• Login
  • Search Icon

Onkruidbeheer in 'n wisselbouprogram is met 'n bietjie moeite moontlik

September 2013

FIRES VAN VUUREN, SA GRAAN/GRAIN MEDEWERKER EN PIETMAN BOTHA, SA GRAAN/GRAIN MEDEWERKER

Volgende jaar se gewaskeuse is een van die belangrikste aspekte wat soms buite rekening gelaat word wanneer produsente hul keuse oor onkruiddoders maak. Erge probleme het al kop uitgesteek as gewasse op lande geplant is sonder om vooraf seker te maak watter onkruiddoderprogram en toedieningshoeveelhede van ‘n spesifieke onkruiddoder die vorige seisoen toegedien is.

Wisselbou met verskillende gewasse is een van die vereistes wat ‘n groter wordende rol begin speel met die beplanning van onkruiddoderprogramme. Die redes is voor die hand liggend: Die besluitnemers se reaksietyd het dramaties verkort ten opsigte van gewaskeuses vir opeenvolgende seisoene en word direk deur winsgewendheid beïnvloed.

Die aspekte en voordele betreffende wisselbou, soos siektebekamping, die opbou van grondvrugbaarheid met peulgewasse, aanpassings in meganisasie en bestuursvernuf ten opsigte van verskillende gewasse, is verder van kardinale belang. Feit van die saak is: Wisselbou in gewasproduksie is een van die belangrikste besluitnemingsdrywers op plaasvlak.

Produsente moet dus seker maak dat die onkruiddoders wat hulle gaan toedien, voorsiening maak vir die plant van moontlike gewasse wat die daaropvolgende seisoen aangeplant kan word.

Faktore wat onkruiddoderkeuse gaan beïnvloed

Ouer chemie wat in die verlede (en tans) in mielies gebruik word en wat die basis van baie programme uitgemaak het, soos die triasiene – veral atrasien en terbutielasien – se onthoudingsperiodes is baie lank.

Produkte se leeftye word aangegee, maar daar is verskeie aspekte, soos die grondtipe, reënval, temperatuur en talle ander faktore wat die leeftye beïnvloed. Afhangend van die hoeveelhede wat toegedien is, was skoon lande veral in ‘n monokultuursituasie maklik bereikbaar en produsente het gewoond geraak aan lande wat teen strooptyd in die meeste gevalle nog relatief skoon was.

Die speelveld verander egter drasties as wisselbou in die prentjie kom en programme moet so aangepas word om voorsiening te maak vir gewasse soos byvoorbeeld sonneblom, droëbone, sojabone en aartappels wat gevoelig vir onkruiddoders kan wees.

Die uitlating is al gemaak dat “skoon lande”, veral teen die einde van die seisoen, nie moontlik is waar wisselbouprogramme toegepas word nie; met slim keuses kan die teendeel egter bewerkstellig word.

Onkruiddoderskade op opvolggewasse kan ook deur verskeie faktore wat niks met die onkruiddoderkeuse te doen het nie, veroorsaak word.

Só kan bekalking byvoorbeeld residuele triasiene, wat op kleiminerale vasgelê was, “afskop” sodat dit weer beskikbaar word in die grondwateroplossing en veral boontjiegewasse en sonneblom affekteer. Sub-letale dosisse is soms afwesig vir die blote oog, maar opbrengsverliese weerspieël partykeer die negatiewe gevolge daarvan.

Die sinergistiese effekte van toegediende onkruiddoders en dié wat in die verlede toegedien is, kan verder aanleiding gee tot gewasskade. Die klein hoeveelhede residu’s van die voorafgaande seisoen wat nog in die grond teenwoordig is, kan die effek van die toegediende onkruiddoders versterk.

Ook speel die effek van pH in gronde verder ‘n groot rol ten opsigte van die afbraaktempo van onkruiddoders, veral waar die sulfonielureumgroep van onkruiddoders betrokke is. Hoë pH-waardes kan die halfleeftyd en leeftyd van die betrokke groep van onkruiddoders dramaties in die grond verleng. Die gevolg is dat daar maklik onkruiddoderskade kan voorkom.

Nuwe “gereedskap” in die besluitnemingsproses

Glifosaatverdraagsame gewasse het grotendeels die deur oopgemaak vir ‘n maklike oplossing tot skoon lande met geen oordraging van residuele vlakke van onkruiddoders na die daaropvolgende gewasse nie.

Of het dit?

Verskeie faktore steek egter ‘n stok in die speke van hierdie glifosaatverdraagsame gewasbenadering. Die geen residuele effek van glifosaat, beteken dat veelvuldige glifosaatbespuitings gedurende die seisoen toegedien moet word om die onkruide wat later in die seisoen ontkiem ook te beheer.

image

Glifosaattoediening tydens sekere ontwikkelingstadia van gewasse, moet voorkom word. Só byvoorbeeld mag glifosaat nie bo-oor die mielieplant toegedien word ná die agtblaar-stadium nie. Ernstige oesverliese kan voorkom omdat die reproduktiewe fase van ontwikkeling reeds ‘n aanvang neem.

Die uitdrukking van die beskermingsgeen in die reproduktiewe organe, soos die vroulike geslagsdele (kop) en veral die manlike geslagsdele (pluim), is tot ‘n mate beperk en kan maklik deur die toediening van glifosaat beskadig word.

