster by 083 678 8485.
Publication: July 2016
Section: Focus on