March 2019
Produsente in die Wes- en Suid-Kaap staar verskeie uitdagings in die gesig en vind dit toenemend moeilik om ekonomies te oorleef weens opeenvolgende droë seisoene, lae opbrengste en die kosteknyptang. Die behoefte bestaan dus om na moontlike alternatiewe gewasse en/of verbeterde kultivars van bestaande gewasse te soek.
Die Wes-Kaapse Departement van Landbou is besig om indringend na ’n strategie te kyk vir die identifisering van alternatiewe gewasse vir die winterreënvalstreek in die Wes-Kaap. Die fokus van die ondersoek is veral op gebiede in die Swartland en Overberg. Aangesien breëblaargewasse en gewasse wat stikstof bind noodsaaklik is in ’n suksesvolle wisselboustelsel met koring, word op sulke gewasse gefokus.
’n Kort verslag is deur die Direktoraat Plantwetenskappe by die Wes-Kaapse Departement van Landbou by Elsenburg saamgestel om die verskillende moontlikhede te ondersoek. Dit het tydens die ondersoek aan die lig gekom dat die Wes-Kaapse produksiegebiede se weersomstandighede en jaarlikse reënval soortgelyk aan dié van Australië is.
Klimaat en reënval
Reënval in die Wes-Kaap is baie laag as dit aan wêreldstandaarde gemeet word (Figuur 1 en Figuur 2). Minder as 300 mm reën word tydens die groeiseisoen in die grootste verbouingsgebied in die Suid-Kaap en Swartland ontvang.
Die Swartland het ’n Mediterreense klimaat met nat, koue winters en warm, droë somers. Die res van die Suid-Kaap se klimaat is meer gematig, met afwisselende periodes van reën in die somer. Verder oos in die Suid-Kaap styg die persentasie somerreën tot soveel soos 40% van die jaarlikse totale reënval.
Weens die ooreenstemmende klimaat is die Wes-Kaap baie afhanklik van gewasse vanuit Australië. Kanola-kultivars, lupiene, erte, hawer, medics en klawers word jaarliks ingevoer en met groot sukses plaaslik verbou.
Peulgewasse wat in Australië verbou word, staan as pulses bekend. Dit is hoofsaaklik peulgewasse wat fababone, erte, kekerertjies en lensies insluit. Die saad is ’n proteïenbron vir ’n groeiende wêreldbevolking en word ook as dierevoeding aangewend. Kanola is nie deel van dié kategorie nie, want dit is ’n oliegewas.
Dié peulplante oorweeg
Die volgende peulplante word as alternatiewe gewasse vir die Wes-Kaap oorweeg:
Fababone (Vicia faba minor)
Fababone (Foto 1) word hoofsaaklik na die Midde-Ooste en Asië uitgevoer vir menslike gebruik en in die res van die wêreld as veevoer aangewend.
Fababoonkultivars vir moontlike oorweging is Farah, Fiesta VF, Nura en PBA Samira.
Lupiene (Lupines)
Lupiene is goed bekend aan produsente in die Wes-Kaap, maar siektes en kompetisie met kanola het tot ’n afname van produksie gelei. Verskeie nuwe kultivars met goeie opbrengspotensiaal is sedert 2005, toe Mandelup vrygestel is, bekendgestel.
Twee hooftipes lupiene, naamlik smalblaarlupiene (Lupinus angustifolius) en breëblaarlupiene (L. albus), is in Suid-Afrika bekend. Laasgenoemde kan as veevoer en vir menslike gebruik geproduseer word. Verskeie middels is in Suid-Afrika vir die beheer van onkruid op lupiene geregistreer.
Smalblaarlupienkultivars vir moontlike oorweging is Mandelup, Gunyidi, Jurien, Coromup, PBA Barlock, L. albus en Amira.
Voererte (Pisum sativum L.)
Voererte (Foto 2), wat met groot sukses regdeur Australië verbou word, is ’n baie ou gewas wat al 7 000 jaar gelede deur die mens gebruik is. Voererte word reeds op ’n klein skaal plaaslik aangeplant. Dit word as ’n suiwer stand vir saadproduksie en in dekgewasse gebruik, waar dit deur kleinvee en grootvee bewei word. Daar is vier verskillende tipes voererte met verskillende markte.
Erte is die beste aangepas by verskillende soorte grond (sand tot kleigrond) van al die peulgewasse in Australië. Dit verhoog die opbrengs van koring, hawer en kanola selfs tot in die tweede jaar na aanplanting.
Ertkultivars wat moontlik oorweeg kan word, is PBA Oura, PBA Percy, PBA Wharton, Yarrum, Maki, PBA Pearl, Sturt, SW Celine, “dun” tipes, “blou” tipes en “wit” tipes.
Voor-opkomsbeheer van breëblaaronkruide is die doeltreffendste manier van beheer met die minste skade aan die gewas self. Van al die peulplante het voererte die meeste opsies vir die beheer van onkruid na opkoms.
