January 2015
ANDRÉ NEL, LNR-Instituut vir Graangewasse en HENDRIK SMITH, bewaringslandboufasiliteerder, Graan SA
‘n Aantal jare gelede het produsente in die Ottosdal- en wyer omgewing besef dat hulle lank gevestigde graanproduksiepraktyke van intense grondbewerking, nie volhoubaar is nie. Erosie, as gevolg van bewerking, het in sommige seisoene onaanvaarbare grondverliese tot gevolg gehad.
Ongesiens het die kwaliteit van die grond weens dekades van bewerking ook agteruitgegaan wat die produktiwiteit ondermyn het. Aan die besigheidskant het die koste aan arbeid, trekkers, implemente en brandstof ook ‘n al groter wordende hap uit die winsgewendheid van graanproduksie gevat. ‘n Koersverandering moes dus gemaak word, maar waarheen?
Die eenvoudigste manier om ‘n oplossing te soek, is om ander produsente wat ook al deur dieselfde probleme gekonfronteer is en aanpassings gemaak het, te raadpleeg. Só is besoeke aan ondermeer KwaZulu-Natal en Suid-Amerika gebring waar suksesvol na bewaringsboerdery omgeskakel is.
Die voordele van bewaringsboerdery is deeglik in lande soos Brasilië, Argentinië, Amerika, Kanada en Australië bewys. Bewaringsboerdery het gronderosie weer tot die natuurlike tempo laat afneem. Terselfdertyd het produktiwiteit toegeneem weens die herstel van die grond se kwaliteit, verminderde afloop, beter grondwaterhouvermoë en die kosteverlaging van brandstof en meganisasie. Bewaringsboerdery was duidelik die enigste oplossing vir die plaaslike probleem van onvolhoubare graanproduksie.
Ten spyte van groot onsekerheid en risiko, veral as gevolg van Ottosdal se lae en wisselvallige reënval, het enkele pionierprodusente besluit om bewaringsboerdery ook plaaslik toe te pas. En toe werk dit, maar nie sonder haakplekke en groot aanpassings nie. Só is vinnig geleer dat onkruidbeheer besonder goeie bestuur vereis en dat gewasse dikwels nie so goed lyk soos die omliggende plase waar die grond steeds bewerk word nie. Om ‘n deklaag van oesreste op die grond te laat wat minstens 30% van die grond bedek, is oor die algemeen ‘n groot uitdaging in die westelike saaigebiede en het ook aanpassings gevra.
Wisselbou, wat ook ‘n vereiste van bewaringsboerdery is, het waarskynlik die kleinste aanpassing geverg aangesien dit lankal deel van baie produsente se gewasverbouingstelsels is. Die groot ste aanpassing was waarskynlik om die kopskuif te maak dat bewaringsboerdery ‘n broodnodige alternatief vir produsente in daar die streek is en ook baie suksesvol in enige situasie toegepas kan word.
Die Ottosdal No-Till Klub se lede het die kopskuif volledig gemaak en weet uit eie ondervinding dat bewaringsboerdery by hulle werk en baie voordelig in hulle produksiestelsels gebruik kan word. Inteendeel, die produsente betrokke in die proses is vas oortuig dat bewaringsboerdery die enigste volhoubare gewasverbouingstelsel in daardie geweste is.
‘n Verandering na bewaringsboerdery vereis ook veranderings aan akkerboukundige praktyke binne die stelsel, waarvoor daar plaaslik geen riglyne bestaan nie. Argentynse kenners beveel byvoorbeeld aan dat die plantestand van droëlandmielies na minstens 40 000/ha verhoog moet word, die rywydte na sowat 50 cm verklein moet word en dat planters met kouters eerder as tande toegerus moet word.
Die onbeantwoorde vraag is watter aanpassings onder plaaslike toestande gemaak moet word en daarvoor is die beste benadering om produsente betrokke te maak in ‘n op-plaas innoverings (navorsings) proses waar bewaringsboerderypraktyke onder elke produsent se unieke omstandighede aangepas moet word.
Navorsing
Met finansiële ondersteuning van die Mielietrust en koördinering deur die Bewaringslandbou Boere-Innoveringsprogram van Graan SA, is ‘n sogenaamde “innoveringsplatform” (navorsingsproses en -projekspan) deur die Ottosdal No-Till Klub met die vrywillige samewerking van ‘n aantal rolspelers, soos navorsers en land bou besighede, gedurende die 2013/2014-seisoen begin.
‘n Aantal klublede neem deel aan die proefwerk op hul plase en is nie net toeskouers nie, maar word as “navorsers” gebruik, met ander woorde hulle plant proewe en samel resultate self in. Waar nodig, word die produsente ondersteun deur navorsers en ander kundiges wat deel is van die projekspan. Van die proewe wat spesiale vereistes het, word deur 'n spesifieke persoon met ‘n spesiale planter uitgevoer. ‘n Vereiste wat gestel is, is dat die proefresultate wetenskaplik beoordeel moet kan word.
