• Login
  • Search Icon

Peulaalwurm "maak nes" in grondboonsaad

March 2013

DR SONIA STEENKAMP, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE

Dit is oestyd…Die grondbone was tot aan die einde van die seisoen lowergroen en pragtig. Geen siekte van enige aard kon op die welige plante gesien word nie. Verseker gaan jy ‘n goeie oes dié seisoen kry, reg?

Jy skud al jou vere reg, hier gaan beslis keurgraad afkom! Dan begin die moeilikheid…Die grondbone word gelig en skielik lyk die opbrengs karig. Die wat wel deurkom, se gradering lyk vrotsig. Hoe dan nou, wie het aangejaag? Hoe ver in die seisoen gaan jy terug om die sondebok te soek?

By die begin natuurlik. Dit is wat die saadgedraagde peulaalwurm (Ditylenchus africanus) kan doen. Peulaalwurm is een van slegs twee aalwurms wat deur grondboonsaad oorgedra kan word. Die testa aalwurm (Aphelenchoides arachidis) is al sporadies in Suid-Afrika deur ons taksonome opgetel, maar dit is hoofsaaklik peulaalwurm wat in Suid-Afrika se grondboonproduksiegebied voorkom en die moeilikheid veroorsaak.

Peulaalwurmsimptome

Peulaalwurm is voorwaar een van die aalwurms wat almal onverhoeds kan betrap. Anders as met die meeste ander aalwurmspesies, is daar geen waarskuwing vir die produsent vroeg in die seisoen nie.

Bogrondse gedeeltes van peulaalwurmbesmette plante lyk blakend gesond tot en met oestyd (Foto 1). Die eerste simptome van peulaalwurmbesmetting word eers gesien sodra die plante gelig word en van naderby beskou word. Die aanhegtingspunt van die peul aan die anker vertoon dieselfde bruin kleur soos dié van ‘n geskilde appel wat lank buite gestaan het (Foto 2).

Dit is by hierdie aanhegtingspunt waar die peulaalwurm die peul binnedring en dan deur die are en naelstring van die pitjie beweeg tot binne-in die pit self, waar hulle hulself tussen die lobbe tuismaak en op die kiemplantjie voed. Saad in lig besmette peule is soms sonder simptome, maar swaar besmette peule sal simptome hê wat kenmerkend is van peulaalwurmbesmetting.

Die are van die saadhuid van die peulaalwurmbesmette pitte is donker van kleur, wat veroorsaak dat die pit dikwels donkerder lyk as ‘n onbesmette pit (Foto 3). As die pit oopgebreek word, sal die kiemplantjie olyfgroen of bruin lyk in vergelyking met die kleurlose kiemplantjie van ‘n onbesmette pit (Foto 4).

image

Gevolge van peulaalwurmbesmetting

Sodra die peulaalwurm die peul binnedring, verswak hulle die aanhegtingspunt tussen die anker en die peul sodat die peule afbreek sodra die produsent begin om sy grondbone te lig. In erg besmette lande kan ‘n produsent 40% tot 60% van sy oes op dié manier verloor. Peulaalwurm beskadig ook die dop wanneer hy voed en indring. Die skade aan die dop veroorsaak dat die dop deurlaatbaar vir water is, wat op sy beurt weer veroorsaak dat die pitte ontkiem nog voordat die produsent kan oes (Foto 5).

Voorts help die aalwurm self om die pit té vroeg te laat ontkiem. Wanneer hulle aan die saadhuid voed, lek stowwe wat veronderstel is om ontkieming te inhibeer, uit en die pitte begin ontkiem. Die vroeë kieming en verkleuring van die pitte as gevolg van hierdie aalwurm, veroorsaak dat ‘n grondboonbesending afgegradeer word, soms tot so laag as persgraad.

Teen die Januarie-prys van R9 500/ton vir keur, R6 500/ton vir diverse en R3 500/ton vir persgraad, kan die produsent tot R6 000/ton verloor as gevolg van hierdie aalwurm.

image

Beheer van peulaalwurm op grondbone

Dit is baie maklik vir ‘n peulaalwurmpopulasie om onbeheerbaar te raak omdat hierdie aalwurm ‘n hoë voortplantingspotensiaal het (‘n lewensloop van net sewe dae met 95% van die eiertjies wat sal uitbroei) en nog deur saad ook oorgedra word.

Al kan ‘n mens nie die simptome in lig besmette pitte sien nie, kan die populasie maklik later in die seisoen handuit ruk omdat hulle so ‘n hoë voortplantings en oorlewingspotensiaal het. Om verskeie redes is dit feitlik onmoontlik om peulaalwurmpopulasies wat ongehinderd vermeerder het, met ons huidige beheermetodes te beheer.

Chemiese beheer
Anders as die ander aalwurmspesies wat van die begin af aanteel en skade aanrig, begin die peulaalwurm eers regtig woema kry sodra die grondboonplant begin ankers stoot. Dit is dan wanneer die peulaalwurmpopulasie maklik onbeheerbaar kan raak.

Ongelukkig is dit ook in die weerhoudingstydperk van die meeste aalwurmmiddels. Slegs middels met oxamyl as aktief (byvoorbeeld Vydate) en furfural (byvoorbeeld CropGuard) is op grondbone geregistreer vir toediening met ankervorming. Chemiese beheer moet eerder voorkomend gebruik word en nie wanneer die probleem reeds handuit geruk het nie.

Wisselbou
Alhoewel wisselbou met die regte gewasse baie voordele vir die grondboonprodusent inhou en hy dit uiteraard moet insluit in sy boerderypraktyke, kan hy nie dit gebruik vir die beheer van peulaalwurm nie. Ongelukkig is hierdie aalwurm in staat om in lae getalle op enige gewas wat in ‘n grondboon-wisselboustelsel geplant word, te kan oorleef. Dit sluit natuurlik onkruide wat algemeen in grondboonlande aangetref word, ook in.

Omdat die peulaalwurm se lewensloop so kort is en omdat hulle so ‘n hoë voortplantingspotensiaal het, sal die populasie vinnig vermeerder sodra die produsent sy grondbone plant en hulle veroorsaak sommer gou probleme. Die goeie nuus is wel dat peulaalwurm net grondbone beskadig en nie die ander gewasse ook nie.

Weerstandbiedende kultivars
Hierdie beheermaatreël word met groot sukses toegepas vir die beheer van verskeie aalwurmspesies. Daar is egter geen peulaalwurmweerstandbiedende grondboonkultivars op die mark beskikbaar nie.

Bronne van weerstand is wel deur die Nematologie- en Grondboontelingsafdelings van die LNR-Instituut Graangewasse geïdentifiseer, maar kan slegs in kultivars ontwikkel word as befondsing beskikbaar is.

Publication: March 2013

Section: Input Overview

Search