April 2016
HENDRIK SMITH, bewaringslandboufasiliteerder: Graan SA
Suid-Afrika het waarskynlik nog nooit die vlakke van uiterste weerpatrone en stofstorms ervaar soos in die huidige seisoen nie. Temperature het rekordvlakke bereik te midde van ‘n ernstige droogte oor omtrent die hele somersaaigebied. Terselfdertyd het stofstorms amper op ‘n weeklikse basis mens, dier en plant geteister.
In die vorige uitgawe is gekyk na aardverwarming en grond – die probleem en die oplossing. In hierdie uitgawe word gekyk na bewaringslandbou.
Bewaringslandbou – die bondgenoot van die produsent, grond en klimaat
Die herstel van grondgesondheid, grondagteruitgang, aardver warming, produktiwiteit en volhoubaarheid is alles onlosmaaklik gekoppel aan mekaar en die oplossing kom eenvoudig neer op die balansering van koolstofvlakke in die atmosfeer en die grond.
Die enigste manier hoe dit in die praktyk kan plaasvind, is deur bewaringslandbou. Elke hektaar waar die grondorganiese materiaal met net 0,1% verhoog word, word 8,9 ton CO2 vasgelê. Dit is ‘n ongelooflike waarde, maar in die praktyk is dit nie net moontlik nie, maar word alreeds deur verskeie goeie bewaringsprodusente oortref.
Bewaringslandbou is die toepassing van die volgende praktyke, wat aan die hand van voorbeelde in die praktyk verduidelik word:
Minimale meganiese grondversteuring
Soos reeds bo genoem is, moet grondversteuring so ver as moontlik vermy word om die afwaartse spiraal van grondagteruitgang te stop. Die idee is om direk in onversteurde, maar goed bedekte grond te plant sonder meganiese grondvoorbereiding deur middel van sogenaamde minimum- of geenbewerkingspraktyke.
Spesiale geenbewerkingsplanters is hiervoor nodig (sien Foto 1). Dit hou ook ander voordele soos aansienlike verlagings in energieverbruik en kweekhuisgasvrystelling in.
Permanente organiese grondbedekking
Grondbedekking is die grond se pantser teen enige vorm van erosie. Soos wat grondbedekking verminder vanaf 100% na 1%, verhoog die erosietempo met ongeveer 200% (Pimentel, 2006).
‘n Grondbedekking van ten minste 30% word dus verlang. Foto 2 wys hoe ‘n goeie bedekking van oesreste winderosie in die westelike graanstreke se sandgronde drasties verminder, terwyl tonne grond vanaf ontblote grond verloor word in Foto 3.
Die praktyk van kaal braaklande is ‘n “selfvernietigende oefening”, volgens Jones (2007), wat ten alle koste vermy moet word; tydens droë periodes rig winderosie groot skade aan, wat daarna opgevolg word deur watererosie tydens donderstorms wat al hoe hewiger gaan word. Grondbedekking kan deur oesreste en/of gewasse voorsien word.
Gewasdiversiteit en die gebruik van dekgewasse
Plante is natuurlik die belangrike skakel tussen die son se energie en grond. Hoe meer en hoe langer plante in die grond groei (oftewel lewende wortels in die grond het), hoe vinniger vind die opbou van koolstof in die grond plaas (deur die oplosbare koolstofbrug).
Daar moet ten minste drie gewasse in die rotasie/assosiasie wees en die gebruik van multi-spesie dekgewasstelsels om hierdie biologiese proses te versnel, neem baie vinnig toe (sien Foto 4 en Foto 5).
Dekgewasse bied natuurlik ook ‘n ideale oplossing vir produsente wat as gevolg van die droogte nie betyds kontantgewasse kon plant nie; ‘n geskikte dekgewas of -mengsel kan enige tyd van Januarie tot Maart gevestig word om die grond te beskerm en te verbeter, maar ook om kwaliteit voer vir vee te voorsien.
Die produsent as primêre innoveerder
Die sukses van bewaringslandbou hang direk af van die kwaliteit van toepassing daarvan. Dit impliseer onmiddellik die produsent as die primêre innoveerder in die stelsel, want bewaringslandbou “gebeur” of word aangepas in elke produsent se unieke situasie.
