April 2015
ADRI THERON, SA Graan/Grain medewerker
Graan SA se voorsitter en uitvoerende hoofbestuurder se digitale boodskap, wat tydens Kongres uitgesaai is, het die klem op samewerking gelê, want as Suid-Afrikaners saamwerk kan ons probleme soos grondhervorming oplos en só verseker dat daar voedselsekerheid en stabiliteit in ons land is.
In 2014 was Graan SA se hooffokus grond en volhoubare produksie. Heelwat tyd en energie het gegaan in die vestiging van ‘n holistiese benadering tot grondhervorming en bewaringsgeoriënteerde ekonomies-lewensvatbare graanproduksie.
“Graan SA is ‘n moderne organisasie met ‘n moderne benadering tot die samelewing,” so sê mnr Louw Steytler, voorsitter van Graan SA. “Ons verstaan die uitdagings wat ons in die gesig staar; ons verstaan die noodsaaklikheid van transformasie in ons samelewing en ons verstaan die vrese en aspirasies van Suid-Afrikaners – veral in die landbousektor. Ons probeer om die uitdagings wat swart ekonomiese bemagtiging en grondhervorming bied, op te los sonder om die voorreg van voedselsekerheid wat alle Suid-Afrikaners geniet, te vernietig.
“Ons het ons verhoudings met die landbousektor se eenheidsforum, ASUF, versterk. Ons het voorts ook kapasiteit beskikbaar gestel sodat ons seker is daar is genoeg mense om die debat met die regering te bevorder. Ons het ook ‘n groot debat met Agri SA, met wie ons geaffilieer is, gehad om te verseker dat ons saamstem oor die beginsels waarmee ons onderhandelings benader. Dit lê in die bestek van ons invloedsfeer en ons verantwoordelikheid om die samelewing in te lig oor die ware realiteite wat die produksie van kommoditeite in Suid-Afrika betref, sodat hulle werklik die ware ekonomie van landbou kan verstaan.”
“2014 was nie net ‘n gewone jaar nie. ‘n Paar fundamentele goed het verander – en die eerste daarvan is waarskynlik grondhervorming. Ek wil dit vergelyk met ‘n ou land wat oor jare geploeg is en gekompakteer het. Nou moet daar ‘n diep skeurploeg gedoen word om daardie grond los te kry sodat bewaringsbewerking daarop toegepas kan word om nuwe vrug te bring. As ‘n land moet ons ook deur so ‘n proses gaan om by ‘n nuwe bedeling uit te kom sodat die nuwe generasie ‘n beter lewe en toekoms kan hê,” aldus mnr Jannie de Villiers, uitvoerende hoofbestuurder van Graan SA.
Me Jane McPherson, bestuurder: Graanprodusentontwikkelingsprogram, Graan SA, lei die span wat verantwoordelik is vir die oprigting van nuwe toetreders tot boerdery. Sy sê dat daar tans verkeerdelik op grondhervorming, grondherverdeling en restitusie gefokus word. “Die fokus moet eerder wees op hoe ons dit gaan regkry dat die grond wat oorgedra word, gebruik word om by te dra tot die bruto binnelandse produk en ons voedselmandjie. Ons het die boere en daar is die moontlikheid van die herverdeling van grond, maar die uitdaging lê daarin om die twee punte bymekaar te bring.”
Vir Graan SA is die fokus op die produktiewe gebruik van bewerkbare grond. “In Suid-Afrika het ons twee baie diverse stelsels. Daar is die kommunale stelsel waar mense tussen een en drie, miskien vyf hektaar grond het en aan die ander kant het ons die groot kommersiële produsente, waarvan ‘n paar swart boere (of nuwe era produsente) is. Gelukkig is hulle getalle aan die toeneem, maar ongelukkig nie so vinnig soos wat ons sou wou hê nie en tot ‘n groot mate is dit te wyte aan finansiering.”
Om van ‘n kleinboer na ‘n kommersiële produsent te beweeg, vereis ‘n totale nuwe insetvlak wat lei na ‘n bottelnek in groeivloei (sien Figuur 1). Dit is waar georganiseerde landbou, die regering en die privaat sektor die verskil maak. Deur hierdie gaping te vul, sal ons by grondhervorming verby beweeg en werklik transformeer.
Terselfdertyd moet ons elke graan- en sandkorrel koester; elke druppel water effektief benut. Bewaringslandbou is nie meer ‘n opsie nie; dit het ‘n noodsaaklikheid geword. Dr Hendrik Smith, Graan SA se Bewaringslandbou fasiliteer der, sê die organisasie lewer ‘n groot bydrae om hierdie benadering tot boerdery te bevorder.
“Wêreldwyd heers daar kommer oor die agteruitgang van ons na tuurlike hulpbronne. Een van die groot probleme is intensiewe grondbewerkingsmetodes wat lei tot die ernstige agteruitgang van gronde. In Suid-Afrika is die grondverlies onder watererosie rondom 13 ton per hektaar per jaar. Ons verloor met ander woorde amper 3 ton grond per ton mielies per jaar wat ons produseer. Dit is eenvoudig net nie volhoubaar nie.
“Ons het gesien dat bewaringslandbou so belangrik is dat ons ‘n aparte werkskomitee binne Graan SA geskep het om hier op te fokus en te verseker dat die inligting die produsente bereik. Ons vorm vennootskappe met veral produsente en hulle strukture, maar ook ander belangrike rolspelers, soos navorsers, inset verskaffers en vervaardigers.
