September 2014
HESTIA NIENABER, LNR-Kleingraaninstituut
Onkruiddoders is geregistreer vir gebruik saam met verskeie hulpmiddels in Suid-Afrika. Hulpmiddels het verskeie eienskappe wat hulle voordelig maak vir gebruik saam met onkruiddoders.
Hulle:
Alhoewel hulpmiddels geen plantdodende eienskappe het nie, speel dit ‘n belangrike rol om die werking van onkruiddoders te verbeter. Die hulpmiddelkeuse kan die verskil tussen geen of uitstekende beheer beteken. Produsente moet egter besef dat alle hulpmiddels nie dieselfde is nie en dus nie omruilbaar is nie. Wanneer onkruid doderdosisse hoog genoeg is om totale onkruidbeheer te bewerk stellig, kan dit egter so voorkom, maar dit geld nie wanneer lae ekonomiese dosisse onder stremmingstoestande gebruik word nie. Die hoofdoel van hulpmiddels is om onkruiddodereffektiwiteit te verhoog, veral wanneer lae, ekonomiese dosisse aangewend word (B.L. de Villiers, 1998).
‘n Voorbeeld van ‘n wydgebruikte hulpmiddel is ammoniumsulfaat (southulpmiddel). Hierdie hulpmiddel word gebruik om die invloed van swak waterkwaliteit te oorkom en daarom kan dit die effektiwiteit van baie onkruiddoders verhoog. Die spesifieke werking van hierdie tipe hulpmiddels is om soutantagonisme van die waterbron (kalsium-, magnesium- en natriumsoute) op te hef. In Suid-Afrika word dit gebruik om die penetrasie en mengbaarheid van glifosaat te verbeter.
Die probleem ontstaan egter wanneer daar besluit moet word watter tipe hulpmiddel om te gebruik. Die verkeerde keuse van 'n hulpmiddel kan, veral saam met glifosaat, lei tot kommerwekkende lae vlakke van beheer. ‘n Studie is dus onderneem om te bepaal watter hulpmiddels glifosaateffektiwiteit optimaal verhoog. Twee verskillende hulpmiddels is in die proef gebruik. Hierdie hulpmiddels was ‘n organiese suur buffer (OSB) en ammoniumsulfaat (AMS). 'n Mengsel van die OSB en AMS is egter ook in die proef ingesluit. Gedistilleerde water is vir die proef gebruik sodat waterkwaliteit nie ‘n rol in die persentasie onkruidbeheer sou speel nie en dieselfde behandelings is herhaal in CaCl2 (harde-) en NaHCO3 (brak-) water, om die effek van waterkwaliteit op hierdie behandelings te toets.
Resultate
Die resultate van die proewe word aangedui in Tabel 1. Dieselfde resultate in grafiekvorm word in Grafiek 1 getoon. Volgens die resultate (Tabel 1 en Grafiek 1), is dit duidelik dat die glifosaat gemeng met die organiese suur buffer (OSB) en ammoniumsulfaat (AMS) deurentyd die hoogste persentasie beheer getoon het.
In alle waters was hierdie verhoging in die persentasie beheer egter nie betekenisvol hoër as die behandeling waar slegs ammoniumsulfaat bygevoeg is nie. Dit sou dus onekonomies wees om die OSB en die AMS by te voeg as net AMS dieselfde persentasie beheer tot gevolg kan hê. Die OSB het in CaCl2 ‘n betekenisvolle laer persentasie beheer getoon (38,64%) as die AMS, die OSB en die AMS-mengsel. Die OSB alleen het selfs gelei tot antagonisme (38,64% versus die 41,63% van die kontrole). In NaHCO3-water het die byvoeging van enige hulpmiddel gelei tot ‘n betekenisvolle verhoging in die persentasie beheer. Dit is dus duidelik dat die byvoeging van AMS by glifosaat in alle watertipes 'n veiliger keuse is as die byvoeging van OSB of selfs die OSB- en AMS-mengsel, omdat dit deurentyd goeie beheer sal lewer en goedkoper sal uitwerk as die mengsel. Deur die regte keuse te maak, kan koste dus bespaar word sonder om onkruiddodereffektiwiteit in te boet.
Vir verdere inligting en om ingeligte besluite te neem oor hulpmiddels en onkruiddodereffektiwiteit, skakel gerus vir Hestia Nienaber by die LNR-Kleingraaninstituut by 058 307 3420 of deweth@arc.agric.za.
Hierdie navorsing is moontlik gemaak met die finansiële ondersteuning van die Wintergraantrust.
Publication: September 2014
Section: Focus on