• Login
  • Search Icon

Ontmoet prof André Agenbag

April 2012

– Graan SA se Graanwetenskaplike van die Jaar 2011

image

KOBUS VAN TONDER, SA GRAAN/GRAIN MEDEWERKER

Vir onder meer sy bydrae tot volhoubare graanboerdery en pionierswerk op die gebied van bewaringsboerdery is die agronoom prof André Agenbag van die Universiteit van Stellenbosch einde verlede jaar as Graan SA se Graanwetenskaplike van die Jaar vereer.

Agtergrond

Graan SA vereer nie elke jaar ‘n wetenskaplike nie, maar hulle bly deurgaans op hoogte van die werk waarmee wetenskaplikes doenig is.

Die toevoeging van waarde tot winsgewendheid en die volhoubaarheid van produksiestelsels is veral twee aspekte waarop dié produsenteorganisasie sterk klem lê wanneer wetenskaplikes en ander kundiges vir verering oorweeg word. Dit is omrede die suksesvolle bedryf van landbou in die algemeen grootliks deur dié twee aspekte beïnvloed word.

Hierdie benadering deur Graan SA tot verering, vergroot die prestigewaarde daarvan en maak dit gevolglik soveel te meer spesiaal vir die ontvanger vir wie dit dan ook as ‘n groot en aangename verrassing kom.

Die mees onlangse ontvanger van dié eerbetoon is prof André Agenbag, dosent en navorser in die Departement Agronomie van die Universiteit van Stellenbosch se Fakulteit Agri-Wetenskappe.

Agenbag is al meer as 30 jaar by die graanbedryf betrokke en is wyd daarvoor bekend dat hy in dié tyd baanbrekerswerk vir onder meer bewaringsboerdery gedoen het.

Die toekenning het hom aangenaam verras en gevul met dankbaarheid. Ewig getrou aan sy beginsels van diens en nederigheid was sy eerste opmerking tydens die ontvangseremonie tipies spontaan: “Ek glimlag nou soos ‘n kat wat ‘n bakkie room ontdek het.”

Daarna het die professor onmiddellik voortgegaan en almal bedank vir die bydrae wat hulle gelewer het sodat hy sy werk met welslae kon verrig. Hy het dié verering as ‘n besonderse hoogtepunt en mylpaal in sy lang loopbaan beskou. “As wetenskaplike is dit vir my baie bevredigend om te kan sê dat die graanbedryf vooruitgegaan het, produksietegnologie verbeter het en die navorsing waarby ek betrokke was ‘n impak in die bedryf gehad het.”

Wanneer jy hom besoek vind jy dié professor in agronomie agter ‘n doodgewone lessenaar in sy doodgewone kantoor op die Welgevallen proefplaas van die Universiteit van Stellenbosch. Sy ware werkplek is die meer “oop” en lewegewende graanlande waar hy van diens kan wees.

Al die pad van Kakamas

Die mens in Agenbag moet jy egter op Kakamas loop soek, maar net as jy die stowwerige agterpaaie van die land neem om daar te kom. Die minder geskonde natuur langs paaie minder bereis is waar jy die stukkies van sy siel se legkaart sal vind.

Prof Agenbag is ‘n produk van die Kaapse noordweste, ‘n landstreek bekend vir die groot aantal skrander mense wat hy in verhouding tot sy klein bevolking oplewer.

Hy is op 4 Oktober 1950 op Kakamas gebore waar hy ook skoolgegaan het. Sy jeugjare het hy op die gesin se besproeiingsplaas aan die oewers van die destydse Oranjerivier deurgebring waar grootliks akkerbou beoefen is met gewasse soos lusern, katoen, ertjies, koring en later ook sultanas.

Sedert die eerste besproeiingskanale met die hand gegrawe is, word hardwerkendheid as ‘n deug beskou wat vroeg aangeleer moes word. Gevolglik was die jonge André al van laerskooldae aangemoedig om met die plaas werk te help.

Die verbouing van verskillende gewasse op die plaas het hom vroeg reeds aangetrek; al was dit net om ‘n beurt agter die trekker se stuurwiel te kry. Toe al was die saadbed goed voorberei vir ‘n spruitende agronoom, al het hy toe nog nie geweet hoe omvangryk dié begrip sou wees nie.

Koers gekry Stellenbosch toe

Die Universiteit van Stellenbosch se Departement Agronomie (vroeër se “Akkerbou en Weiding”) tel daar onder die oudste van departemente verbonde aan die Fakulteit Agri-Wetenskappe. Trouens, dié departement het al ‘n bykans eeu-lange en roemryke verbintenis met spesifiek die wintergraanbedryf in Suid-Afrika.

Hierdie departement was uit die staanspoor op die voorpunt met navorsing oor haas elke aspek van kleingraanverbouing en het ‘n deurslaggewende rol tot die ontwikkeling en latere suksesse van dié bedryf gespeel.

Onder studente het die departement eweneens groot aansien geniet vir die hoë standaard van kursusse en die wyse waarop dit aangebied was. Hulle kon verstommende staaltjies en dinge kwytraak oor die professore wat daar oor dekades heen klas gegee het. Hul kennis hoef g’n tree vir die ou Griekse wyshere terug te staan nie, het die studente geglo.

Dit alles het die jong Agenbag se ore bereik. Daarvan oortuig dat die wêreld van plante hom roep, het hy ná voltooiing van sy skoolopleiding nie vir ‘n oomblik geskroom om koers Stellenbosch toe te kry nie. Daar het hy die grade BScAgric (1973), MSc (1976) en PhD (1987) met Akkerbou as hoofrigting verwerf. Die Kaap is vandag steeds waar hy woon en werk.