Lensies (Lens culinaris)
Lensies word grootliks vir menslike gebruik geplant. Die prys van lensies is gewoonlik hoër as dié van lupiene, fababone en erte. In Australië word lensies meestal in gebiede met ’n hoër reënval (>400 mm) geplant.
Daar is hoofsaaklik twee soorte lensies, naamlik rooi en groen lensies. Rooi lensies word gebreek en die saadlob is rooi, terwyl die dop in kleur kan wissel. Groen lensies word heel gebruik en is groter as rooi lensies (4,5 mm tot 8 mm).
Lensiekultivars vir moontlike oorweging is PBA Hurricane, PBA Ace, PBA Blitz, PBA Bolt, PBA Jumbo2 en PBA Greenfield. Daar bestaan geen geregistreerde produkte vir die beheer van onkruid op lensies in Suid-Afrika nie.
Kekerertjies (Cicer arietinum)
Kekerertjies word primêr vir menslike gebruik geplant. Die prys van kekerertjies is hoër as dié van lupiene, fababone en erte. Kekerertjies word in Suidoos-Australië geplant in gebiede met ’n gemiddelde reënval van 300 mm tot 500mm. Die gewas groei stadig in die winter, maar die groei versnel wanneer die temperatuur styg.
Kekerertjiekultivars wat tussen 2005 en 2012 in Australië getoets is en moontlik oorweeg kan word, is Maiden, Slasher, Striker, Amber, Genesis 836 en Neelam.
Daar is twee tipes kekerertjies, naamlik desi en kabuli. Hulle word aan hul vorm en kleur uitgeken en word in verskillende markte verkoop. Dit is die derde grootste peulplant as bron van voedsel in die wêreld en word in meer as 50 lande geproduseer. Daar bestaan geen geregistreerde produkte vir die beheer van onkruid op kekerertjies in Suid-Afrika nie.
Ander alternatiewe
Ander gewasse soos koljander en lynsaad, wat suksesvol in ’n Mediterreense klimaat verbou kan word, is ook alternatiewe vir moontlike insluiting. Die voorwaarde is die ontwikkeling van ’n mark vir die betrokke produk.
Die Internasionale Sentrum vir Landbounavorsing in Droë Gebiede (ICARDA) fokus op die teling en seleksie van peulplante. Die Wes-Kaapse Departement van Landbou het in die verlede met hulle saamgewerk en verskillende gewasse, insluitende lensies en kekerertjies, is hier getoets.
Die moontlikheid van die insluiting van alternatiewe dekgewasse/voergewasse waarmee ’n mens proteïene kan produseer, kan nie uitgesluit word nie. Die geleentheid is daar om, met die insluiting van dekgewasse in die rotasiestelsels, meer diere vir korter tye te dra. Dit kan tot hoër vleisproduksie lei.
Nuwe markte
Al bogenoemde gewasse word óf reeds verbou óf is in die verlede in die Wes-Kaap getoets. Verbeterde kultivars, wat beter aangepas is en hoër produksie lewer, kom jaarliks op die mark. Aangesien die markte vir produkte vergroot, word nuwe markte deurlopend ontwikkel.
Onkruidbeheer is ’n groot struikelblok, wat weens onkruiddoderweerstand en verkeerde verbouingspraktyke ’n uitdaging aan produsente bied. Daar bestaan geen geregistreerde chemiese produkte vir kekerertjies, lensies, fababone en moontlik ook voererte in Suid-Afrika nie.
Die topografie van die landskap maak dit baie moeilik vir die aanplant van gewasse soos kekerertjies en lensies, aangesien dit baie laag groei en dus moeilik oes. Hierdie gewasse verkies swaarder grond en reënval van meer as 300 mm per jaar. Kanolagewasse het aanvanklik nie in sandgrond geaard nie, maar nuwe kultivars het dit wel moontlik gemaak.
Ander oorwegings
Voererte is baie goed aangepas in die Wes-Kaap, met heelwat moontlike opsies vir die beheer van onkruid. Hoewel hierdie gewas hoog groei, oes dit moeilik omdat dit net voor oestyd gaan lê. Maniere moet ondersoek word om die plante regop te hou, soos waar dit in mengsels met graan of kanola geplant word.
Fababone en voererte is baie vatbaar vir siektes en goeie beheer daarvan met die regte kultivars, wisselbou en chemiese middels is noodsaaklik. Fababone neig om baie laat in die seisoen ryp te word, so daar moet gesoek word na kultivars wat beter aangepas is by ons klimaat.
Al die kultivars wat genoem word, is reeds geselekteer ten opsigte van planthoogte, lengte van die groeiseisoen, siekteweerstand en opbrengs in ooreenstemmende klimaatsones.
Vir meer inligting, kontak dr Johann Strauss (johannst@elsenburg.com) of mnr Piet Lombard (pietl@elsenburg.com) by die Direktoraat Plantwetenskappe.
Publication: March 2019
Section: Features