July 2017
Plantsapontledings bied aan die produsent die geleentheid om die voedingstatus van gewasse en hul groeikragtigheid regdeur die seisoen te monitor en sodoende sy risiko te bestuur. In Suid-Afrika is die tegnologie nog redelik onbekend, maar verwysings na sapontledings kan reeds sover terug soos die vroeë dertigs nagespeur word (Pettinger [1931]; Poehlman [1935]).
Bekende internasionale maatskappye bied sapontledings kommersieel aan, waaronder Omex (UK), Ag Vita & Hortus (Australië), NovaCrop (Nederland) en Omnia Nutrilogie® wat in Suid-Afrika gesetel is. Omex doen reeds meer as 40 jaar sapontledings en Omnia se OmniSap®, wat die tegnologie uit Omex verkry het, ontwikkel die konsep reeds 20 jaar in Suider-Afrika en verskeie ander lande soos Australië en Nieu-Seeland.
Doel en plek van sapontleding
Die doel van sapontleding is om die gewas se voedingstatus en groeikragtigheid deur die seisoen te monitor en vervolgens te bestuur. Sapontledings is die skakel tussen ‘n grondontleding en ‘n blaarontleding. Die produsent sal voor-plant sy bemestingsprogram na aanleiding van ‘n onlangse grondontleding en opbrengspotensiaal bepaal, maar na opkoms bied sapontleding die geleentheid om intydse regstellings te maak soos wat die gewas groei en ontwikkel.
Verskil van blaarontleding
Sapontledings verskil basies van blaarontledings in terme van wat ontleed word en waarvoor dit gebruik gaan word.
Met ‘n sapontleding word die sap in die blare en petiole van die gewas onder hoë druk uitgepers, gefiltreer en ontleed. Daar kan dus daarna verwys word as ‘n “bloedtoets vir die plant”. Die resultate gee ‘n aanduiding van die voedingstowwe beskikbaar vir groei op daardie spesifieke groeistadium – dit is met ander woorde ʼn intydse ontleding.
Foto 1 vertoon ‘n voorbeeld van die sodanige hoëdrukperse wat gebruik word om sap te pers. Selfs graangewasse soos mielies en koring het gewoonlik voldoende sap in ‘n minimum volume monster – selfs onder droëlandtoestande.
Alhoewel die fokus van die artikel op graangewasse is, moet genoem word dat sapontledings baie goed op permanente gewasse soos sitrus en druiwe werk. Met ‘n blaarontleding word die blare gedroog, veras en dan ontleed. Anders as met ‘n sapontleding, skets ‘n blaarontleding dus ‘n geskiedkundige prentjie, met ander woorde dit wys vlakke van elemente wat reeds histories in die plant se weefsel ingebou is.
Weens hierdie basiese verskil, kan ‘n sapontleding tekorte of wanbalanse voortydig aandui – nog voor dit op die plantweefsel sigbaar is. Dit is dus moontlik om potensiële opbrengsverliese tydig aan te spreek.
Tydigheid van sapontledings
‘n Verdere voordeel van sapontleding is vinnige resultate – weens die baie kort tydsverloop vanaf monsterneming tot die resultaat. Resultate is gewoonlik binne enkele dae nadat dit by die laboratorium ontvang is, beskikbaar.
Dit maak praktiese regstellings moontlik – in teenstelling met blaarmonsters wat weke neem om resultate te lewer. Daar moet daarop gelet word dat ‘n sapontleding nie noodwendig ‘n blaarontleding vervang nie. Sapontledings is aanvullend tot blaarontledings, wat gewoonlik eers heelwat later in die groeisiklus gedoen word.
Sapmonsters op graangewasse
Onder droëlandtoestande word roetine sapmonsters op graangewasse gewoonlik net voor topbemesting getrek, wat die geleentheid skep om ander makro- en mikro-elemente wat onvoldoende mag wees, saam met die gewoonlik-toegediende stikstof reg te stel.
‘n Opvolgmonster word ook tydens blom gedoen en waar ekonomies haalbaar, kan kritiese tekorte met vliegtuigbespuiting reggestel word. Indien nie, word die sap tydens blom gebruik om die plantermengsel van die opvolggewas met elemente wat tekort skiet, aan te vul.
Onder besproeiingstoestande is sapontledings ideaal en kan monsterneming baie meer gereeld gebruik word om voedingsregstellings gerieflik deur middel van byvoorbeeld ‘n spilpunt, te doen.
Monsterneming
Sapmonsters moet streng volgens voorskrif geneem en vervoer word om akkurate ontledings te verseker sodat dit met onwikkelde norme vergelyk kan word. Sapmonsters het ‘n beperkte leeftyd sonder die regte verpakking en verkoeling. Die korrekte logistiek is onontbeerlik in die verskaffing van ‘n sapontledingsdiens.
Verskeie saplaboratoriums gebruik verskillende plantgedeeltes met ontleding, derhalwe moet daar altyd seker gemaak word van die voorskrifte rakende die betrokke monsterneming. Ontledingsmetodiek en ekstraksiemetodes verskil ook (De Kreij, 1993).
Sommige laboratoriums vries die monsters en ander nie. Sommiges versap die monster, maar ander pers dit. Weens gemelde redes is dit sinneloos om fisiese waardes van een laboratorium met ‘n ander te vergelyk.
