June 2014
PJ PIETERSE, Departement Agronomie, Universiteit van Stellenbosch
Wetenskaplike naam: | Lolium spesies (Lolium multiflorum, L. perenne, L. rigidum, L. temulentum) |
Afrikaanse naam: | Raaigras, roggras (eenjarige raaigras, Italiaanse raaigras, meerjarige raaigras, Switserse of Wimmera raaigras, drabok) |
Engelse naam: | Ryegrass (annual ryegrass, Italian ryegrass, Perennial ryegrass, Rigid ryegrass, Darnel) |
Raaigras (Lolium spp.) is die belangrikste grasonkruid in die winterreënstreek van Suid Afrika. Die raaigraskompleks bestaan uit vier Lolium-spesies en basters van die spesies. Die spesies is Lolium multiflorum (Italiaanse of eenjarige raaigras), L. rigidum (eenjarige raaigras of Switserse raai gras), L. temulentum (drabok) en L. perenne (meerjarige raaigras).
Met verloop van tyd het dié spesies so vrylik met mekaar gekruis dat daar baie selde 'n spesifieke spesie onderskei kan word waar dit in die natuur as onkruide voorkom en dus word die kompleks net as Lolium spp. beskryf.
Weens die groot genetiese variasie in die plantkompleks, kom daar dan ook baie verskillende vorms voor, maar oor die algemeen kan raaigras grootliks herken word aan die blaarskyf wat helder- tot donkergroen, haarloos en blink is op die boonste oppervlakte, met 'n bleker, dowwer groen op die onderste oppervlak.
Die bloeiwyse is ook ‘n baie kenmerkende aar van tot 30 cm lank met sittende blompakkies in holtes aan afwisselende kante van die as. Al hierdie verskillende spesies en basters het 'n polagtige groeiwyse en is eenjarig tot meerjarig en tot
1 m hoog.
Die pol kan groot en robuus wees met baie halms (soos by die Italiaanse raaigrastipes) of yl met min halms (plante wat nader aan die onkruidtipes verwant is). Blaarskedes is meestal bleek, rond aan die agterkant, met ‘n blaartongetjie (liguul) wat membraanagtig en tot 2,5 mm lank is. Sade varieer baie – van klein, ligte sade van ongeveer 3 mm lank en 1 mm breed tot ongeveer 6 mm lank en 2 mm breed.
Voorkoms en verspreiding
Raaigras kom wydverspreid in Suid-Afrika voor, maar in die winterreënvalstreek is dit die belangrikste onkruid in gesaaides gedurende die groeiseisoen en ook in wingerde en boorde is dit een van die belangrikste onkruide wat voorkom.
Wat raaigras ‘n besonder gedugte onkruid maak, is die feit dat dit geneig is om weerstandbiedendheid teen onkruiddoders te ontwikkel.
Dit word daarom ook as die nommer een weer standbiedende onkruid wêreldwyd beskou. Verskillende faktore dra hiertoe by, maar die genetiese variasie wat in die spesiekompleks voorkom, is waarskynlik die belangrikste faktor. Buiten die winterreënvalstreek, gee raaigras ook besonder baie probleme in besproeiingsgebiede in die Noord-Kaap.
Die groot swaai na geen- of minimumbewerking die afgelope paar dekades, het raaigras se biologie soos ‘n handskoen gepas en die klein saadjies, wat vroeër deur middel van grondbewerkings te diep begrawe is om as saailinge te vestig, lê nou op of baie vlak onder die grondoppervlak en toestande om te vestig is optimaal daarvoor.
Omdat eenjarige raaigras ook vroeër jare wyd aangeplant is as weidings in die Suid-Kaap, word daar deesdae groot probleme daarmee ondervind. Daar is ook waargeneem dat sekere raaigrasbiotipes nie soos voorheen hoofsaaklik in die begin van die seisoen ontkiem nie, maar ontkieming vind nou regdeur die seisoen plaas. Dit het implikasies vir die onkruidbeheerprogramme wat gevolg word.
Beheer
Chemiese beheer
Die lys van onkruiddoders wat vir raaigras geregistreer is, wat in die publikasie A guide for the chemical control of weeds in South Africa genoem word, onderskei tussen die verskillende spesies soos wat dit op die etikette van die onkruiddoders voorkom, maar in Tabel 1 is alle onkruiddoders wat vir enige van die spesies geregistreer is, bymekaar gevoeg.
