• Login
  • Search Icon

Plant-parasitiese aalwurms se impak op 'n mielie-oes steeds onderskat

June 2012

DR SONIA STEENKAMP, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE

Vir die wat van cloak and dagger-tipe stories hou, is aalwurms seker die landbouplaag wat die meeste by daardie genre pas.

Uiteraard is hierdie diertjies klein genoeg om onder die radar te bly, hulle kan dan net met spesiale metodes uit die grond en wortels gehaal word en slegs onder ‘n mikroskoop raakgesien word.

Die kanse is dus feitlik ‘n honderd persent dat ‘n produsent nie eers sal besef dat daar aalwurms in sy lande teenwoordig is nie. Boonop is die bogrondse simptome wat deur die aalwurms veroorsaak word, nie altyd spesifiek nie en kan maklik verwar word met simptome wat tipies is aan plaagdoderskade, versuiptoestande en voedingstekorte. Om hierdie redes, word die impak wat aalwurms op ‘n mielieoes kan hê, dikwels steeds onderskat.

Daar is inderdaad ‘n hele paar plant-parasitiese aalwurmspesies wat op mielies parasiteer. Tydens ‘n opname wat regoor die mielieproduksiegebied gedoen is, is 17 aalwurmgroepe op die mielies geïdentifiseer.

Gelukkig is nie almal van hulle groot kopsere nie. Vir die doeleindes van hierdie publikasie sal net Meloidogyne spp. (knopwortelaalwurms) en Pratylenchus spp. (letselaalwurms) behandel word omdat hierdie twee groepe die algemeenste voorkom en die meeste skade vir ‘n mielieprodusent kan aanrig.

Knopwortelaalwurms (Meloidogyne spp.)

Omdat knopwortelaalwurms ‘n baie wye gasheerreeks het en nie net op mielies parasiteer nie, maar ook op die gewasse wat in ‘n mielie gebaseerde wisselbousisteem ingesluit word, kom hulle die heel algemeenste in die mielieproduksiegebied voor.

‘n Tipiese knopwortelaalwurmpopulasie in ‘n mielieland bestaan uit ‘n samestelling van twee knopwortelaalwurmspesies, naamlik M. incognita en M. javanica. As die toestande gunstig is vir hierdie aalwurms, kan ‘n knopwortelaalwurmwyfie binne 20 tot 25 dae nadat sy uitgebroei het, gereed wees om haar eie eiers te lê.

Só ‘n wyfie is dan in staat om meer as 1 000 eiers in haar leeftyd te lê. Dit impliseer dat daar ‘n hele paar generasies gedurende ‘n enkele somerseisoen geproduseer kan word.

Simptome met knop wortelaalwurmbesmetting geassosieer
Gewoonlik word daar op die meeste gewasse kenmerkende galle op die wortels, waarop ‘n knopwortelwyfie voed, gevorm (Foto 1). Hierdie skade is onomkeerbaar.

In die geval egter van mielies, is die knoppies nie altyd sigbaar nie, want dit hang van die spesies en die hoeveelheid aalwurms wat op die plant voed, af. Die afwesigheid van galle op mieliewortels is dus nie noodwendig ‘n aanduiding dat daar geen knopwortelaalwurms in die land is nie. As daar wel galle op die mieliewortels is (Foto 2), varieer dit in grootte en hoeveelheid.

Bogronds is knopwortelaalwurm besmette plante verdwerg, groei oneweredig en vertoon geel van kleur. Omdat die aalwurms nie eweredig in die land versprei is nie, sal die simptome wat hulle veroorsaak, ook kol-kol in die land voorkom (Foto 3).

As die knopwortelaalwurmbesmetting baie hoog is, sal die plante vrek selfs voordat die produsent kan oes. As daar ‘n buitengewone hoë reënval gedurende die seisoen voorgekom het, plant hierdie aalwurms baie vinniger voort en sal die skade wat hulle berokken, ook baie groter wees.

image

image

Knopwortelaalwurmoorlewing
As daar nie ‘n geskikte gasheer (mielies of ander gewasse) vir die knopwortelaalwurm is nie, kan hulle op verskeie onkruide wat algemeen in mielielande voorkom, oorleef en selfs voortplant. Die beste manier waarop hulle egter die wintermaande kan oorleef, is om nie uit die eier uit te broei nie totdat die omstandighede weer gunstig genoeg is om ordentlik te kan oorleef. Die larfie binne-in die eier is ook in ‘n rustoestand en sal nie uitbroei as die omstandighede nie volkome gunstig vir oorlewing is nie. Hierdie eiers kom in die grond en in plantreste wat ná oes in die land agtergelaat is, voor.

Letselaalwurms (Pratylenchus spp.)

Letselaalwurms kom sporadies voor. Dit beteken dat hulle nie altyd teenwoordig is nie, maar as hulle wel teenwoordig is, is dit gewoonlik in baie hoë getalle en kan dus nie onderskat word nie. Naas knopwortelaalwurm, is dit die belangrikste aalwurm wat hier by ons op die mielies parasiteer. Daar is twee letselaalwurmspesies wat baie algemeen voorkom naamlik P. brachyurus en P. zeae.