Dit is belangriker om seker te maak dat ‘n laboratorium gebruik word wat wetenskaplik-gestaafde norme vir plaaslike omstandighede ontwikkel het. Opbrengspotensiaal het ook ‘n groot invloed op sapelementvlakke en verhoudings wat norme betref.
As voorbeeld verskil ‘n sapnorm vir droëlandmielies dramaties van mielies onder besproeiing. Verder verskil sapnorme vir mielies in die noordwes-gebiede van Suid-Afrika ook van mielies in die Oos- Vrystaat. Dit is krities dat sapnorme aan opbrengs gekoppel word en sover moontlik streekspesifiek is.
Voorbeeld van sapontledingsverslag
Grafiek 1 toon ‘n voorbeeld van ‘n plaaslike maatskappy, Omnia Kunsmis, se sapontledingsverslag. Die ontledings word deur Chemtech laboratoriums gedoen, die eerste en enigste laboratorium in Afrika suid van die Sahara met SANAS ISO 17025-akkreditasie vir sapontledings. Dit sluit al die voedingselemente – van ammonium, stikstof tot silikon – in.
Die ontledingverslag sluit ook Brix, as aanwyser van koolhidraatvlakke (suiker), sowel as sap-pH in. Die elemente is almal reeds vanaf kritiek laag tot hoog geïnterpreteer en netjies met verkeerslig geassosieerde kleure aangedui.
Plantsapontledings is veel meer as slegs ‘n voedingstofontleding
Wat selde besef word, is dat patroonidentifisering ‘n uiters belangrike rol in sapontledings speel. Deur middel van hoofkomponentontleding (PCA) word elemente wat soortgelyke gedrag toon onder sekere toestande gegroepeer, wat dan sekere patrone uitwys.
Sodoende sal ‘n ontleding met hoë ammonium-stikstof- en lae nitraatstikstofvlakke, in kombinasie met lae kalsium- en/of magnesium- of kaliumvlakke, op aluminiumtoksisiteit dui. Dit kan as vroeë waarskuwing vir die produsent dien wat risiko betref.
Grafiek 2 wys ‘n tipiese voorbeeld van ‘n monster met ammoniumtoksisiteit. In ‘n ander geval sal die kombinasie van lae kalsium, fosfaat en kalium op ‘n sterk moontlikheid van wortelprobleme, soos kompaksie of nematodes, dui – sien Grafiek 3. Hierdie tipe patroonidentifisering omskep ‘n sapontleding in ‘n totaal nuwe vlak van insig en toepassings.
‘n Verdere toepassing van PCA is om die gekombineerde elementgroepe te gebruik om beperking in opbrengspotensiaal deur middel van diskriminant-ontleding te voorspel. Hierdie tipe voorspelling stel die produsent op ‘n vroeë stadium in staat om regstellings in terme van voedingstofvlakke te maak en sy gewas se opbrengspotensiaal vanaf ondergemiddeld na bogemiddeld aan te pas.
Brix-ontleding
Die insluiting van ‘n Brix-lesing as deel van ‘n sapontleding voeg ‘n verdere dimensie by. Brix word in grade gemeet en gee ‘n akkurate aanduiding van koolhidrate – veral sukrose – in die plantsap.
Sukrose is die primêre produk van fotosintese in hoër plante en dien as die belangrikste bron van energie en suikervervoer. Sukrose dien as ‘n kritiese bousteen in die groei en die onderhoud van plantweefsel. Gevolglik is ‘n Brix-lesing ‘n aanduiding van die plant se groeikragtigheid en -reserwes.
Plante met hoë Brix-lesings is ook gewoonlik meer teen droogte en rypskade bestand weens die laer wateraktiwiteit in die sap. Die laer wateraktiwiteit is die gevolg van meer suikers en opgeloste stowwe in hoë Brix-gewasse.
In die geval van vrugte en groente, sal gewasse met hoër Brix-waardes langer rakleeftyd en beter turgiditeit en smaak besit. Gewasse onder stremming produseer hoër styselvlakke ten koste van sukrose.
Sukrosevlakke word hoofsaaklik deur fosfaat (reeds in die Calvin-siklus van fotosintese), kalium, magnesium, swael, sink en boor beheer.
Vir gemelde rede is die sapontledingswaardes van die elemente en die Brix-lesings aan mekaar verwant.
Ter opsomming
Sapontledings bied die geleentheid om plantvoeding en groeikragtigheid gedurende die seisoen te monitor, tydig regstellings te maak, produksierisiko te beperk asook om produkkwaliteit en houvermoë te verseker.
Ontledingskoste per monster in Suid-Afrika beloop tussen R300 en R550 – afhangend van die laboratorium.
Bronne
De Kreij, C. 1993. Plant sap analysis – a literature study. Proefstation voor tuinbouw onder glas te Naaldwijk. Intern verslag no. 10.
Pettinger, NA. 1931. The expressed saps of corn plants as an indicator of nutrient needs. J. Agr. Res. 43:95 - 119.
Poehlman, JM. 1935. Some limitations of plants juice analysis of indicators of the nutrient status of plants. J. Amer. Soc. Agron. 27:195 - 207.
Publication: July 2017
Section: Focus on