Hy sê dat met wyle prof Eddie Laubscher as leermeester, kon hy eintlik nie anders as om ‘n lewendige belangstelling in die koringbedryf te ontwikkel nie. Buiten prof Laubscher se motiverende lesings leef sy nalatenskap onder meer voort in die Kaapse Kleingraan-ontwikkelingsvereniging en Groenteverbouing Onder Beskerming.

Vir die geesdriftige en soms onkonvensionele prof Laubscher het agronomie bykans eindelose moontlikhede gebied. Gevolglik het hy sy studente wat daarvan ‘n hoofstudierigting wou maak, sterk aangemoedig om eerstens daardie moontlikhede deeglik te ondersoek en dan, wanneer die finale keuse gemaak was, alle studiegeleenthede met tonne entoesiasme en ‘n kop so “oop” soos ‘n waenhuisdeur aan te gryp.

Benewens prof Laubscher, sonder Agenbag onder meer ook drs Wasserman en Craven uit vir ‘n groot bydrae wat hulle gelewer het om sy belangstelling in navorsing te prikkel.

Dit was dié kaliber akademici wat studente opgelei en aangemoedig het om met daad die woord uit te dra dat produktiewe en vrugbare grond ‘n land se ware rykdom is.

In 1974, ná voltooiing van sy universiteitstudies, het Agenbag ‘n betrekking as navorser by die destydse Winterreënstreek van die Nasionale Departement van Landbou aanvaar.

Hy beskou hierdie tydperk as besonder leersaam. Hulle het as navorsers nou met produsente saamgewerk en die meeste van hul tyd op proefplase of op produsente se plase deurgebring. Om deur middel van praktykgerigte navorsing, antwoorde vir onbeantwoorde vrae te vind en “boere-teorië” as geldig al dan nie te verklaar, kon hulle voldoen aan hul mentors se onuitgespreekte wense om gemeenskappe met hul nuutgevonde kennis te dien, eerder as om selfbelang na te jaag.

Die 1970’s was ook die dekade waarin geen- en minimumbewerkingstelsels in die Kaapse koringbedryf hul skamerige opwagting gemaak het. In 1976 en onder aanvanklik vele gespot van “geen bewerking – geen oes” begin hy dié rewolusionêre stelsels navors wat so ‘n groot sensasie in lande soos Australië was.

Groot was sy bevrediging om te sien hoe hierdie navorsing uiteindelik vrugte begin afwerp het. Wes-Kaapse kleingraanprodusente is besonder suksesvol daarmee in samehang met wisselbou. Die prestasie is soveel te meer merkwaardig gegewe die algemeen baie swak grondtoestande wat as klipperig, vlak en heuwelagtig beskryf kan word. Hierdie stelsels wen steeds vinnig veld en word reeds deur die meerderheid van produsente toegepas.

Maar helaas, sukses en tyd bring bevordering en daarmee saam hope administratiewe pligte wat navorsingsgeleenthede inkort. Hiervoor was Agenbag nie te vinde nie en in 1987, ná 13 jaar se diens, verruil hy die Winterreënstreek vir ‘n lektorspos en meer navorsingsgeleenthede by sy ou alma mater.

Bewaringsboerdery

Prof Agenbag is al meer as 30 jaar by die graanbedryf betrokke en doen steeds baanbrekerswerk vir bewaringsboerdery. Hy doen tans navorsing op die stikstof- en swaelbemesting van koring en kanola en hy’s die outeur van 60 wetenskaplike en meer as 90 populêre artikels.

As voorsiener van een van die stapelvoedsels van die wêreld, glo hy kan koring nie anders as om ‘n blink toekoms tegemoet te gaan nie. Die grootste uitdaging vir hom as wetenskaplike is om te help verseker dat Suid-Afrika weer soos vroeër genoeg koring produseer om in sy eie behoeftes te voorsien en selfs genoeg om ook na naburige lande uit te voer.

Oor watter nuwighede die kleingraanbedryf in die onmiddellike toekoms kan verwag, sê hy dat kleingraansoorte vir menslike verbruik binnekort aan dieselfde streng gehaltekontroles onderwerp gaan word soos wat byvoorbeeld op uitvoervrugte van toepassing is.

Die professor is ook nou by navorsing op oliesade betrokke. Volgens hom is oliesade tans wêreldwyd die gewasse waarin die grootste groei in sowel produksie as verbruik ondervind word. Die pryse van hierdie gewasse is besonder stabiel.

Suid-Afrika voer jaarliks groot hoeveelhede plantaardige olies en oliekoek in. Gewasse soos sojabone en kanola gaan dus tot in die toekoms nog ‘n baie belangrike rol in die Suid-Afrikaanse landbou vervul. Die verbouing daarvan sorg vir groot gemoedsrus by produsente.

Persoonlike lewe

Prof Agenbag en sy vrou, Susan, het drie dogters. Die oudste (Lize) het sy liefde vir plante geërf en is ‘n navorser by die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (SANBI) waar sy navorsing op bedreigde plantspesies doen. Die middelste (Lené) is ‘n mediese dokter en die jongste (Annaré) ‘n arbeidsterapeut.

image

Die gesin bestee soveel as moontlik van hul tyd in die natuur. Dit is dan wanneer jy hulle op die agterpaaie van die platteland sal vind. Dit is uit daardie ongerepte en dikwels verskuilde prag van die natuur waar hy en sy gesin soveel inspirasie put. Hy is ook ‘n ywerige voëlkyker.

Professor Agenbag is verder ook ‘n Genoot en ontvanger van ‘n erelidmaatskap van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Gewasproduksie.

Publication: April 2012

Section: Other Articles

Search