Pratylenchus brachyurus is baie meer patogenies as P. zeae en rig gevolglik die meeste skade aan. As ‘n letselaalwurmpopulasie in ‘n land egter beide spesies bevat, sal die minder gevaarlike P. zeae die grootste gedeelte van die bevolking uitmaak omdat hulle lewensiklus korter is, hulle vinniger kan voortplant en verdraagsaam is vir ‘n wyer reeks temperature in vergelyking met P. brachyurus. Albei spesies floreer egter in ‘n wye reeks grondtipes. Vog speel ‘n belangrike rol in die voortplanting en skadepotensiaal van hierdie aalwurm, daarom vermeerder hulle gedurende die reënseisoen vinnig en rig baie skade aan.

Simptome met letselaalwurmbesmetting geassosieer
Letselaalwurms voed op die epidermis van die wortels waar die wortelhare gevorm word. Dit veroorsaak dat daar klein bruin letseltjies op die wortels gevorm word, wat verder tot erge nekrose kan lei. Die afwesigheid van die wortelhare veroorsaak voorts dat die plant nie water en voedingstowwe ordentlik kan opneem nie en die letsels kan deur fungi en bakterieë geïnfekteer word (dit staan bekend as sekondêre infeksie).

Bogrondse simptome is nie baie spesifiek nie en word bepaal deur die spesies teenwoordig, die hoeveelheid aalwurms wat op daardie tydstip op die plant voed en die omgewingstoestande. Gewoonlik vertoon die plante gelerig en verdwerg. Net soos met knopwortelaalwurm sal die simptome in kolle voorkom en nie eweredig oor die land versprei wees nie.

Oorlewing
As letselaalwurm besmette grond stadig genoeg uitdroog, gaan die letselaalwurms in anhidrobiose in.

Anhidrobiose is ‘n rustoestand wat die aalwurms in staat stel om vir byna ses maande droogtetoestande te oorleef. Dit beteken dat die aalwurm die droë, koue tydperk tussen twee mieliegroeiseisoene gemaklik en met sukses kan oorleef.

Sodra die reënseisoen weer begin en die mielies begin ontkiem, sal hierdie rustende aalwurms weer ten volle herstel. Weer eens, soos met die knopwortelaalwurm, oorleef die grootste gedeelte van die nuwe generasie in hulle onuitgebroeide eiers. Hierdie eiers sal slegs uitbroei as die mielies begin ontkiem in omgewingstoestande wat ook vir die aalwurm gunstig is om in te oorleef en te ontwikkel.

Verspreiding van aalwurms

Water is een van die mees algemene maniere waarmee aalwurms versprei word van die een land na die ander. Dit is veral ter sprake in besproeiingsgebiede. Die afloop van ‘n besmette land in ‘n kanaal in, kan veroorsaak dat lande wat deur dieselfde kanaal bedien word, ook besmet en selfs herbesmet word. Grond en plantreste wat aan implemente of aan skoene van werkers wat in besmette lande gewerk het vassit, kan eiers en selfs volwasse aalwurms bevat. Sodra die implement of werker na ‘n ander land toe gaan, kan die aalwurms ook so oorgedra word.

Die bestuur van aalwurms op mielies

Aalwurms sal nooit totaal uitgeroei kan word nie, daar sal altyd ‘n paar eiers of aalwurms oorleef, ongeag die beheermaatreël wat deur die produsent toegepas word. ‘n Produsent kan slegs poog om die aalwurmgetalle laag genoeg te hou sodat hulle skade nie tot ekonomiese verliese kan lei nie. Deur die volgende maatreëls te kombineer, kan die produsent ekonomiese verliese beheer:

Chemiese beheer
Die meeste produsente steun swaar op chemiese beheer. Aalwurmdoders met carbofuran, carbosulfan en terbufos as aktiewe bestanddele is die enigste middels wat op mielies geregistreer is en kan net met plant toegedien word. Onthou om die instruksies op die etiket tot die letter na te volg. Onvoorspelbare omgewingstoestande veroorsaak dat die effektiwiteit van die middels vir die beheer van aalwurms nie altyd gewaarborg kan word nie. Probeer om chemiese beheer met nog ‘n beheermaatreël te kombineer.

Wisselbou
Wisselbou is belangrik omdat dit nie net die aalwurms onder beheer kan hou nie, maar ook omdat dit die mikrobiese diversiteit in die grond kan verhoog en dus natuurlike vyande wat die aalwurms aanval, aanhelp. Suksesvolle wisselbousisteme sluit onder andere in die vatbare gewas (byvoorbeeld die mielies) wat opgevolg word met swak gashere of met gewasse wat nie gashere vir die spesifieke aalwurm is nie. Dit kan slegs suksesvol beplan word as die produsent bewus is van die aalwurmspesies wat teenwoordig is, sodat hy weet watter gewasse/kultivars hy in só ‘n sisteem moet insluit.

Weerstandbiedende kultivars
Weerstandbiedende kultivars is ‘n koste-effektiewe, omgewingsvriendelike beheermaatreël wat maklik in reeds bestaande plaagbeheerprogramme ingesluit kan word. Dit is weer eens essensieel om te weet watter aalwurmspesies in die land voorkom, omdat kultivars slegs weerstand teen een van die spesies kan hê. Waar moontlik en indien beskikbaar, is dit ‘n goeie keuse om weerstandbiedende kultivars in ‘n bestaande produksiesisteem in te sluit.

Publication: June 2012

Section: Input Overview

Search