• Login
  • Search Icon

Onkruide in die winterreënvalstreek: Deel 2

July 2014

Wildehawer (wild oats)
 

image

PJ PIETERSE, Departement Agronomie, Universiteit van Stellenbosch

Wetenskaplike naam: Avena-spesies (Avena barbata, A. fatua, A. sterilis)
Afrikaanse naam: Wildehawer (wildebaardhawer [A. barbata], gewone wildehawer [A. fatua], groot wildehawer [A. sterilis])
Engelse naam: Wild oats (slender wild oats [A. barbata], common wild oats [A. fatua], tall wild oats [A. sterilis])

Naas raaigras, is wildehawer (Avena-spesies) seker die belangrikste grasonkruid in gesaaides in die winterreënvalstreek. Daar is hoofsaaklik drie spesies wat voorkom, naamlik Avena fatua (gewone wilde hawer), A. barbata (wildebaardhawer) en A. sterilis (groot wildehawer). Laasgenoemde spesie het twee sub-spesies, naamlik. A. sterilis ssp. sterilis en A. sterilis ssp. ludoviciana.

Wildebaardhawer is nie juis ‘n faktor in landerye nie omdat dit meestal in versteurde areas, soos padreserwes, voorkom en swak kompeteer met gewasse. Gewone wildehawer is waarskynlik die spesie wat die meeste voorkom in landerye en daarom kan dit moontlik as die belangrikste van die spesies beskou word.

Groot wildehawer kom nie so wydverspreid voor nie, alhoewel dit deur bronne in Europa as ‘n baie meer aggressiewe kompeteerder beskou word (koringverliese van tot 70 kg/ha vir elke pluim wildehawer per m²).

Vir die doel van hierdie artikel sal gewone wildehawer dus as standaard gebruik word en word aanvaar dat chemiese en nie-chemiese beheermetodes wat daarvoor effektief is ook vir die ander spesies effektief sal wees. Die drie spesies lyk nie veel verskillend wat die voorkoms van die plante self betref nie. Al drie is eenjarige, polvormende grasse wat tussen
80 cm (wildebaardhawer) en 1,2 m (groot wildehawer) lank kan word.

Halms en blaarskywe is gewoonlik glad, terwyl die blaarskedes van wildebaardhawer en groot wildehawer dikwels behaard is, veral by die onderste blare, maar die blaarskedes van gewone wildehawer is glad. Die blaartongetjie (liguul) is membraanagtig, groot, stomp en tussen 4 mm en 8 mm lank. Bloeiwyse is ‘n oop, los pluim waarvan die blompakkies in die geval van wildebaardhawer veral na die een kant toe hang, terwyl die ander twee spesies s’n eweredig rondom die bloei-as gerangskik is.

Sade lyk soos tipiese hawersaad, is harig en is gerond aan die een kant met ‘n spleet aan die ander kant. Die kleure wissel van wit tot strooikleurig tot donkerbruin. Groot wildehawersaad kan redelik maklik van die ander twee spesies onderskei word deurdat die twee sade nie losbreek van mekaar voordat dit uit die blompakkie val nie en dus meeste van die tyd twee-twee voorkom, terwyl die ander twee spesies se sade gewoonlik losbreek van mekaar voordat of wanneer dit uit die blompakkie val en dus meestal een-een voorkom. Die sade se grootte varieer van 7 mm lank en 1,8 mm breed (wildebaardhawer) tot 1 cm lank en 2 mm breed (groot wildehawer).

image

Voorkoms en verspreiding

Wildebaardhawer kom wydverspreid in Suid-Afrika voor, gewone wildehawer hoofsaaklik in die suidelike Kaapprovinsie en graanproduserende gebiede van die Vrystaat en groot wildehawer kom wydverspreid in die winterreënvalstreek voor. Al die spesies is winter onkruide wat op versteurde plekke en langs paaie voorkom en gewone en groot wildehawer is ook belangrike onkruide in landerye, veral koringlande.

Wildehawer was vroeër die belangrikste grasonkruid in die winterreënvalstreek, maar met die toename in minimum- en geenbewerking het raaigras baie belangriker geword en wildehawer in meeste gevalle verplaas as die algemeenste onkruid.

Dit blyk egter asof sekere toestande (moontlik baie nat, koue winters) die ontkieming en groei van wildehawer stimuleer en in sulke jare veroorsaak wildehawer heelwat meer probleme. Soos reeds genoem, is wildehawer ‘n besonderse sterk kompeteerder met gewasse. Dié plante is ook berug vir uiters rustende sade en wildehawersaad kan, afhangende van omgewingstoestande, vir ‘n paar maande tot soveel as 14 jaar lank lewenskragtig bly in die grond.

In Australië is egter waargeneem dat twee agtereenvolgende braaklandjare die wildehawersaadpopulasie met 99% verminder het. Die relatiewe groot saad wat van dieper dieptes kan vestig asook die langlewendheid van die saad, veroorsaak dat begrawing soos met ‘n skaarploeg, nie so effektief is op wildehawer soos op raaigras nie.