Daar word aangeneem dat ‘n onkruiddoder wat effektief teen een spesie is, ook effektief op die ander spesies en basters daarvan sal wees mits daar nie weerstand daarteen ontwikkel het nie. Daar is ook ‘n paar onkruiddoders en toepassings bygevoeg wat geregistreer is nadat die gids gepubliseer is asook sommige nieselektiewe onkruiddoders wat nie spesifiseer watter onkruidspesies beheer word nie, maar wat wel effektief teen raaigras is as daar nie weerstand is nie.
Dit is noodsaaklik dat produsente en/of chemiese vervaardigings- en bemarkingsmaatskappye probeer vasstel wat die weerstandstatus van raaigras in ‘n land is voordat onkruiddoders daarop toegedien word. Indien daar nie weerstand teen ‘n spesifieke onkruiddoder is nie, moet sorg gedra word dat die onkruiddoder onder goeie spuittoestande en die korrekte dosis toegedien word op onkruid wat nie groter as die vierblaar-stadium is nie.
Te hoë en te lae dosisse veroorsaak hoëseleksiedruk vir teikensetel- en nie teikensetelweerstand onderskeidelik. Wissel ook die gebruik van ‘n effektiewe onkruiddoder so gereeld as moontlik af met ander onkruiddoders met ‘n ander werkswyse (met ander woorde in 'n ander werkswysegroep).
In Tabel 1 word aangedui teen watter onkruiddoders wat geregistreer is vir die beheer van raaigras, daar alreeds bewese of vermoedelike weerstand waargeneem is.
Alternatiewe beheer
Dit is uiters noodsaaklik dat daar nie net op chemiese beheermetodes staatgemaak word om raaigras te beheer nie. Soos hierbo genoem, is raaigras se klein saadjies baie gevoelig vir diep begrawing en 'n skaarploegbewerking kan tot soveel as 90% van raaigrassade uit die sisteem neem.
Dit is egter baie nadelig vir verskeie grondeienskappe om te ploeg en ‘n land wat swaar met weerstandbiedende raaigras besmet is, se populasies kan net so effektief verminder word deur in ‘n seisoen groen- of bruinbemesting in te werk of hooi te maak met hawer of enige ander geskikte hooigewas.
Vir meer metodes om weerstand te bestuur, word verwys na die pamflet Volhoubare gewasproduksie in die teenwoordigheid van onkruiddoderweerstand wat by enige van die chemiese vervaardigings- of bemarkingsmaatskappye beskikbaar behoort te wees.
Bedankings en verwysings
Die volgende persone het die artikel krities deurgelees en voorstelle ter verbetering gemaak waar nodig: Prof A.L.P. Cairns (Universiteit van Stellenbosch), dr Erik Eksteen (Syngenta), mnr Org Lotter (Bayer Crop Science), mnr Jim McDermott (Du Pont), mnr Hannes Schoeman (Monsanto), mnr Frik Potgieter (Nulandis) en mnr Dirk van Eeden (Terason).
Die lys van geregistreerde onkruiddoders is verkry vanuit die publikasie: A Guide to the chemical control of weeds in South Africa: A CropLife South Africa Compendium. Bestel by info@cropsolutions.co.za of 011 079 4199.
Inligting is ook verkry vanuit die boek Onkruide in gewasse en tuine in Suidelike Afrika en is beskikbaar by die LNR-Instituut virGraangewasse, Privaat sak X1251, Potchefstroom, 2520. KontakMary James by 018 299 6253 of JamesM@arc.agric.za.
Die boek Probleemplante en indringeronkruide van Suid-Afrika deur Clive Bromilow is ook geraadpleeg en is beskikbaar by die meeste boekhandelaars of raadpleeg die webtuiste van die uitgewers: www.briza.co.za.
Die pamflet Volhoubare gewasproduksie in die teenwoordigheid van onkruiddoderweerstand is ook in PDF-formaat te kry by die skrywervan hierdie artikel by pjp@sun.ac.za. Dit is ook (in Engels) beskikbaarop die CropLife SA webtuiste (http://www.croplife.co.za/).
Publication: June 2014
Section: Input Overview