• Login
  • Search Icon

Onkruid in die winterreënvalstreek: Deel 6

November 2014

Turknael (Musk heron's bill)

image

PJ PIETERSE, Departement Agronomie, Universiteit van Stellenbosch

Wetenskaplike naam: Erodium moschatum
Afrikaanse naam: Turknael
Engelse naam: Musk heron's bill

image

Daar kom ses Erodium-spesies in Suid-Afrika voor, maar net Erodium moschatum (turknael) veroorsaak ernstige probleme in gewaslande. Turknael is deur die vroeë setlaars na Suid-Afrika ingevoer vanaf Europa en is dus al vir langer as 100 jaar in Suid-Afrika bekend.

Dit word deur skape, bokke en volstruise gevreet ten spyte daarvan dat dit ‘n muskusagtige reuk vrystel wanneer dit gekneus word. Soms word dit egter nie gevreet nie, veral op plekke langs die kus, vermoedelik omdat die reuk te sterk raak.

Turknael is ‘n matige mededinger, maar omdat dit ‘n plat groeiwyse in die jong stadium het, ding dit reeds in ‘n vroeë stadium met gewasplante mee. Die sade kan beserings aan vee veroorsaak en hulle velle beskadig. Dit kan ook skape se wol kontamineer en inname van die plant kan fotosensitisasie in lammers veroorsaak.

Turknael is ‘n eenjarige, regop tot neerliggende onkruid met basale blaarrosette en kan tot 30 cm hoog groei. Stingels is bedek met digte, klieragtige hare en is fyn geriffeld. Blare is enkelveervormig, saamgesteld en afwisselend gerangskik. Lang, klieragtige hare kom voor op die blaarspil.

Blaarveertjies is kortgesteeld en eiervormig met diep, enkel- tot dubbelsaagtandige rande. Die blare is heldergroen en beide oppervlaktes het yl tot digte hare op. Blare kan tot 25 cm lank en 15 cm breed wees.

Hul blomme is ligpers tot rooskleurig en word in skerms op klieragtige, langharige stele tot 15 cm lank gedra. Die vrugte is smal, donkerbruin splitsvrugte met digte hare en kan tot 5 mm lank wees. Die verlengde style is versmelt tot ‘n sentrale suil wat na 'n reier se bek lyk, vandaar die Engelse gewone naam. Met rypwording breek die style weg en krul spiraalsgewys om die sade vry te stel. Die sade is goudbruin, smal, omgekeerd-eiervormig, haarloos en tot 3 mm lank.

Voorkoms en verspreiding

Turknael kom hoofsaaklik in die suidwestelike kusstreke van Suid-Afrika voor, hoewel dit ook reeds in die Noordwes Provinsie opgemerk is. Dit veroorsaak probleme in graanlande, wingerde, boorde en tuine en kom ook op versteurde plekke voor.

Turknael plant slegs deur middel van saad voort. Die sade is klein en is vlak ontkiemers.

Dit kan enige tyd ontkiem, maar daar is ‘ n hoogtepunt in die herfs. In Australië is gevind dat dit meer volop is op sandgronde en dan ook op gronde laag in fosfaat. Turknael is geneig om te vermeerder onder swaar beweiding.

Beheer

Chemiese beheer
Die lys van onkruiddoders wat vir turknael geregistreer is en wat in die publikasie A guide for the chemical control of weeds in South Africa genoem word, word in Tabel 1 aangetoon. Daar is ook ‘n paar onkruiddoders en toepassings bygevoeg wat geregistreer is nadat die gids gepubliseer is asook sommige nie-selektiewe onkruiddoders wat nie spesifiseer watter onkruidspesies beheer word nie, maar wat wel effektief teen turknael is as daar nie weerstand is nie.

image

Een interessante aspek van turknael is dat daar in Australië 'n grasdoder, haloxyfop metiel, geregistreer is vir beheer daarvan, terwyl die betrokke grasdoder wat in die meganisme van werking Groep A (die sogenaamde fops en dims) val, nie ander breëblaaronkruide beheer nie.

Sover bekend, is daar nog nie enige weerstand êrens in die wêreld by turknael waargeneem nie. Dit is wel bekend dat turknael effens tolerant teenoor glifosaat is, met ander woorde dit sal nie altyd so geredelik by voorgeskrewe dosisse beheer word as ander onkruid nie. Dit is egter steeds belangrik dat anti-weerstandsmaatreëls toegepas word om te verhoed dat weerstand teen onkruiddoders ontwikkel. Sorg moet dus gedra word dat enige onkruiddoder onder goeie spuittoestande en die korrekte dosis toegedien word op onkruid wat nie groter as die vierblaar-stadium is nie.

Té hoë en té lae dosisse veroorsaak hoë seleksiedruk vir teikensetel- en nie-teikensetelweerstand onderskeidelik. Wissel ook die gebruik van ‘n effektiewe onkruiddoder so gereeld as moontlik af met ander onkruiddoders met ‘n ander werkswyse (met ander woorde in 'n ander werkswysegroep).

image

Alternatiewe beheer
Met die oog op voorkoming en bestuur van onkruiddoderweerstand, is dit noodsaaklik dat daar nie net op chemiese beheer staatgemaak word nie. Bewerking en fisiese verwydering is effektief, maar baie tydrowend.

Vlakbewerking is effektief om turknaelsaailinge te beheer. Indien saadvorming vir twee tot drie jaar verhoed kan word, kan die populasies van turknael baie verlaag word. Die toepassing van geïntegreerde bestuursaksies is baie belangrik, nie net om weerstand te voorkom nie, maar ook om onkruidbeheer meer omgewingsvriendelik te maak.

Bedankings en verwysings

Die volgende persone het die artikel krities deurgelees en voorstelle ter verbetering gemaak waar nodig: Prof Andy Cairns (Universiteit van Stellenbosch), dr Erik Eksteen (Syngenta), mnre Org Lotter (Bayer CropScience), Jim McDermott (Du Pont), Hannes Schoeman (Monsanto), Frik Potgieter (Nulandis) en Dirk van Eeden (Terason).

Die lys van geregistreerde onkruiddoders is verkry vanuit die publikasie: A Guide to the chemical control of weeds in South Africa: A CropLife South Africa Compendium. Bestel by info@cropsolutions.co.za of 011 079 4199.

Inligting is ook verkry vanuit die boek Onkruide in gewasse en tuine in Suidelike Afrika en is beskikbaar by die LNR-Instituut virGraangewasse, Privaat sak X1251, Potchefstroom 2520. KontakMary James by 018 299 6253 of JamesM@arc.agric.za.

Die boek Probleemplante en indringeronkruide van Suid-Afrika deur Clive Bromilow is ook geraadpleeg en is beskikbaar by diemeeste boekhandelaars of raadpleeg die webtuiste van die uitgewers: www.briza.co.za.

Lesers kan die pamflet Volhoubare gewasproduksie in die teenwoordigheid van onkruiddoderweerstand ook in PDF-formaat verkry van die skrywer van hierdie artikel by pjp@sun.ac.za. Ditis ook (in Engels) beskikbaar by die CropLife SA webtuiste (www.croplife.co.za).

Publication: November 2014

Section: On farm level

Search