Hierdie simptome word gewoonlik in die Amerikaanse literatuur as ear arrest beskryf. Gerigte bespuitings met valarms wat die toediening van glifosaat in die kelk verhoed, moet ná die groeistadium toegepas word. Oorhoofse bespuiting met ‘n high boy selfaangedrewe spuit is dus slegs in die meeste gevalle ‘n vereiste. In ‘n gevoelige gewas, soos sojabone, kan toedienings van glifosaat tydens die blomstadium, aanleiding gee tot blomafsterwing of misvorming.

Onkruidweerstandbiedendheid is in baie gevalle ‘n werklikheid en produsente moet alles in hul vermoë doen om hierdie probleem te voorkom. Die afwissel van aktiewe middels is ‘n voorvereiste en hier kan wisselbou help om weerstandigheid te voorkom. Daar moet ook nougeset daarop gelet word dat die regte dosis van ‘n produk gespuit word. Te min of te veel kan ‘n probleem wees en dit kan aanleiding gee tot onkruidbesmette lande.

Die groot voordeel van glifosaatverdraagsame tegnologie is die feit dat normale onkruiddoderprogramme steeds gevolg kan word met die opsie om moeilik beheerbare onkruide, soos byvoorbeeld kweek en wilde sorghum, na-opkoms of later in die seisoen te beheer. Onkruiddoders met ‘n lang nawerking kan toegedien word om wisselbou moontlik te maak, met die gevolglike toediening van glifosaat in ‘n vooroessituasie om laat ontkiemers te beheer. Die moontlikhede met hierdie tegnologie is legio en baie verbeeldingryke boereplanne kom in die praktyk voor.

Die ideaal is ‘n situasie waar ‘n kombinasie van glifosaat en ‘n residuele breëspektrum-onkruiddoder saam in een formulering of in ‘n tenkmengsel toegedien kan word.

‘n Voorbeeld van so ‘n produk is die onkruiddoder Halex GT wat deur Syngenta op glifosaat-tolerante mielies aanbeveel word. Die produk beskik oor ‘n kombinasie van glifosaat en ander residuele onkruiddoders vir die beheer van grasse en breëblaaronkruide.

Die samestelling van die produk maak boonop wisselbou in die daaropvolgende seisoen moontlik, maar ‘n wagperiode word vereis van een maand vir koring en gars; twee maande vir graansorghum; ses maande vir aartappels; en nege maande vir sojabone, droëbone, grondbone, sonneblom en katoen.

Insetkoste wat nie uit die oog verloor moet word nie, is die tegnologiefooi wat op die saad van glifosaatverdraagsame kultivars betaal word vir en die beheer van die opslag mielieplante die daaropvolgende seisoen. Die koste van bestryding moet by die onkruiddoderprogram gereken word.

image Uitkoms het egter vir mielieprodusente in die wêreld gekom met die ontdekking van die triketoongroep-onkruiddoders, soos mesotrioon wat in 2000 onder die handelsnaam Callisto vrygestel is. Sedertdien is kombinasies van mesotrioon met atrasien, terbutielasien en s-metolachlor en glifosaat vrygestel.

Mesotrioon kan ook in kombinasie met bromoksinil, halosulfuron of nicosulfuron toegedien word. Callisto kan vooropkoms sowel as naopkoms in mielies toegedien word en beheer ‘n wye spektrum van grasse en breëblare. Die groot voordeel is skoon lande plus die geleentheid tot wisselbou met ander gewasse die daaropvolgende seisoen.

Faktore wat verder druk gaan plaas op die sinvolle bestuur van onkruiddoderprogramme, is die feit dat onkruidpatrone begin skuif as aanpassings gemaak word in programme. Dat weerstand onder sekere onkruiddodergroepe voorkom, is geen geheim meer nie en ‘n al groter wordende probleem. Hierdie probleem moet sinvol oor tyd aangespreek word en kan bestaan uit die afwisseling van gewasse en die toedien van verskillende aktiewe middels. Die uitfasering van chemie wat in die natuur opbou en skadelik kan wees vir die omgewing, is ‘n werklikheid en sommige ouer produkte word reeds nie meer vervaardig nie.

Produsente sal egter verlief moet neem met die feit dat veelvuldige toedienings in een seisoen al uitweg is as hul goeie beheer met skoon lande met wisselbou op die koop toe vir die volgende seisoen wil hê. ‘n Programbenadering wat onkruide tydens plant en vroeg na-opkoms aanspreek, en ‘n opvolgaksie wat onkruide later in die seisoen aanspreek met ‘n produkkombinasie wat beperkte residuele beheer bied en wat veilig vir opvolggewasse is, is ononderhandelbaar in ‘n wisselbousituasie.

Deur onkruide op hul kleinste moontlike groeistadium te beheer, help ook om die onkruiddoderdosis laag te hou. Dit is baie goedkoper om klein onkruide te beheer as groter onkruide. Maak dus seker dat onkruide tydig beheer word.

Winteronkruide word gewoonlik oor die hoof gesien omdat die persepsie bestaan dat hulle nie groei nie. Hulle groei egter ongetwyfeld in hul wortels en sodra toestande gunstig is, spruit hul met mening uit en raak dit baie moeilik om te beheer. Veral in ‘n direkte plant-sisteem, moet daar aan klein onkruide aandag gegee word.

image

Wanneer jy dus ‘n besluit neem oor ‘n onkruiddoderprogram, grond jou besluit op die onkruide wat voorkom, maak seker wat is die leeftyd van die onkruiddoder en maak seker wanneer die onkruide die beste beheer kan word asook die dosis wat nodig is om die onkruid te beheer.

As daar enige vrae is, kontak gerus vir Fires van Vuuren by 082 809 5431 of vir Pietman Botha by 082 759 2991.

Publication: September 2013

Section: Input Overview

Search