Beheer

Chemiese beheer
Die lys van onkruiddoders wat vir wildehawer geregistreer is wat in die publikasie A Guide for the chemical control of weeds in South Africa genoem word, word in Tabel 1 aangetoon. ‘n Oorgrote meerderheid van hierdie onkruiddoders is vir beheer van gewone wildehawer geregistreer, maar daar word aangeneem dat ‘n onkruiddoder wat effektief teen een spesie is, ook effektief op die ander spesies sal wees mits daar nie weerstand daarteen ontwikkel het nie.

image image

Daar is ook ‘n paar onkruiddoders en toepassings bygevoeg wat geregistreer is nadat die gids gepubliseer is asook sommige nie-selektiewe onkruiddoders wat nie spesifiseer watter onkruidspesies beheer word nie, maar wat wel effektief teen wildehawer is as daar nie weerstand is nie.

Dit is noodsaaklik dat produsente en/of chemiese vervaardigings- en bemarkingsmaatskappye probeer vasstel wat die weerstandstatus van wildehawer in ‘n land is voordat onkruiddoders daarop toegedien word. Indien daar nie weerstand teen 'n spesifieke onkruiddoder is nie, moet sorg gedra word dat die onkruiddoder onder goeie spuittoestande en die korrekte dosis toegedien word op onkruid wat nie groter as die vierblaar-stadium is nie.

Te hoë en te lae dosisse veroorsaak hoë seleksiedruk vir teikensetel- en nie-teikensetelweerstand onderskeidelik. Wissel ook die gebruik van ‘n effektiewe onkruiddoder so gereeld as moontlik af met ander onkruiddoders met ‘n ander werkswyse (met ander woorde in 'n ander werkswyse-groep).

In Tabel 1 word aangedui teen watter onkruiddoders wat geregistreer is vir beheer van wildehawer, daar alreeds bewese of vermoedelike weerstand waargeneem is. Alhoewel weerstand teen onkruiddoders in wildehawer nie op so ‘n groot skaal voorkom as in raaigras nie, is daar tog ook baie gevalle van weerstand aangeteken en waargeneem.

Dit is egter makliker om weerstand in wildehawer te beheer veral as dit in die vroeë stadium waargeneem kan word. Omdat wildehawer selfbestuiwend is, sal ‘n weerstandbiedende plant se weerstandsgene net deur middel van saad oorgedra word en dit kom dus kol-kol op ‘n land voor waar die weerstandbiedende moederplant die vorige jaar gestaan het. Indien die wildehawerplante opgespoor kan word voordat die saad ryp word en uitgestort word, kan die kolle plante maklik met die hand uitgetrek word of met ‘n nie-selektiewe onkruiddoder lokaal doodgespuit word.

Alternatiewe beheer
Dit is uiters noodsaaklik dat daar nie net op chemiese beheermetodes staatgemaak word om wildehawer te beheer nie. Bewerking van lande om wildehawersaadpopulasies te verminder, is nie so effektief soos vir raaigras nie as gevolg van die groot sade wat van redelik diep af kan vestig. Omdat die sade ‘n relatiewe lang lewensverwagting het vergeleke met raaigras, is dit moontlik dat rustende sade wat voorheen ondergeploeg is, weer boontoe geploeg kan word.

In ‘n land wat swaar met weerstandbiedende wildehawer besmet is, kan die populasies net so effektief verminder word deur in 'n seisoen groen- of bruinbemesting in te werk of hooi te maak met mak hawer of enige ander geskikte hooigewas. In ‘n weidingsrotasie kan daar ook van aarspuitwei (pasture topping) gebruik gemaak word. Vir meer metodes om weerstand te bestuur, word verwys na die pamflet Volhoubare gewasproduksie in die teenwoordigheid van onkruiddoderweerstand wat by enige van die chemiese vervaardigings- of bemarkingsmaatskappye beskikbaar behoort te wees.

Bedankings en verwysings

Die volgende persone het die artikel krities deurgelees en voorstelle ter verbetering gemaak waar nodig: Prof Andy Cairns (Universiteit van Stellenbosch), dr Erik Eksteen (Syngenta), mnr Org Lotter (Bayer CropScience), mnr Jim McDermott
(Du Pont), mnr Hannes Schoeman (Monsanto), mnr Frik Potgieter (Nulandis) en mnr Dirk van Eeden (Terason).

Die lys van geregistreerde onkruiddoders is verkry vanuit die publikasie: A Guide to the chemical control of weeds in South Africa: A CropLife South Africa Compendium. Bestel by info@cropsolutions.co.zaof 011 079 4199.

Inligting is ook verkry vanuit die boek Onkruide in gewasse en tuine in Suidelike Afrika en is beskikbaar by die LNR-Instituut virGraangewasse, Privaat sak X1251, Potchefstroom, 2520. KontakMary James by 018 299 6253 of JamesM@arc.agric.za.

Die boek Probleemplante en indringeronkruide van Suid-Afrika deur Clive Bromilow, is ook geraadpleeg en is beskikbaar by die meeste boekhandelaars of raadpleeg die webtuiste van die uitgewers by www.briza.co.za.

Die pamflet Volhoubare gewasproduksie in die teenwoordigheid van onkruiddoderweerstand is ook in PDF-formaat te kry by die skrywervan hierdie artikel by pjp@sun.ac.za. Dit is ook (in Engels) beskikbaarop die CropLife SA webtuiste (http://www.croplife.co.za/).

Publication: July 2014

Section: On farm level

Search