Dit is dus ‘n sosiale konstruk wat deur veral sosiale (i.e. die waar - des, doelwitte en oortuigings van mense), maar ook ekonomiese en biofisiese faktore bepaal word.
Winterdekgewasmengsel
‘n Winterdekgewasmengsel wat verkieslik voor middel Maart geplant word (sien Foto 5)
Die innoveringsvermoë en die intensie/motivering van ‘n produsent (die joggie) speel ‘n groot rol in die sukses hiervan. Die bewaringslandbou- innoveringsproses is “op-plaas” en is lewenslank; dit word ook versterk deur die ondersteuning van ‘n groep produsente, soos ‘n studiegroep.
Hoe meer hierdie produsentegroepe, -strukture of innoverings platforms deur ander rolspelers, soos navorsers en landboubesighede gebruik en ondersteun word, hoe vinniger en beter (kwaliteit) is die proses en die stelsel.
Op-plaas proewe is een van die belangrikste instrumente in hierdie leer- of innoveringsproses (sien Foto 6 en Foto 7 by die Ottosdal No-till-klubproewe, een van die Graan SA/Mielietrustpro jekte wat bewaringslandbou in die westelike graangebiede bevorder).
Gevolgtrekking
Die boodskap behoort duidelik te wees: Die manier waarop ons gaan boer gaan óf meer koolstof in die lug plaas en verder bydra tot aardverwarming, stofstorms en grondagteruitgang, óf dit gaan koolstof terug in die grond plaas, reg onder ons voetsole waar dit hoort en so deel word van die langtermynoplossing.
Die heropbou van grond deur regenererende bewaringslandbou is ‘n prakties-haalbare sleutel tot die volhoubaarheid van graan verbouing in Suid-Afrika en die wêreld en is die verantwoordelikheid van ons generasie.
Verwysings
Department of Environmental Affairs (DEA). 2015. Strategic climate policy fund:
Improvement of the greenhouse gas emissions inventory for the agricultural sector.
Document 1 of SCPF003.
Du Preez, CC. 2003. Volhoubare landgebruik en grondkwaliteit: organiese materiaal
as indikator. SA Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie 22, no. 4. ISSN 0254-
3486.
Du Preez, CC, Van Huyssteen, CW and Mnkeni, PNS. 2011. Land use and soil organic
matter in South Africa 2: A review on the influence of arable crop production.
S Afr J Sci. 107(5/6), Art. #358, 8 pages. doi:10.4102/sajs. v107i5/6.358.
Griffin, DW, Kellogg, CA and Shinn, EA. 2001. Dust in the wind: Long range transport
of dust in the atmosphere and its implications for global public and ecosystem
health. Global Change Hum. Health 2, 20 - 33.
Intergovernmental Panel on Climate Change (IPCC). 2014. Fifth assessment report:
Climate change 2014 synthetic report. Available at: https://www.ipcc.ch/report/ar5/
(accessed 20 August 2015).
Jones, C. 2007. Building soil carbon with yearlong green farming. Evergreen
Farming Newsletter 08.
Lal, R, Negassa, W and Lorenz, K. 2015. Carbon sequestration in soil. Current
Opinion in Environmental Sustainability 15, 79 - 86.
Lobe, I, Amelung, W and Du Preez, CC. 2001. Losses of carbon and nitrogen
with prolonged arable cropping from sandy soils of the South African Highveld.
European Journal of Soil Science 52, 93 - 101.
Pimentel, D. 2006. Soil Erosion: A food and environmental threat. Environment,
Development and Sustainability 8, 119 - 137.
Swanepoel CM, Van der Laan, M, Weepener, HL, Du Preez, CC and Annandale,
JG. 2015. Review and meta-analysis of organic matter dynamics and associated
greenhouse gas emissions in cultivated soils in southern Africa. Presentation at
the Sustainable Soil Management Symposium 5 - 6 November 2015: Stellenbosch,
South Africa.
Wiggs, G and Holmes, P. 2011. Dynamic controls on wind erosion and dust
generation on west-central Free State agricultural land, South Africa. Earth Surf.
Process. Landforms 36, 827 - 838.
Publication: April 2016
Section: On farm level