NAMPO Oesdag Geskiedenis “Ek vertrou dat die Oesdag nog eendag wêreldberoemd sal raak soos die blommefees van Holland, die Rynfeeste van Duitsland en Windhoek se karnaval”. Die eertydse direkteur van Sampi, Dr. Willie Kotze het hierdie voorspelling in 1967 na die heel eerste Oesdag gemaak en hy is deur die jare oor en oor reg bewys.Die NAMPO Oesdag het ontwikkel van die baba wat in 1967 op die plaas Donkerhoek in die distrik Bloemfontein gebore is tot die internasionale superster waarmee ons vandag bekend is. Die eerste Oesdag is op 7 en 8 Junie 1967 op dié plaas gehou en is deur meer as 200 boere uit die Vrystaat en Wes-Transvaal bygewoon. Dit is merkwaardig dat die doelstelling vir die eerste Oesdag vandag nog geld, nl. om ‘n platvorm te skep waar landbou-insetverskaffers en produsente bymekaar kan uitkom om sodoende ‘n geleentheid te skep om ingeligte produksie- en aankoop besluite te neem. Daar is in wese nog nooit van die doelstelling afgewyk nie. In 1968 het meer as 600 besoekers die Oesdag bygewoon en R50 000 se transaksies is beklink. Kenmerkend waaraan die boere gewoond is, word daar in die korrespondensie in die aanloop na die Oesdag baie klem gelê op die voorsiening van verversings. Die dames word versoek om sosaties op die spyskaart te plaas en hulle word vriendelik daarop gewys dat stywe pap by boerewors en braaivleis pas. Dit is nie bekend wat die dames in die plek van pap bedien het nie. Die eertydse voorsitter van die raad op atoomkrag Dr. AJ Roux was die hoofspreker op die 1969 Oesdag en die immergeliefde Fanus Rautenbach, die aankondiger. Na afloop van hierdie Oesdag is die behoefte aan praktiese proewe met die verbouing van saaigewasse geïdentifiseer maar die klem was nog steeds op die praktiese demonstrasie van landboutoerusting. In 1970 is besluit dat standplase en demonstrasie- terreine in die mielieland teen R50 stuk verhuur sal word terwyl uitstalruimtes teen R25 stuk beskikbaar sal wees. Reeds toe was daar ‘n tekort aan uitstalruimte en voornemende deelnemers is gewaarsku om vroegtydig aansoek te doen. Die kombuise het daardie jaar ‘n wins van bykans R700 getoon na afloop van die Oesdag. Vroeg in die sewentiger jare is besluit om bykomende Oesdae te hou en in Mei 1971 het afsonderlike Oesdae naby Ottosdal en naby Standerton plaasgevind. Die Vrystaatse Oesdag is op die plaas Hopefield in die distrik Bloemfontein gehou. Soos by die ander Oesdae is daar voorsiening gemaak vir ‘n damesprogram en in die Oos-Transvaal was daar ondermeer ‘n uitstalling van egte haarpruike deur die “Wig Bar”. Na afloop van die drie Oesdae in 1972 is ‘n Oesdag simposium gehou waar die moontlikheid van een, sentrale Oesdag wat oor 4 of 5 dae sal strek, bespreek is. Daar is ‘n sentrale oesdagkomitee gestig wat in Oktober 1972 besluit het dat ‘n ad-hoc komitee verkies moes word om ‘n permanente terrein te bekom vir die Oesdae vanaf 1975 en daarna. Een van die belangrikste vereistes was dat die terrein in die Bothaville/Viljoenskroon omgewing moes wees om dit maklik bereikbaar vir boere regoor die land te maak. Die plaas Marthaville in die distrik Bothaville is in 1974 as permanente Oesdagterrein bekom. Die redes vir die besluit was dat ongeveer 80 % van die destydse mielieproduksiegebied binne ‘n radius van 160 km vanaf Bothaville geleë was. Die plaas was ook maklik bereikbaar deur die Klerksdorp-Bothaville teerpad. Die destydse oesdagkomitee lede kon beswaarlik die kilometerlange toue van die huidige Oesdae voorspel. In die daaropvolgende jare het die Oesdae van krag tot krag gegaan en gegroei tot die grootste landbou uitstalling in privaatbesit ter wêreld. Die Oesdag en sy rol in die landbou-ekonomie is internasionaal bekend en gevolglik is dit een van die belangrikste gebeurtenisse op die landbou kalender. Die Oesdag maak lank nie meer net vir mielieboere voorsiening nie. Die uitstallings en demonstrasies dek die Suid-Afrikaanse landboubedryf in geheel. Gegewe globalisering is dit hoogs waarskynlik dat internasionale deelname in die toekoms skerp sal toeneem. Dr. Kotze se voorspelling is nie net bewaarheid nie, maar die Oesdag se faam oortref reeds die ander geleenthede waarna hy verwys het. ENQUIRIES:
|