• Login
  • Search Icon

Onkruid in die winterreënvalstreek: Deel 10

March 2015

Sterremuur (Chickweed)

image

PJ PIETERSE, Departement Agronomie, Universiteit van Stellenbosch

Wetenskaplike naam: Stellaria media
Afrikaanse naam: Sterremuur
Engelse naam: Chickweed

image

Daar kom drie Stellaria-spesies in Suid-Afrika voor, maar net Stellaria media (sterremuur) is ‘n erkende onkruid. Alhoewel dit ‘n klein plantjie is, word dit nogtans as ‘n belangrike onkruid beskou. Dit kom as onkruid in eenjarige veldgewasse voor asook in meerjarige, houtagtige gewasse.

Sterremuur is nie ‘n baie sterk mededinger nie, maar waar dit klam en koel toestande aantref, soos in boorde en wingerde, kan dit sterk groei. Wanneer dit vroeg vestig voor die gewas of saam met die gewas, is dit ‘n sterker mededinger en waar dit in hoë digthede voorkom, kan dit gewasplante erg onderdruk.

In Nederland het elf plante per vierkante meter die opbrengs van suikerbeet met 21% verlaag, maar in die Verenigde Koninkryk het minder as 250 plante per vierkante meter minder as 5% se oesverliese in oliesaadgewasse veroorsaak.

Daar is ook in die Verenigde Koninkryk bereken dat 40 sterremuurplante per vierkante meter die drempelwaarde in vlaslande is. Die invloed van sterremuur op gewasse varieer dus baie en hang af van faktore soos onkruiddigtheid, gewasdigtheid, gewastipe en die vestigingsdatum relatief tot die gewas se vestiging.

Daar is gevind dat sterremuur die meganisme van stropers kan belemmer. Die plant se plastisiteit word ook geïllustreer deur die feit dat blommende plante wat op ‘n gruispaadjie gegroei het se stingels slegs 4 cm lank was, terwyl plante wat in ‘n seemeeukolonie gegroei het se stingels ongeveer 1 m lank was.

Sterremuur is alternatiewe gashere vir skadelike aalwurms asook ‘n verskeidenheid virusse wat gewasplante kan aanval. Die plant se blare kan egter benut word as gekookte groente of as ‘n groenslaai.

Sterremuur is eenjarige, platgroeiende kruide wat tot 15 cm hoog kan groei en soms wortels by die knope vorm. Die stingels is groen en rond en het ‘n streep hare wat vanaf die blaarbasis tot tussen die volgende paar blare voorkom. Die blare is enkelvoudig, teenoorstaande gerangskik en eiervormig met ‘n spits punt. Ook is die blare heldergroen, haarloos en gaafrandig. Die onderste blare is gewoonlik gesteeld en die boonstes soms sittend. Die blare kan tot 1,5 cm lank en 1 cm breed word.

Die blomme kom aan die einde van stingels of in die oksels van blare voor en soms in byskerms met min blomme. Die slanke bloeistele is tot 1,5 cm lank met fyn haartjies. Die kelkblare is groen en die vyf wit kroonblare is so diep ingekeep dat dit lyk soos tien enkel kroonblare.

Die vrugte is doosvrugte (ook kapsules genoem) wat 5 mm lank is en opbreek in vyf kleppe met baie sade. Die sade is bruin, dit is tot 1 mm in deursnit en effens sirkelvormig met ‘n diep keep en die oppervlakte is oortrek met vratagtige strukture.

image

Voorkoms en verspreiding

Sterremuur kom wydverspreid in Suid-Afrika voor, waar dit gedy in klam plekke en in een- of meerjarige gewasse as ‘n onkruid asook in tuine. Sterremuur het sy oorsprong in Europa, maar het dwarsoor die wêreld in meer as 50 lande versprei en word beskou as een van die twaalf mees suksesvolle indringerplante (wat nie verbou word nie) ter wêreld.

Sterremuur plant net met saad voort en daar is al saadproduksiesyfers van tussen 11 en 13 miljoen sade per hektaar aangeteken in Europa. Alhoewel gerapporteer is dat sterremuursade tot 60 jaar lank kiemkragtig kan bly, is in ‘n studie bevind dat saad een jaar nadat dit in grond begrawe is, tussen 91%- en 97%-ontkieming getoon het en 6%- tot 22%-ontkieming ná tien jaar (http://www.cabi.org/isc/datasheet/51635).

In landerye ontkiem saad gewoonlik op die grondoppervlakte en baie min saailinge vestig ná ontkieming van dieper as 2 cm af. Dormansie van saad varieer baie. In gebiede met ‘n gematigde kusklimaat ontkiem saad onmiddellik ná rypwording.

In areas soos Arktiese gebiede of diep in vastelande ontkiem baie min sade 90 dae ná rypwording en in Mediterreense gebiede het die saad ‘n 50- tot 60-dae narypingsperiode nodig om te ontkiem.

Saadontkieming kan in die laboratorium gestimuleer word deur saad met ‘n 0,2%-kaliumnitraatoplossing te behandel en aan wisselende temperature tussen 20°C en 30°C bloot te stel. Die variasie in saaddormansie en ontkieming dra grootliks by tot die sukses van die spesie as ‘n onkruid.

Die meeste van sterremuur se saad word naby die moederplant versprei. Langafstandverspreiding kan deur diere geskied en kiemkragtige sade is al in die mis van varke, beeste, bokke en voëls gevind.

Die saad kan ook indompeling in seewater oorleef, maar die mens deur sy landbouaktiwiteite is waarskynlik die grootste en effektiefste verspreider van sterremuursaad. Dit kan op sanderige gronde oorleef, maar is aangepas vir ‘n wye verskeidenheid gronde. Dit groei waarskynlik die beste op swaar, klam gronde.

