October 2015
JACQUES JANSEN VAN VUUREN en LOUIS DU PISANI, Nasionale Wolkwekersvereniging
Kleingrane soos hawer, koring, korog en rog word jaarliks op groot skaal op droëlande in die somerreënvalstreke van Suid-Afrika aangeplant, veral vir die oorwintering van lammerooie. Kleingrane verskaf goeie voer vir lammerooie, maar dit het egter twee probleme. Daar is ‘n groot risiko dat dit nie voldoende hoeveelhede voer gaan verskaf nie en dit is duur om te verbou.
Die meeste produsente se ervaring met weimielies is dat “misoeste” die reël eerder as die uitsondering is. Een manier om dit teë te werk, is om soveel hektare as moontlik aan te plant, maar dit stoot weer die koste op.
‘n Ander alternatief is om gewasse aan te plant wat in die somer groei (wanneer dit reën), waarvan die beskikbare weiding net so op die land bly staan en dan in die winter in die vorm van staandehooi bewei word. Dit sluit gewasse soos lusern, Smutsvingergras, borseltjiegras en mielies in.
‘n Ander alternatief is om, in plaas daarvan om die voer in die vorm van staande hooi te gebruik, dit óf in te kuil óf te hooi. Dit sluit gewasse soos lusern, armmanslusern, Smutsvinger- en oulandsgras asook mielies en ander somergrane in.
Weimielies as staande hooi
Die praktyk waar mielies geplant word vir gebruik deur skape as staande hooi, of weimielies, word al vir baie jare lank toegepas. As weimielies so doeltreffend as moontlik deur skape benut word en probleme soos suurpens beperk kan word, is dit ‘n relatiewe goedkoop weidingsbron waarop talle skape kan wei. Speenlammers kan goed op weimielies afgerond word en dit is ook geskik vir lakterende ooie en vervangingsooie.
Watter kultivar?
Daar is geen spesifieke kultivaraanbeveling nie, hoewel dit duidelik is dat die beste graanopbrengs ook die beste weikapasiteit gaan lewer. Die kultivar wat vir graan- of kuilvoerproduksie in die spesifieke omgewing aanbeveel word, behoort dus ook geskik te wees vir mielie staande hooi. Meer proewe sal nog gedoen moet word om die verskil tussen konvensionele of GM-mieliekultivars as weimielies te toets.
Die skape begin eers aan die koppe wat op die grond lê te vreet, dan koppe aan die plant wat hulle kan bykom en laastens stoot hulle die plant om, om die oorblywende koppe te vreet. Die hoogte van die koppe op die plant maak dus nie saak nie.
Risiko’s
Suurpens (asidose) bly die grootste enkele risiko en grootskaalse vrektes kan voorkom waar skape nie goed aangepas is nie. Diere wat suurpens oorleef se produksie daal skerp.
Diere met asidose word gekenmerk deur ‘n opgeblaasde rumen en hulle loop styf. Doseer met twee eetlepels koeksoda wat in 200 ml water opgelos is. Behandel daarna ook voorkomend vir pasteurella en hou in gedagte dat voerkalk slegs ‘n kalsiumbron is en nie ‘n buffer is teen asidose nie.
Die voorsiening van grashooi van goeie gehalte om die ruvoerinname te verhoog asook die voorsiening van ‘n buffer in die vorm van ‘n lek, kan gebruik word om suurpens te bekamp. Koeksoda is ‘n baie goeie buffer teen suurpens.
Lammers wat nie mielies ken nie, neem tot drie weke lank om mielies te leer vreet. Aanvanklik wil die lammers glad nie die mielies vreet nie en dan ewe skielik ná sewe tot 14 dae begin hulle sterk wei en kry suurpens. Lammers wat lakseer is geweldig vatbaar vir brommeraanvalle. Dit bly ‘n probleem tot en met die eerste strawwe ryp.
Ander probleme
Die minerale is nie gebalanseerd nie en ‘n oormaat fosfor gee aanleiding tot die vorming van blaasstene by hamels en ramme, veral as hulle langer as 75 dae op die weimielies loop.
Mielies se proteïenwaarde is laag en op die meeste lande is daar ‘n tekort aan sink, mangaan, selenium en koper. Veral vir lammerooie is die proteïenwaarde te laag en dan kry ‘n mens baie boepens lammers.
Let op vir brommeraanvalle, veral in die herfsmaande.
Waak daarteen dat die graankomponent in die kamp wat bewei word, nie totaal uitgeput raak voordat die diere na ‘n nuwe kamp verskuif word nie. Selfs twee dae sonder graan is genoeg om weer suurpens in die nuwe kamp te veroorsaak. Dit is dus raadsaam om ongeveer 80% van die graankomponent te benut en die diere dan aan te skuif. Daardie kamp kan later weer skoongewei of as oesreste deur droë ooie benut word.
Aanpassing van diere
Aanpassing van die diere kan na gelang van Tabel 1 plaasvind. Dit is belangrik om te onthou dat aanpassing suurpens nie totaal sal uitskakel nie, maar dat dit die aantal gevalle en die intensiteit daarvan sal verminder. Die aanpassingsperiode van skape wat mielies ken, kan aansienlik verkort word deur hulle met Lacticon S te doseer.
Aanvullings op weimielies
Proteïenaanvulling is baie belangrik, veral deurvloeiproteïen vir groeiende en lakterende diere. Natuurlike proteïenbronne wat ryk is aan deurvloeiproteïen, soos katoensaadoliekoek, brouersgraan en vismeel behoort oorweeg te word.
Lekke wat oorweeg kan word, sluit in Voermol Landelek (V15414) en Molatek se wolskaaplek met 5% koeksoda ingemeng. Albei hierdie lekke word teen 200 g/dier/dag aanbeveel. Landelek kan ook met Procon gemeng word (drie sakke Landelek en een sak Procon) om vir hoër produserende diere te gee.
Spoorelementtekorte – veral mangaan, sink en koper – kom by weimielies voor en moet aangevul word.
Drakrag
Drakrag is direk gekoppel aan die graanopbrengs (Tabel 2). Vir elke 1 ton graan is daar 1 000 kleinveeweidae (45 kg - 50 kg skape). Dit maak voorsiening vir ‘n inname van 1 kg mielies/skaap/dag.
‘n Graanopbrengs van byvoorbeeld 5 ton/ha se drakrag sal dus ongeveer 55 skape/ha vir 90 dae wees. Drakrag kan verhoog word deur spaarveld aangrensend te wei. Die spaarveld voorsien ook bykomende ruvesel om suurpens te beperk.
Praktiese wenke vir die bestuur van diere in weimielies
Publication: October 2015
Section: Focus on