September 2014
PIET CROUCAMP, politieke ontleder
Dit het die afgelope week by monde van die ANC se sekretaris-generaal duidelik geword dat die opsie in terme waar van boere 50% eienaarskap aan plaaswerkers moet afstaan nie in die kru vorm soos deur die Minister van Landelike Ontwikkeling, mnr Gugile Nkwinti, voorsien was, afgeforseer gaan word nie.
Nkwinti se voorstel was waarskynlik nooit op enige beleidskomitee van die regerende party of die staat vir bespreking voorgelê nie en is boonop onversoenbaar strydig met die veronderstellings van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP). Dit is waarskynlik ook so dat die regering nog nie die NOP behoorlik aan die ANC of enige van die ander twee lede van die Alliansie kon verkoop nie. Cosatu, byvoorbeeld, weier steeds volstrek om die NOP by Nedlac te bespreek. Die gevolg is dat die Plan waarskynlik in bepaalde sektore van die ekonomie vaardig kan word en in ander sektore, soos die mynwese, nooit uit die grond uit sal kom nie.
Die vraag is dus; het georganiseerde landbou die opsie wat Cosatu uitoefen tot ons beskikking of sal ons noodwendig moet konformeer tot die regering se wilsbesluite? Met ander woorde, kan ons die Plan verwerp en aandring daarop dat die staat dit weer bedink of kan ons op eie stoom met ‘n wesenlike en aanvaarbare alternatief vorendag kom. Ek twyfel, en om die volgende redes.
Eerstens is landbou in Suid-Afrika te gekompliseerd en divers om ‘n nuwe kompromie te veronderstel. Verskeie boere en landbou-organisasies het reeds op eie inisiatief loodsprojekte of bemagtigingsprojekte vir opkomende produsente van stapel gestuur. Terwyl die staat daarvan kennis neem, word dit nie verreken as ‘n model vir grondhervorming nie. Dit is asof daar ‘n meester-model moet wees in terme waarvan die legitimering van grond plaasvind alvorens die staat en die ANC dit as ‘n alternatief vir die huidige grondbesitmodel sal erken.
In die tweede plek het landbou nie die politieke kapitaal van Cosatu om die staat se betrokkenheid te onderhandel nie. Die staat sal die aard en die omvang van die “nuwe” plan wil determineer, omdat dit is wat intervensionistiese state soos dié van Suid-Afrika doen, maar ook omdat grond ‘n belangrike konsolidasie-fenomeen binne die party geword het.
Terwyl daar twyfel is of grondhervorming werklik die kapasiteit het om populisties te mobiliseer, is daar goeie rede om te glo dat dit effektief as ‘n bindingsmeganisme in ‘n elitistiese patronaatstelsel werk. Grondhervorming is ‘n elite projek, nie 'n dinamika om die peasantry tot konsensus te bring nie.
Wat georganiseerde en kommersiële landbou dus betref, is die opsies nie noodwendig legio nie. Indien ons by gebrek aan konsensus nie die ruimte kan vind om ‘n alternatief te beding nie, moet ons dalk inkoop op die mees pragmatiese alternatief en dan ons beperkte bedingingsmag gebruik om bepaalde dimensies van daardie alternatief te plooi tot ons voordeel. Die NOP bevestig die privaat besit van grond. Jy bly die eienaar van jou plaas. Die 20% grond wat vir die doel van hervorming ingekoop word, word bekom in terme van die beginsel van ekonomiese eenhede en nie die ver brokkeling van gevestigde eenhede nie.
Die aantreklike en noodwendige opsie van grootskaal-produksie kan ook in so ‘n model ingepas word. Daar is dus genoegsame diversiteit opgesluit in die NOP vir die komplekse natuur van landbou in die land en daarmee saam kan die onderskeibare variasies op die spelreëls beding word op ‘n ad hoc-basis. Met ander woorde, graanprodusente kan 'n alternatiewe dinamika beding wat nie noodwendig versoenbaar is met die produksieproses by kleinvee nie. Graanboere kan die ekonomie van skaal-voordele van die NOP aansienlik beter benut as wat tans die geval vir veeboere is.
Internasionale markte hou ‘n bepaalde mededingende voordeel in vir graanprodusente wat in terme van skaal produseer en die voortdurende spanning tussen die staat en landbou is meer as net sleg vir die identifisering en benutting van markgeleenthede. Uiteindelik bring die gesprek ons by ‘n noodwendige konklusie; die druk om grondhervorming of dan die legitimering van grondbesit gaan nie weggaan nie en ons weet reeds dat politieke onsekerheid die Suid-Afrikaanse ekonomie tot by die rand van ‘n resessie gedwing het.
Dit is nie net landbou wat baie vinnig tot ‘n kompromie met die staat sal moet kom indien ons ooit weer teen 3% wil groei nie. Die sakesektor in die algemeen en spesifiek so mynbou, wat verantwoordelik is vir 48% van alle uitvoere, sal dringend hul kapasiteit, invloed en gesag moet kalibreer met dié van die staat. In ‘n kompromie is daar nie noodwendig verloorders nie, maar dit beteken per definisie dat nie een van die betrokke partye se behoeftes en belange ten volle bevredig word deur die uitkomste nie.
Daar is nie ‘n model op die tafel of bedingbaar wat die komplekse belange in landbou-Suid-Afrika kan bevredig nie; ons moet ons verlaat op kompromie. Wat my betref is die NOP een so ‘n opsie. Nie alleen het die staat reeds daarop ingekoop nie, maar verskeie belange in die ekonomie asook behoudende politieke partye in die nasionale wetgewer. Die Plan hou meer voordele as nadele in en die swakplekke of ontoepaslikhede kan herbeding word.
Grondhervorming is ‘n politieke kompromie, maar dit kan landbou ook beide maak of breek in ‘n ekonomiese sin. As ons dink die onsekerheid of die politieke druk van grondhervorming gaan verdwyn, maak ons ‘n groot fout. Ons sal beheer moet neem van die Plan, en daarvoor is dit nodig dat ons inkoop op die kompromie. Die NOP kan net tot wasdom gedryf word as boere self beheer neem van die projek; die staat het geen kapasiteit om dit te maak werk nie, maar sal jou verantwoordelik hou daarvoor.
Publication: September 2014
Section: Relevant