Die navorsing fokus tans op ses akkerboukundige praktyke ten einde riglyne vir bewaringsboerdery daar te stel. Eerstens word die plantestand van die verskillende gewasse ondersoek. Dié proefwerk word deur klublede uitgevoer en in 2013/2014 is proewe met mielies, sorghum, sonneblom en sojabone gedoen.
Die resultate toon dat die optimale stand van mielies hoër is as 30 000 plante/ha. Die 2013/2014-seisoen se reënvalverspreiding en -hoeveelheid was egter baie gunstig en tot meer as 9 ton mielies/ha is plek-plek behaal. Daar is steeds die oortuiging dat “normale seisoene” ‘n laer stand gaan vereis, maar die tyd sal egter leer aangesien die proefwerk voortgaan.
Sonneblom en sorghum se opbrengs het nie op plantestand gereageer nie. Sojaboonopbrengs het wel op plantestand gereageer met ‘n optimale stand hoër as 300 000 plante/ha.
Wisselbou as een van die beginsels van bewaringsboerdery, word ook van nader bekyk. Ses gewasse, wat kontant-, peul- en voergewasse insluit, is in 2013/2014 langs mekaar in stroke geplant. In 2014/2015 is dieselfde gewasse weer in stroke geplant, maar loodreg oor dié van die eerste seisoen, wat persele skep waar elke gewas met elk van die ander gewasse afgewissel word en ook in monokultuur is. Die proefwerk word op verskillende plase gedoen.
Derdens word die Argentynse praktyk van 50 cm gespasieerde rye en ‘n hoë mielieplantestand met die plaaslike praktyk van 90 cm rye en ‘n plantestand van tussen 16 000 en 20 000 plante/ha vergelyk. Soos verwag kan word, was die eerste resultate nie sonder teenstrydighede nie. In vyf van die proewe het die Argentynse praktyk ‘n hoër opbrengs gelewer as die plaaslike praktyk, in drie gevalle was die teenoorgestelde waar en in vier gevalle was daar geen verskil nie.
Om hierdie proef verder uit te brei, is ‘n samewerkingsooreenkoms tussen Graan SA en Argentinië in plek gestel om spesiale Argentynse implemente, wat die effektiwiteit van die praktyk verhoog, in die proewe te gebruik.
Vierdens word die gebruik van kouters en tande (in geenbewerkingsplanters) tydens die plantproses vergelyk. Tande kan die grond dieper losmaak en kunsmis dieper plaas as kouters, maar versteur die grond meer. In 2013/2014 het die twee praktyke geen verskil in die opbrengs van mielies veroorsaak nie. Die verwagting is dat verskille na vore sal kan kom as die reënval minder gunstig is en dat die sukses van tande of kouters deur die grondtekstuur en -kwaliteit bepaal gaan word.
Kultivarkeuse bly een van die beheerbare veranderlikes wat 'n belangrike rol in die sukses van graanproduksie speel. So is vier mieliekultivarproewe gedoen waarvan sommige teen 'n hoë en ander teen die gewone stand geplant is.
Dekgewasse speel elders in die wêreld ‘n belangrike rol in bewaringsboerdery en kan verskeie doelwitte en funksies uitvoer, soos om die grond te beskerm teen erosie, grondverdigting op te hef, die kwaliteit van die grond te herstel en ook voer vir vee te verskaf. Die Ottosdal No-Till Klub het besluit om ook dekgewasse onder die soeklig te plaas om in hulle bewaringsboerderystelsels te integreer. Soos in die geval van die wisselbouproef, is 14 dekgewasse en -mengsels (warm- en koelweergewasse) in stroke geplant en verskeie waarnemings, soos byvoorbeeld die droëmateriaalopbrengs en wortelverspreiding, is gemaak.
In die 2014/2015-seisoen gaan die gewasse plus die plaaslike kontantgewasse dwarsoor die stroke van 2013/2014 geplant word om te kyk wat die interaksie (rotasie-effek) tussen al die gewasse is en hoe dit die opbrengs en grond beïnvloed.
Die Ottosdal No-Till klub voel so ernstig oor die werk wat hulle doen en die sukses wat hulle tot dusver behaal het, dat hulle ‘n tweede bewaringsboerderykonferensie vir 11 en 12 Maart 2015 op Ottosdal beplan.
Die doel is om hulle ondervinding en resultate met medeprodusente te deel. Soos met die 2014-kongres gaan verskeie genooide sprekers optree en aanbiedings lewer oor belangrike en interessante sake in bewaringsboerdery. Wat veral belangrik is, is dat produsente wat na bewaringsboerdery oorgeskakel het, ook as sprekers gaan optree om hulle ondervinding te deel. En wie weet beter wat om te doen en watter slaggate om te vermy as iemand met ondervinding?
Slegs 300 persone kan die kongres bywoon en die koste beloop R400 per persoon wat vier etes en al die kongresmateriaal insluit. Wat meer is, die kongres val saam met die Ottosdal skou wat die bywoning sommer twee vlieë met een klap maak.
Hou die Graan SA-webtuiste (www.grainsa.co.za) dop vir besonderhede of skakel Lourens Rudolph van Ottosdal Landini by 018 571 0900 of Hannes Otto by 082 774 3993 vir verdere navrae.
Publication: January 2015
Section: On farm level