• Login
  • Search Icon

Plant die beste graansorghumkultivar(s) in die regte omgewing

November 2011

 

image

WIKUS SNIJMAN, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE

Resultate van die Nasionale Sorghum Kultivarproewe toon dat daar graansorghumkultivars is wat baie goed presteer het onder droëland- en besproeiingsproduksiestelsels.

Die doelwit van dié navorsing is hoofsaaklik om die stabiliteit van verskillende kultivars te evalueer ten opsigte van opbrengs, maar agronomiese en industriële eienskappe van nuwe kultivars word ook ondersoek. Kultivars wat deur saadmaatskappye ingeskryf is, bestaan uit die GM-, GL- en GH-graderingsklasse. Graanopbrengs was die enigste parameter wat statisties ontleed is. In die algemeen is ‘n AMMI-analise gebruik om die aanpasbaarheid en stabiliteit van kultivars vir verskillende omgewings aan te dui.

Die toetse is oor ‘n wye produksiegebied gedoen om die prestasies van die kultivars van jaar tot jaar asook van lokaliteit tot lokaliteit onder verskillende klimaatstoestande te bepaal. Die opbrengspotensiaal en aanpassingsvermoë van kultivars in spesifieke omgewings bly die belangrikste maatstaf om kultivarprestasie te vergelyk. Lokaliteite en gronde wat normaalweg geskik is vir sorghumproduksie, is geïdentifiseer vir die proewe. Bemesting is toegedien volgens die grondvoedingstatus en opbrengspotensiaal van die relevante areas.

Veranderlikes wat in aanmerking geneem is vir die evaluasie in opbrengsverskille is grond en bemesting, plantdatum, plant- en oesmetodes, siektes, onkruid en plaagbeheer. Eienskappe van graansorghum wat die potensiaal van kultivars van mekaar onderskei, is groeidae tot 50% stuifmeelstorting, aantal groeidae tot 50% blomvorming en aarsteellengte.

Kultivars met verskille in dae tot stuifmeelstorting toon verskillende reaksies op vogstremmings wat op verskillende tye gedurende die groeiseisoen voorkom. Die vermoë van kultivars om hul are ver genoeg bokant die boonste blaar uit te stoot om die stroopproses te vergemaklik, word as 'n goeie eienskap beskou. Dit is dus belangrik dat die klimaatstoestande (reënval, vog en hittestremming), sowel as die groeiseisoen van die kultivars, in aanmerking geneem word by die interpretasie van die data.

Planthoogte dui ook verskille tussen kultivars aan. Beskikbaarheid van water gedurende ‘n seisoen kan planthoogte betekenisvol beïnvloed. Verskille in vogpersentasie tussen lokaliteite en kultivars is ook ‘n betekenisvolle parameter in die bepaling van die beste kultivars. Die graanvog saam met die groeiseisoenlengte van ‘n kultivar, kan ‘n aanduiding gee van die pitvullings- en afdrogingstempo van spesifieke kultivars.

In Tabel 1 word die graanopbrengste van verskillende kultivars vir die afgelope seisoen aangedui.

image

In die meerjarige data vanaf 2007/2008 - 2010/2011 was die toppresteerders PAN 8609, PAN 8625 en PAN 8616. Die drie kultivars wat oor die algemeen die beste potensiaal getoon het vir 2010/2011, was PAN 8909, PAN 8906 en PAN 8920.

Die beste kultivar onder droëlandproduksie oor al die lokaliteite vir 2010/2011 was PAN 8909, tweede was PAN 8906 en derde was PAN 8920. Die drie kultivars wat gemiddeld die beste reageer het in ‘n droëlandproduksiestelsel was PAN 8909, PAN 8906 en PAN 8920. Die drie kultivars wat gemiddeld die beste reageer het onder besproeiing in Klerksdorp was PAN 8606, PAN 8918 en PAN 8919; en in Potchefstroom PAN 8909, PAN 8920 en PAN 8625.

By Platrand A het ingeskrewe kultivars die hoogste opbrengs gelewer. Die gesamentlike gemiddelde opbrengs van al die kultivars by Platrand A was 6,57 ton/ha en PAN 8920 se opbrengs was 7,51 ton/ha. Die ingeskrewe kultivars by Goedgedacht, Platrand A en Kortlaagte, se gemiddelde opbrengs was meer as die gemiddeld oor al die lokaliteite.

Die gesamentlike gemiddelde opbrengs van al die kultivars onder besproeiing was die hoogste by Klerksdorp, met ‘n gemiddeld van 9,83 ton/ha. Onder besproeiing is die hoogste opbrengs (11,54 ton/ha) met PAN 8906 by Klerksdorp verkry. Die relatiewe groot verskil in opbrengs van kultivars onder besproeiing tussen Potchefstroom en Klerksdorp, kan toegeskryf word aan die feit dat die kultivars in Klerksdorp baie goed aangepas is vir hoëpotensiaaltoestande. Onder die swak heersende toestande kan die kultivars egter ook swak presteer.

Besproeiingstoestande in Potchefstroom was nie so voordelig in die afgelope seisoen nie, aangesien die grond vlak is en dit dus onder die hoë reënvaltoestande en aanvullende besproeiing, moontlik kon gelei het tot ‘n mate van versuiping.

Tabel 2 verteenwoordig die AMMI-stabiliteitswaardes vir elke kultivar en toon die kultivars aan wat die meeste aanpasbaar was vir spesifieke omgewings. Die IPCA-waarde toon die stabiliteit van ‘n spesifieke omgewing vir die betrokke seisoen aan – hoe nader aan nul, hoe meer stabiel was die omgewing.

image

Die tabel toon dat die mees stabiele kultivars, gemeet oor al die omgewings, die kultivars PAN 8909, PAN 8920, PAN 8918 en PAN 8906 was. Die Parys-omgewing blyk die mees stabiele omgewing te wees, met Leeuwkraal as die tweede mees stabiele omgewing. Die stabiliteitswaardes toon aan dat daar onder besproeiing ‘n laer mate van stabiliteit is, in vergelyking met droëlandtoestande. Die stabiliteitsindekse (IPCA-waarde) van 0,527 en -0,457 by Kortlaagte en Goedgedacht toon aan dat die opbrengspotensiaal in die gebied gemiddeld is en dat die kultivars nie baie stabiel is onder droëlandtoestande nie. Onder droëlandtoestande was die Klipdrift- en Amersfoort-gebiede die mees stabiele vir al die kultivars.

Publication: November 2011

Section: Markoorsig

Search