March 2013
PROF CHARLIE REINHARDT, BUITENGEWONE PROFESSOR IN ONKRUIDWETENSKAP, UNIVERSITEIT VAN PRETORIA, DEKAAN: VILLA ACADEMY
In 2010 het ‘n opname deur die Voedsel- en Landbou-organisasie (VLO) van die Verenigde Nasies (VN) in Afrika, Asië en Latyns-Amerika getoon dat kontaminasie van geregistreerde gewassaad met onkruidsaad ‘n groot probleem is. Gewassaad wat met onkruidsade en –plantdele besmet is, dra by tot die verspreiding van onkruide na plekke waar dit vantevore nie ‘n probleem was nie.
Dit plaas die addisionele las van verhoogde onkruidbeheerkoste op die skouers van produsente. Ook die gradering van gewassaad word deur die teenwoordigheid van onkruidsade beïnvloed en afkeuring van besendings is moontlik in geval van sekere onkruidsoorte.
Samewerking tussen lande en streke vir kwaliteitbeheer, sertifisering en bemarking van gewassaad, is belangrik. Hierdie ideaal word egter in veral ontwikkelende lande deur politiekery en onkunde gekortwiek.
Indien die bemarking van gewassaad en graan toegelaat sou word om ‘n belangrike vektor vir die verspreiding van skadelike onkruide te wees, sal dit op die lang duur nadelig wees vir sosio-ekonomiese vooruitgang en voedselsekerheid.
Voorbeelde van hoe onkruide beweeg
‘n Plant wat ‘n gebied nuut binnekom kan binne enkele jare so dramaties toeneem dat dit onkruidstatus verwerf. Van ons bekendste onkruide het tydens die Anglo-Boereoorlog deur menslike toedoen hier beland, byvoorbeeld: kakiebos (Tagetes minuta), knapsekêrel (Bidens pilosa), smeltersbossie (Flaveria bidentis) en selfs die mooie kosmos (Bidens formosa) – almal vanaf Suid-Amerika.
Mense het nog altyd plante óf onbewustelik (byvoorbeeld saam met gewassaad) óf bewustelik (byvoorbeeld vrugte- en sierplante) op hul migrasies saamgeneem. Drabok of raaigras (Lolium temulentum) is die eerste plantsoort wat onkruidstatus in Suid-Afrika verwerf het – in 1659 met ‘n proklamasie deur Jan van Riebeeck.
Vandag is L. temulentum steeds ‘n onkruid in die Wes-Kaap waar dit verbaster het met ander Lolium-soorte. Die skrywer Boerneef wys in sy boek Boplaas (1938) op die skadelike nagevolge van sade van wildehawer (Avena fatua) en raaigras wat in koringsaad voorkom. Al hierdie onkruide het oorspronklik as kontaminante van gewassaad uit Europa na die suidpunt van Afrika gekom.
‘n Onlangse geval van migrasie van ‘n belangrike onkruid uit sy oorspronklike habitat is dié van tarentaalgras (Rottboellia cochinchinensis) – Foto 1a en Foto 1b.
Ek het gedurende 2012 bewus geraak van die voorkoms van tarentaalgras op gewaslande in die Delmas-, Lichtenburg- en Middelburg- (Mpumalanga) distrikte. Wat hierdie verspreidingspatroon besonders maak, is dat tarentaalgras veronderstel is om tot sub-tropiese gebiede beperk te wees, altans volgens die literatuur.
KwaZulu-Natal en die vogtige dele van die Laeveld word aangedui as ‘n ideale habitat vir tarentaalgras en dit kom ook wyd en volop voor in die vogtiger dele van lande noord van Suid-Afrika.
Alhoewel die fokus hier op onkruidsaad in geregistreerde gewassaad is, moet onthou word dat onverwerkte graan, wat byvoorbeeld in voedselhulp-programme wyd oor die wêreld versprei word, logies ook ‘n belangrike manier van onkruidverspreiding is. Tipies ontstaan so ‘n probleem wanneer gewasproduksie gebuk gaan onder swak kennis en kontrole oor onkruidbeheerpraktyke.
Die mens se rol
Weens toenemende mobiliteit en tegnologie het die mens belangriker geword as die natuurlike faktore (soos wind en water) wat onkruidverspreiding betref. Onkruidsaad in grond wat kleef aan skoene, voer tuie en implemente kan binne ‘n enkele dag oor honderde en selfs duisende kilometers vervoer word.
Dieselfde geld vir onkruidsaad wat in gewassaad teenwoordig is, hetsy as kontaminante in primêre voedselprodukte (byvoorbeeld onverwerkte graan) of in geregistreerde gewassaad.
Gewassaad in die algemeen en veral gesertifiseerde gewassaad, behoort vry te wees van onkruidsaad en -plantdele (byvoorbeeld bolle, knolle en stingels) waaruit plante kan hergroei. “Zero toleransie” behoort die reël te wees vir skadelike onkruide wat volgens wetgewing as skadelik en/of moeilik-beheerbaar geklassifiseer word.
Huidige Suid-Afrikaanse wetgewing oor onkruide en indringerplante maak deel uit van die Wet op die Bewaring van Landbouhulpbronne (CARA), 1983 (Wet 43 van 1983, soos gewysig in 2001). Nuwe wetgewing is intussen geskep onder die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Biodiversiteit, Nr. 10 van 2004 (ook bekend as NEMBA – Departement van Water en Omgewingsake).
Eienskappe van problematiese onkruide
Soos gestipuleer in meeste produksiestandaarde vir gesertifiseerde sade moet die lande so vry as moontlik van onkruide wees sodat oesopbrengs nie benadeel word nie en die moontlikheid beperk word dat onkruidsaad in die geoeste saad kan beland.
Aankopers van graan pas streng riglyne toe waarvolgens gewassaad afgekeur word indien bepaalde skadelike onkruide se sade daarin sou voorkom; vir onkruide wat besonder skadelik geag word, geld zero toleransie.
Hierdie beheermaatreëls is nie alleenlik gerig op voorkoming van onkruidverspreiding nie, maar veral op die uitskakeling van toksisiteit vir verbruikers (mens en dier) asook slegte smake wat die produk se waarde kan verlaag.
Die nasionale beheerliggaam vir plantsade is die Suid-Afrikaanse Nasionale Saadorganisasie (SANSOR).
Sekere eienskappe van onkruide en spesifiek hul sade, bemoeilik nie alleenlik hul beheer nie, maar ook maatreëls om te voorkom dat hulle tussen gewassade beland:
Publication: March 2013
Section: Input Overview