• Login
  • Search Icon

Oor dinge wat nie werk nie!

August 2011

Beste Grootneef

My standerd 4 juffrou, ook bekend as ou Soes, het dit in ons ingedril – die verengelsing van ons taal is net so erg soos die “rooi gevaar”. Die vyand vir jong gemoedere was “anglisismes” en ‘n anglisisme laat vir Pannevis in sy graf omdraai...

Snaaks, na al die jare grief dit my steeds as mense Engelse terme gebruik waar goeie moedertaal die knoop sou kon deurhaak. Soos om te praat van die, luister mooi, “pavement”, as jy die sypaadjie bedoel. Of ‘n “show” by die KKNK as hulle eintlik bedoel hulle was by ‘n konsert... Of iets was “amazing”, bedoellend dit het jou die ritteltits gegee. Of die kinders wat sê iets was “cool” as hulle dit kwaai “laaik”.

Hoe dit ook al sy, ou Neef, dit is nou of nooit, ons moet vasstaan en die jonge telge daarop wys dat dié taal uit Afrika kom en nie ‘n souterige smakie nodig het nie.

Ou Neef, nog ‘n ding wat aan die gebeur is – onse kinders raak weg uit die land uit. Daar is min mense wat ek ken wat nie ‘n kind of ‘n familielid iewers oorsee het nie. Verlede week praat ek met Ousus in New York, terwyl die familie se Kleinsus in Suid-Korea sit. Jy kan maar sê, die wêreld is ons woning. Daar is nie meer grense nie, net geleenthede. Die probleem is, baie van die kinders spandeer ‘n jaar of twee in die buiteland, verdien nie sleg nie, raak verlief, verloof en verknog aan mense en stelsels wat werk en kom net nooit terug nie. Ek sê jou, dis nie lank nie, dan speel ‘n Van der Merwe vir die All Blacks...

Wyle Lucas Maree het gesing, “die goeters wat nie werk nie, maak my werklik nou gedaan en die diepvries het jou waarlik ook weer laasnag gaan staan...”. En dan laat loop hy met die vers “ek sou kon doen met ‘n miljoen!”

Ou Neef, vergeet van die bakkie se battery wat pap is. Ek praat van stelsels wat nie werk nie. Onlangs gesels ek met ‘n persoon wie ‘n tyd lank in die VSA tussen die Yanks gewoon en gewerk het en nou terug is in die Republiek. Op die vraag wat anders is hiér as dáár, het hy dadelik gesê dat die groot verskil is, dat dinge en stelsels daar wérk.

As dit in die nag sneeu, word die pad betyds skoon geskraap sodat die pad reg is vir spitsverkeer die volgende oggend. Niemand bel nie, niemand vra nie – die verantwoordelike mense wéét hulle moet dit doen en betyds doen. Vir iets simpels soos ‘n tennisbaanbespreking – wanneer jy opdaag vir jou spel (let wel, onderdakbane as gevolg van gure weer) is alles reg. Die mense weet van jou en dit is jóú uur op die baan. Die ander span ontruim op tyd, want sien, dinge werk.

Mediese sorg en hospitale werk. Die munisipaliteit se dienste en stelsels werk. Straatligte en robotte werk. So ook kontak met die staat; visums en werkspermitte word binne die beloofde tyd uitgereik. Die groot verskil sêg hy, is nie net die stelsels nie, maar ook die mense wat ín die stelsels werk. As jy nie presteer nie, is jy op jou alie uit. Dit is nie ‘n storie van hoeveel skriftelike waarskuwings en ‘n CCMA nie; plek vir passasiers wat op niksdoen floreer, bestaan nie daar nie.

Nou nie dat alles van die Yanks goed kan wees nie. Daar sal verseker ook probleme en gate in die mondering wees. Wanneer ek egter kyk na onse landjie se manier van doen, in ‘n veelvoud van staatsdepartemente en plaaslike owerhede, is die kiem in die pot dat goeters eenvoudig nie werk nie.

Die blinkste “strategiese” planne word gesmee, maar ‘n jaar of wat later, is bitter min daarvan in praktyk te sien. ‘n Model in die kleine van goed wat nie werk nie, is ons eie plaaslike mislikepaliteit. Die hele dorp is in onmin nadat die stadsvaders ‘n jaar terug besluit het op ‘n nuwe “stelsel” om die rekeninge te bestuur.

Die resultate hiervan was die begin van chaos. Dit is ‘n hopelose toestand man en dit blyk dat die regstel van blatante foute net nie moontlik is nie. Die gevolg is dat baie mense eenvoudig opgehou het om te betaal. Diegene wie wel aangehou betaal het, jy kan maar sê op ‘n skuiwende gemiddelde, se betalings reflekteer nie korrek op die rekeninge nie! En as jy die tou van klaers aandurf om navraag te doen, word skouers opgehaal en vinger gewys na die nare “stelsel”...

Vergeet van ons plaaslike moeilikheid. Dit is maar ‘n klein spoegie in die groot oseaan. Maar probeer maar jou geluk met ‘n nuwe paspoort, lisensie, ramphulp of watter interaksie ook al met ‘n plaaslike, provinsiale of nasionale owerheid en kyk hoe vinnig jy regkom.

Ou Neef, dalk lê die probleem by ons wat sokker probeer speel met rugbyreëls. Dalk moet ons anders begin dink en doen vir resultate. Soos Buurman altyd sê: “Afrika is nie vir sissies nie”. Probleem is net as mense biblioteke aan die brand steek omdat daar nie water of ligte in woongebiede is nie. Kyk maar om jou, oral optog en onlus dit oor goeters wat nie werk nie...Dit is ‘n lont wat brand, ek sê jou.

Groete op die Oosgrens! Werk jul grenspos nog?

Kleinneef

Publication: August 2011

Section: E-mails

Search