July 2018
Die versuring van landbougrond met ‘n hoë potensiaal is ‘n gegewe en die tempo waarteen die agteruitgang voortsnel, word deur verskeie bydraende faktore bepaal. Elke produsent wil graag sy kinders en kleinkinders met iets beter agterlaat as waarmee hy self begin het. Dit is in ons natuur. Ons moet opbou en verbeter en nie afbreek en verwaarloos nie.
Deesdae is ‘n oorvloed van inligting op elektroniese platforms beskikbaar: Ek Google net gou om ‘n antwoord te kry en ja, daar het ek die antwoord en ek kan mos vir Google glo? Ons slaan egter dikwels die bal mis wat konteks betref. Ons lees net wat ons wil en ignoreer sommer die res.
Suid-Afrika het unieke grondsoorte wat nie op ‘n internasionale basis met ander wêreldgronde vergelyk kan word nie. Ons klimaat is ook heelwat anders as in ander dele van die wêreld waar grane verbou word. Voeg daarby ook die unieke produksiepraktyke wat ons op watertafelgronde volg, dan het jy ‘n lekker kombinasie waarvoor Google nie altyd antwoorde het nie.
Versuring is ‘n natuurlike proses wat in gronde plaasvind, maar dit word beslis deur landboupraktyke aangehelp – veral onder intensiewe graanverbouing. Volgens dr Koos Bornman (Omnia Nutriology® Solutions) kan die faktore wat grondversuring versnel, soos volg opgesom word:
Oneffektiewe benutting van stikstof kan drastiese opbrengsverliese meebring, maar ook die tempo waarteen gronde versuur, drasties laat toeneem. Soms kan die oneffektiewe benutting voorkom weens klimaatsfaktore buite ons beheer. Droogte kan veroorsaak dat die plante eenvoudig nie die toegediende stikstof deur middel van massavloei kan opneem nie (droogte-geïnduseerde stikstoftekorte). Loging van stikstof, veral vroeg in die seisoen, kan tot tekorte later in die seisoen lei – veral waar geen topbemesting ter sprake is nie.
Dit is algemeen bekend dat stikstofbemesting grond versuur. Die verskillende bronne van stikstof, byvoorbeeld ammoniumnitraat en ureum verskil drasties in die mate waartoe dit die grond sal versuur. Aangesien ureum met behulp van urease-ensieme na hoofsaaklik ammonium-stikstof (NH4+) in die grond omskakel, moet die totale volume daarvan stikstofnitrifikasie ondergaan, wat gepaard gaan met die produksie van waterstofione (H+). Waterstofione (H+) sal dan die grond versuur.
Omskakeling na nitriet: 2NH4+ + 3O2 → 2NO2- + 4H+
Omskakeling na nitraat: 2NO2- + O2 → 2NO3-
Bewerkingspraktyke dra dikwels ook tot die versuring van gronde by. Ureumbevattende kunsmis word tussen 30 cm en 40 cm diep gebandplaas in ‘n omgewing waar optimale toestande vir die omskakeling na ammonium en dan na nitraat selde heers.
Grondvog is wel voordelig op dié diepte, maar die urease-aktiwiteit is geweldig laag en die grondtemperature is ook nie optimaal om die omskakeling te bevorder nie.
Groot hoeveelhede stikstof wat wissel tussen 60 kg en 120 kg N/ha word tydens die rip-aksie gebandplaas. As heelwat reën vroeg in die seisoen voorkom, sal van die stikstof as ureum loog voordat dit ten volle kon omskakel. Ons probeer spaar deur twee aksies, naamlik rip en die toediening van kunsmis, te kombineer.
Die vraag is wat die doeltreffende benutting van stikstof sonder om die grond te versuur ons kos? Praktyke maak beslis ‘n verskil wat die voorkoms van ondergrondsuurheid betref. ‘n Vergelyking tussen produsente wat slegs topbemes, alle stikstof voor plant toedien en ‘n gedeelte voor plant toedien en ‘n deel topbemes, spreek boekdele.
Dit is duidelik dat die versuring van die ondergronde drasties minder is waar daar slegs van topbemesting gebruik gemaak word. Daarteenoor kan dieselfde nie gesê word waar al die stikstofbemesting voor plant toegedien word nie. Die kombinasie van voor-plant-toediening van kunsmis en topbemesting toon ook heelwat minder ondergrondse versuring. Die praktyk waar voor-plant-toediening van kunsmis en topbemesting gekombineer word versuur nie net minder nie, maar bevorder die stikstofdoeltreffendheid aansienlik. Dit lei tot ‘n beter opbrengs met dieselfde hoeveelheid – of selfs minder – stikstof.
Sandgronde met minder as 10% klei in die bogrond en min of geen toename in klei met gronddiepte nie, is uiters gevoelig vir ondergrondse versuring. Die spesifieke gronde is swak gebuffer, wat beteken dat ‘n vinnige verlaging in pH kan voorkom. Die regstelling van die gronde geskied ook redelik vinnig as die kalk voldoende met die suurgrond reageer. Genoegsame vog, asook deeglike vermenging, is noodsaaklik om die gewenste regstelling te verkry.
Grafiek 1 toon ‘n voorbeeld van ‘n sandgrond wat erg in die ondergrond versuur het. Die lande is in 2015 bekalk en in 2016 is weer monsters op dieselfde punt geneem. Die aanvanklike pH(KCl) was 3,75 en het ná bekalking in die ondergrond na ‘n pH(KCl) van 4,7 gestyg. Hoewel die ideale pH(KCl) 5,5 is, was die verbetering noemenswaardig.
Gereelde monitering van die grondchemiese status is noodsaaklik om te verseker dat grondversuring nie buite beheer raak nie. Dit bied ook die geleentheid om korrektief op te tree, voldoende kalk toe te dien en ook om die regte keuse ten opsigte van kalk te maak.
As ‘n verhoging in stikstofbemesting onoordeelkundig aangepak word, kan dit in die langtermyn nadelige gevolge ten opsigte van opbrengs inhou. Maak altyd seker dat die praktyke wat gevolg word, die risiko verlaag en nie verhoog nie. Dit is slegs moontlik as die gewasproduksie met die regte soort bemesting op die regte tyd en plek en in die korrekte hoeveelheid ondersteun word.
In Grafiek 2 word data uit die Omnia databank voorgestel om die effek van ondergrondsuurheid op watertafelgronde te beklemtoon. Tydens die ondersoek is 191 469 bogrondmonsters en 46 115 ondergrondmonsters op watertafelgronde ontleed (slegs pH[KCl] laer as 5,5 is in ag neem).
Dit is duidelik dat die voorkoms van gronde met ‘n pH(KCl)-waarde laer as 4,5 in die ondergronde bykans 50% van die monsters verteenwoordig. In die bogrond is die waarde aansienlik laer, naamlik 34%. Dié syfers beklemtoon die erns van die produksiebeperkende probleem.
Gesels gerus met jou landboukundige vir kundige advies oor die bestuur van grondsuurheid. Nie alleen sal dit risiko beperk nie, maar ook die kumulatiewe effek op produksieprestasie weerspieël.
Publication: July 2018
Section: Mini-Focus on lime