Ons het ook vennootskappe met internasionale rolspelers, soos Argentinië, by wie ons baie leer oor bewaringslandbou. Op die oomblik sien ons ‘n baie positiewe opwaartse kurwe in die aanvaarding van bewaringslandbou – veral in gebiede waar ons projekte in samewerking met produsente loods.”
Om die uitdagings van veranderende omstandighede in die natuur die hoof te bied, verg voortdurende navorsing en ontwikkeling oor ‘n wye front. “As deel van ons langtermyn strategiese plan vir navorsing en ontwikkeling, het ons besluit om ons eie spesifieke graannavorsings- en ontwikkelingsplan te ontwikkel,” het dr Marinda Visser, bestuurder: Bedryfsdienste, Graan SA, gesê, wat hierdie funksie binne die organisasie bestuur.
“Daar is baie navorsing oor die sewe kommoditeite wat ons administreer – veral trustbefondsde projekte, maar ons het ook 'n nuwe rigting begin waar ons kyk na alternatiewe befondsing wat ons self inisieer en waar ons netwerke van wetenskaplikes aanstel om die navorsing vir ons te doen.
“Ons het tans twee projekte van dié aard, waarvan die een handel oor die bestuur van springhaasrotte op mielies en die ander een is ‘n nasionale koringvoortelingsprojek wat ons doen in samewerking met die Departement van Wetenskap en Tegnologie.”
Naas tegnologie en grondbewaring is aanpassing by ekonomiese bewegings ‘n sleutelelement in volhoubare graanproduksie. “Dit is ‘n realiteit dat Suid-Afrikaanse kommoditeitsproduksie in moontlik die mees kompeterende mark in die wêreld plaasvind, met bitter min regeringsondersteuning in die vorm van tariefbeskerming vir primêre produsente.
Dit het ‘n negatiewe effek op die winsgewendheid en volhoubaarheid van landboukommoditeitsproduksie – veral vir nuwe toetreders tot die landbousektor. Ons moet die landbou-omgewing in geheel holisties heroorweeg om ‘n omgewing te skep waarbinne kommoditeitsproduksie kan floreer.”
Visser sê voorts die feit dat die helfte van ons plaaslike koring behoeftes op invoere aangewese is, maak ons weerloos wat stapelvoedselsekerheid betref. Graan SA is daarom besig om alle belanghebbendes aan boord te kry om die herlewing van ons plaaslike produksie te fasiliteer. Wat die ander kommoditeite betref, dien die organisasie se markontwikkeling as dryfkrag en veiligheidsnet om produksie te stimuleer.
“Strategies het ons besluit om markte plaaslik en internasionaal te ontwikkel om seker te maak dat die produsente die vryheid het om meer te produseer,” verduidelik De Villiers. “Die plaaslike hoenderbedryf en die geelmieliebedryf groei. Die witmieliebedryf het ‘n plafon bereik, terwyl die sojabedryf baie uitgebrei het met die nuwe olieperskapasiteit wat opgerig is. Ons wag nog vir die biobrandstofaankondiging – die sorghumbedryf behoort ook ‘n groot inspuiting te kry wanneer dit gebeur. Ons is baie opgewonde oor die groei in uitvoermoontlikhede. Die afgelope jaar het ons die ooreenkoms met China gefinaliseer en het ons ‘n vrag mielies na Saoedi-Arabië uitgevoer. Dit is lande wat groot hoeveelhede mielies invoer, waarmee ons meer permanente verhoudings wil vestig.”
In ‘n omgewing wat deur verandering gekenmerk word, is vinnige toegang tot inligting kritiek. Graan SA het daarom sy kommunikasievoetspoor uitgebrei om, naas die gebruik van tradisionele media, die effektiewe gebruik van die internet en sosiale media in te sluit. Dit verseker ‘n onmiddellike interaktiewe dimensie en dien ook om die gaping tussen produsent en verbruiker te oorbrug. As sodanig sal hierdie kommunikasieskakels al meer belangrik word in 2015.
Volgens De Villiers gaan 2015 ‘n jaar wees waar daar gepoog gaan word om al meer op die sosiale sy van die besigheid te fokus. “Ons het al baie gedoen wat die opleiding van plaaswerkers betref, so ons wil nou verder gaan deur te kyk na die moontlikheid van poswaardering vir die verskillende kategorieë van plaaswerkers, leiding te gee in terme van salarisse en miskien ook ander werksvoordele te verbeter.”
2015 is ook die jaar waarin grondhervorming uitgesorteer sal moet word. As gevolg van droogtetoestande sal Graan SA baie energie gebruik om sy lede deur die komende moeilike seisoen te dra. Voorts sal gekyk word na die herstrukturering van die organisasie om toenemend aan die behoeftes van produsente te voldoen.
“Graan SA gaan ‘n groot rol speel in die vereniging en genesing van die toekomstige landbousektor en sodoende ook die res van die samelewing beïnvloed,” aldus Steytler. “Wat ons nodig het, is ‘n eenvoudige visie vir ons toekoms, samewerking deur die bank en ‘n ommeswaai na dié samewerking wat die hoeksteen was van oudpresident Nelson Mandela se visie vir Suid-Afrika, waar alle Suid-Afrikaners die uitdagings wat ons in die gesig staar aanvaar, omdat ons op daardie manier die uitdagings met redelike gemak sal oorkom. Die ‘ons-en-hulle’-era is, sover dit ons betref, verby en ons moet aanbeweeg na ‘ons’.”
Publication: April 2015
Section: Special feedback