• Login
  • Search Icon

OORDRAGVOORRAAD:
Sal logistiek en stooropsies dit hou?

June 2018

MARIANA PURNELL, hoofbestuurder, Agbiz Grain

Daar is ‘n mate van optimisme in die Suid-Afrikaanse mieliemark na aanleiding van goeie reënval gedurende April. Die Verenigde State se Departement van Landbou (USDA) het sy vorige skatting vir Suid-Afrika se 2018­/2019-mielieproduksie verhoog tot 13,2 miljoen ton, na gelang van verwagte hoër opbrengste in sommige dele van die land. 

Let wel: Die USDA-data dek beide kommersiële en nie-kommersiële produksie en verskil daarom van die Nasionale Oesskattingskomitee se syfers, wat hoofsaaklik op kommersiële produksie fokus. Die nie-kommersiële-/bestaansboerdery produksie verteenwoordig 6% van die beraamde oes van 13,2 miljoen ton. Die USDA se raming van kommersiële mielieproduksie is dus ook 12,42 miljoen ton.

Die grootte van die verwagte kommersiële mielie-oes is in Maart 2018 deur die Nasionale Oesskattingskomitee op 12,42 miljoen ton vasgestel. Dit is egter steeds heelwat laer as die rekord-opbrengs van 17,5 miljoen ton, wat in die 2017/2018-produksieseisoen behaal is – en wat die grootste oes is wat Suid-Afrika nog ooit geproduseer het.

Maart se produksieskatting van witmielies is 6,363 miljoen ton en in die geval van geelmielies is dit 6,057 miljoen ton. Indien die 2017/2018 plaaslike mielieproduksie 12,42 miljoen ton of meer is, is dit weer ver bo die jaarlikse verbruik van ongeveer 10,5 miljoen ton. Die drie belangrikste mielieproduserende gebiede, naamlik die Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes Provinsie, gaan na verwagting 81% van die 2018-oes produseer. Die huidige opbrengssyfers is hoofsaaklik vanaf produsente in dié verskillende provinsies verkry.

Wat egter uiters belangrik is, is dat die bemarkingsjaar met ‘n groot oordrag­voorraad van ongeveer 4,1 miljoen ton, addisioneel tot die verwagte groot oes, begin. Suid-Afrika sal dus in die 2018/2019-bemarkingsjaar ‘n netto uitvoerder van mielies bly, wat beteken dat mieliepryse steeds onder druk gaan wees. Die produksieskatting vir sonneblomsaad is 749 205 ton, terwyl daar byna 1,4 miljoen ton sojabone in die nuwe seisoen verwag word.

Suid-Afrika beskik oor voldoende opbergingskapasiteit, maar die ligging van vaste opbergingsfasiliteite speel ‘n groot rol in die benutting daarvan. In sekere dele word opberging ver bo 100% benut, terwyl dit in ander dele omtrent glad nie benut word nie. Die grootte van die totale 2018/2019-somergraanoes sal dus druk op die land se opbergings- en hanteringskapasiteit plaas indien die hoë oordragvoorrade ook in ag geneem word (Tabel 1).

Die oordragvoorraad van alle gewasse sal daarom die komende seisoen ‘n strategiese impak op landboubesighede hê. Oor die algemeen sal almal ‘n relatiewe groter oordagvoorraad as die vorige seisoen hê. SAGIS se voorraadsyfers toon dit duidelik wanneer dit met dié van vorige seisoene vergelyk word.

Nasionale kommersiële rolspelers in opberging en hantering is egter reeds geruime tyd besig om met klante te gesels oor voorraadskuiwe of vroeëre versendings; en ook om addisionele kapasiteit te skep. Die aangeleentheid is op forums met klante bespreek en op silo-vlak word die proses bestuur om klante sover moontlik tegemoet te kom. Omstandighede verander daagliks en moontlike uitvoere sal ook ‘n impak op beplanning hê.

Opbergingskapasiteit is ook nie beperk tot sementsilo’s nie; die meeste landboubesighede het deesdae ook silosakke en bunkers (Tabel 2). Die landboubesighede stel sodanige inligting op hulle webtuistes bekend. Daarby het produsente ook self heelwat opbergingskapasiteit op hul plase geskep – bo en behalwe die kommersiële silo’s, waarvan dié in die noorde van die land ‘n kapasiteit van 14,1 miljoen ton en dié in die suide meer as 800 000 ton kapasiteit het.

Die nuwe oes is sedert Maart ontvang. Die koringvoorrade het veral ‘n effek op die noorde se opbergingskapasiteit. Waar ‘n silobuis gedeeltelik deur ‘n spesifieke kommoditeit van spesifieke graad en kwaliteit gevul word, is die beskikbare kapasiteit nie voldoende om ander graan in te berg nie en beïnvloed dit dan die nasionale silokapasiteit – wat die Wes-Kaap insluit.

As ‘n mens die syfers ontleed, gaan silo-eienaars moet mooi beplan – veral omdat ‘n deel van die nasionale kapasiteit by verwerkers lê en dus nie vir algemene opberging beskikbaar is nie. In totaal is daar 27 290 000 m3 opbergingspasie beskikbaar om 21 778 891 ton somergrane – plus koring – op te berg. Terwyl die nuwe oes ingeneem word, vloei daar egter gelukkig steeds ou voorrade uit na kopers en verwerkers en raak opbergingskapasiteit weer beskikbaar.

Logistiek het die afgelope drie jaar heelwat verbeter met ‘n toename in spoorvervoer (Grafiek 1, Grafiek 2 en Grafiek 3). Nietemin is beide pad en spoor effektief en kan dit die verwagte volumes hanteer, indien nodig. Verskuiwing van voorraad tussen silo’s om meer kapasiteit op sommige plekke te skep, sal strategiese besluite vereis. Gegewe die droogte in Argentinië en die premie wat op hul mielies geplaas word, is Suid-Afrikaanse graan nou bitter na aan die goedkoopste in die wêreld. Landboubesighede sal daarom ook oorweging skenk aan strategiese uitvoeraksies. 

Na die uitvoere van 68 414 ton mielies in die eerste twee weke van April, word daar verwag dat Suid-Afrika nie nog noemenswaardige hoeveelhede mielies vir die 2017/2018-seisoen, wat April 2018 geëindig het, gaan uitvoer nie, maar elke bietjie sal help met die skepping van broodnodige kapasiteit. Dit plaas Suid-Afrika se uitvoere vir die 2017/­2018-mieliebemarkingseisoen op 2,1 miljoen ton, oftewel 84% van die seisoen se uitvoerberaming van 2,5 miljoen ton vir die seisoen.

Wat vervoer betref, lewer dit ‘n bydrae dat ‘n noemenswaardige gedeelte (maar nie alles nie) van die mielies vir diepsee-uitvoere tans wel per spoor na Durban toe gaan. Vervoer binnelands en na Afrika geskied nog alles per pad.

Besoek gerus http://www.sagis.org.za/monthly-grain-transport.html vir meer inligting.

Publication: June 2018

Section: Focus on

Search