Beheer

Chemiese beheer
Die lys van onkruiddoders wat vir sterremuur geregistreer is wat in die publikasie A guide for the chemical control of weeds in South Africa genoem word, word in Tabel 1 aangetoon. Daar is ook ‘n paar onkruiddoders en toepassings bygevoeg wat geregistreer is nadat die gids gepubliseer is asook sommige nie-selektiewe onkruiddoders wat nie spesifiseer watter onkruidspesies beheer word nie, maar wat wel effektief teen sterremuur is as daar nie weerstand is nie.

image

Volgens www.weedscience.org is die eerste weerstandige sterremuur in 1978 in Duitsland teen atrasien (Fotosisteem 1-inhibeerder – Groep C1) waargeneem. In 1985 is weerstand teen mecoprop (Sintetiese ouksien – Groep O) in die Verenigde Koninkryk waargeneem en weer in 2010 in China teen MCPA in dieselfde groep.

Daarna is talle gevalle van weerstand teen ALS-inhibeerders (Groep B) aangeteken in lande soos Kanada, Denemarke, Finland, Frankryk, Duitsland, Ierland, Nieu-Seeland, Noorweë, Swede, die Verenigde Koninkryk en die VSA.

In Suid-Afrika is ook ‘n populasie met sterk weerstand teen ALS-inhibeerders in die Riebeek Kasteel-omgewing aangeteken. Volgens berigte kom weerstand teen sulfoniel ureas wydverspreid in die Caledon-distrik voor en dit sal waarskynlik oor groot dele van die winterreënvalstreek teenwoordig wees.

Dit is egter belangrik dat antiweerstandsmaatreëls toegepas word om te verhoed dat weerstand teen onkruiddoders ontwikkel. Sorg moet dus gedra word dat enige onkruiddoder onder goeie spuittoestande asook teen die korrekte dosis toegedien word op onkruid wat nie groter as die vierblaar-stadium is nie.

Te hoë en te lae dosisse veroorsaak hoë seleksiedruk vir teikensetel- en nie-teikensetelweerstand onderskeidelik. Wissel ook die gebruik van ‘n effektiewe onkruiddoder so gereeld as moontlik af met ander onkruiddoders met ‘n ander werkswyse (met ander woorde in ‘n ander werkswysegroep).

Alternatiewe beheer
Met die oog op voorkoming en bestuur van onkruiddoderweerstand is dit noodsaaklik dat daar nie net op chemiese beheer staatgemaak word nie. ‘n Reeks bewerkings- en geïntegreerde beheermaatreëls teen sterremuur is in Europa ondersoek.

Daar is gevind dat sterremuur baie meer algemeen voorkom in geenbewerkingspersele as in bewerkte persele. In die VSA is gevind dat bewerking in die nag die ontkieming van onkruidsade, waarvan die meeste uit sterremuur bestaan het, met tot 75% verminder het.

Gewasrotasies beïnvloed ook die voorkoms van sterremuur. In Duitsland is gevind dat sterremuur se voorkoms bevoordeel word deur rotasies wat 80% grane bevat teenoor rotasies wat net 50% grane bevat. Sterremuur het ‘n onbeskermde groeipunt en is dus baie gevoelig vir hittebehandeling.

So is 100%-beheer van sterremuur wat in die nul- tot vierblaarstadium was, met ‘n vlamwerper verkry. Sterremuur kan ook onderdruk word deur beweiding. Die toepassing van geïntegreerde bestuursaksies is baie belangrik, nie net om weerstand te voorkom nie, maar ook om onkruidbeheer meer omgewingsvriendelik te maak.

Behandelings wat meer kompeterende gewastipes en kultivars, hoë saaidigthede en verhoogde N-toediening ingesluit het, was byvoorbeeld baie suksesvol om sterremuurpopulasies te onderdruk en gewasopbrengs te verhoog.

Bedankings en verwysings

Die volgende persone het die artikel krities deurgelees en voorstelle ter verbetering gemaak waar nodig: Prof Andy Cairns (Universiteit van Stellenbosch), dr Erik Eksteen (Syngenta), mnr Org Lotter (Bayer CropScience), mnr Jim McDermott (Du Pont), mnr Hannes Schoeman (Monsanto), mnr Frik Potgieter (Nulandis) en mnr Dirk van Eeden (Terason).

Die lys van geregistreerde onkruiddoders is verkry vanuit die publikasie: A Guide to the chemical control of weeds in South Africa: A CropLife South Africa Compendium. Bestel by info@cropsolutions.co.za of 011 079 4199.

Inligting is ook verkry vanuit die boek Onkruide in gewasse en tuine in Suidelike Afrika en is beskikbaar by die LNR-Instituut virGraangewasse, Privaat sak X1251, Potchefstroom 2520. KontakMary James by 018 299 6253 of JamesM@arc.agric.za.

Die boek Probleemplante en indringeronkruide van Suid-Afrika deur Clive Bromilow is ook geraadpleeg en is beskikbaar by diemeeste boekhandelaars of raadpleeg die webtuiste van die uitgewers: www.briza.co.za.

Lesers kan die pamflet Volhoubare gewasproduksie in die teenwoordigheid van onkruiddoderweerstand ook in PDF-formaat verkry van die skrywer van hierdie artikel by pjp@sun.ac.za. Dit is ook (in Engels) beskikbaar by die CropLife SA webtuiste (www.croplife.co.za).

Publication: March 2015

Section: On farm level

Search