February 2013
Beste Grootneef,
Ek hoor vanoggend oor die draadloos van die Russe se probleme met wolwe in Siberië. Blykbaar het die wolwe so aggressief geraak dat mens en dier se lewe nie meer seker is nie. Dié klompie boer mos in hierdie bittere koue deel met takbokke wat uiters lae temperature kan uitstaan.
Die Russiese owerhede het blykbaar ingestem om die wolwe met hand en tand te beveg en waar nodig, ook helikopters in te span om die wolwe uit te wis. Belonings gaan ook aan jagters betaal word vir elke wolf wat gedood word. Seker iets soos een stert een roebel...
Ou Neef, Langenhoven het destyds geskryf dat die mensdom vlieë doodslaan van Farao se tyd af, maar hy glo daar is nou meer as toe.
Terug by die Russe met hul nuwejaarsvoorneme om nou op groot skaal wolwe te gaan jag. Hulle gaan waarskynlik baie aan die begin uithaal, maar glo my, ‘n klompie wolwe gaan net slimmer raak en in die uitgestrekte ysvlaktes verdwyn, om ‘n paar jaar later meer geslepe en in nog groter getalle toe te slaan. Napoleon en Hitler se generaals het immers op die harde manier uitgevind hoe groot die ysvlaktes in Rusland is!
Die Russe is nie die eerste wat ongediertes met staatsfondse takel nie. Wie kan nog vir “Oranje Jag” onthou? Dit was ons Vrystaters se “totale aanslag” teen al wat jakkals was. Die provinsiale owerheid het baie geld gestoot vir hondeteelstasies, personeel, perde en jagters. Ry jy deur die Suid-Vrystaat en die Karoo, sien ‘n mens nou nog myle se jakkalsdraad langs die paaie wat destyds deur die staat gesubsidieer was.
Ou Neef, maar soos die Egiptenare se vlieëslanery van toeka min gehelp het om vlieë uit te wis, so is daar nou meer en slimmer jakkalse wat die vlaktes deurkruis. Jy kan maar sê die mensdom jag jakkalse in die Vrystaat sedert veeboere van die kolonie oor die Oranje is, maar daar is nou meer as toe! So, sterkte vir die Russe en hul wolfjagtery.
Buurman vertel graag ‘n staaltjie uit Oranje Jag se dae. Die boer het blykbaar groot skade gely met sy lammer-oes. Die jakkalse het behoorlik gemaai en elke nag ‘n klomp uitgevang. Oranje Jag daag toe op met ‘n span honde en ‘n jagter te perd. Tussen die span honde was ook ‘n tefie wat so amper op hitte was. Die boer is saam met die jagspan in die kamp in waar die meeste jakkalsvangste voorgekom het, die span honde blaffend in ‘n sirkel voor die ruiter uit. Soos die geluk dit wou hê, spring ‘n jakkals as gevolg van die gedruis uit sy gat, met die span honde wat blaffend en tjankend agterna streep.
Die jakkals het egter die veld goed geken en is deur ‘n gat onderdeur die draad. Die honde in ‘n stofwolk agterna. Die ruiter moes noodgedwonge ry tot hy deur ‘n hek kon kom, voordat hy weer die honde se spoor kon vat. Teen dié tyd was die jakkals en die honde al oor die bult. Toe die jagter uiteindelik op volle vaart weer op die spoor was, sien hy die skaapwagter van vooraf aangestap kom. Hy trek toe sy vosperd in en vra of die man nie ‘n trop honde en ‘n jakkals gesien het nie. Die skaapwagter het gretig bevestig dat hy die spulletjie sien hardloop het en as ‘n terloopse agtervoegsel – “maar die jakkals lê nou vyfde...”
Die winde van verandering het jare terug reeds Oranje Jag se deure toegewaai en beheeraksies is grotendeels geprivatiseer. Lees maar die landbouwaarheid en jy sal baie advertensies van jakkalsjagters sien wie hul dienste aanbied. Van die slim planne wat die boere maak om hul skape teen jakkalse te beskerm, is om ‘n sender om een of twee skape in die trop se nekke te plaas. Wanneer die skape onreëlmatig of vinnig begin draf, “bel” die sender die boer om te waarsku dat iets die skape jaag.
‘n Ander blink plan is om Anatoliese Herdershonde saam met die skape te laat bly. Hierdie wonderlike honde hou enige vierbeen ondier van die trop af. Ander manne glo weer in ‘n donkie of twee om saam met die skape te loop. Glo my, aan vindingrykheid ontbreek dit nie as met jakkalse ‘n stryd gevoer word nie. Die gevolge is net dat met wat ook al probeer word, jakkals se kind net slimmer raak om die nuwe plan te omseil. Vir eeue al...
Die grootste probleem is egter die tweebeenjakkalse wat met volmaannagte in bakkies tussen plase rondsluip en sommer so 20 skape op ‘n slag in ‘n hoek vaskeer en laai. Die eerste ding wat hul doen is om die arme skape se ore wat die inkmerk op het, af te sny, sodat die skape nie uitgeken kan word nie. Wanneer die son opkom, is die bondel skape lankal geslag en herverdeel.
Ou Neef, wat maak ‘n mens as ander mense so lekker met jóú skape boer? Kyk, tussen al die vierbeen- en tweebeenjakkalse raak ‘n skaap nog ‘n bedreigde spesie in ons geweste...Sterkte op die Oosgrens.
Kleinneef
Publication: February 2013
Section: E-mails