• Login
  • Search Icon

Om te plant... en hoe om te plant? Dit is die grondboonvraag

October 2011

LOUREINE SALOMON, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGEWASSE

Die groeiseisoen is op hande en vele produsente wonder weer watter gewasse dié jaar aangeplant moet word.

Dit bly maar elke jaar ‘n dobbelvraag wat met baie oorsig beantwoord moet word. Hierdie jaar is weer eens nie ‘n uitsondering op die reël nie. Tydens aanplantingsbeplanning word daar klem gelê op wisselboustelsels, veral binne diverse boerderystelsels, waarvan ‘n vier jaar stelsel as optimum beskou word.

Goeie beplanning beteken goeie winste. Binne ‘n goeie wisselboustelsel het grondbone hulself bewys as een van die gewasse wat ‘n groot bydrae maak tot die behoud van die basis van alle landboubedrywe, naamlik die grond.

Dit is ook by grond waar die beginpunt lê vir die produksie van gesonde, sterkgroeiende grondboonplante wat die potensiaal het om ‘n goeie opbrengs te lewer. Alhoewel daar ‘n sterk neiging is tot min of geenbewerking, wanneer dit by mielie-aanplantings kom, moet daar egter in gedagte gehou word dat grondbone wel ‘n redelike hoeveelheid grondbewerking benodig om ‘n suksesvolle oes af te haal.

In die eerste plek moet enige oesreste, oorgeblewe van die vorige seisoen, deeglik ingewerk word om sodoende moontlike siektespore (inokulum) te verwyder. No-till-bewerking werk glad nie goed saam met grondbone nie (Foto 1).

Dit is wenslik om ‘n fyn, gelyke saadbed voor te berei om sodoende die korrekte en gelyke diepteplasing van die grondbonesaad tydens die plantproses te bewerkstellig – dink aan die oppervlak van ‘n tafelblad; hoe gladder, hoe beter (Foto 2).

image

Grondtemperature, veral die gemiddelde nagtemperature, is baie belangrik aangesien té koue grondtemperature swak ontkieming tot gevolg gaan hê, wat op die uiteinde ‘n swak stand gaan gee.

Onthou die duimreël, dat die daaglikse minimum temperature vir ten minste drie dae lank bo 15°C behoort te wees. Grondbone is baie gevoelig vir koue skokke, dus moet die weervoorspelling dopgehou word wanneer aanplantings beoog word.

Daar word baie gespekuleer oor bemesting by grondbone en daar is telkemale bewys dat grondbone die beste reageer op bemesting wat tydens die vorige seisoen toegedien is. Regstellings in grondvoeding gaan hand aan hand met grondontledings.

Raadpleeg dus jou kunsmisverskaffer om jou in hierdie aspek by te staan. Hou egter altyd in gedagte dat kalsiumtoedienings in die vorm van gips, nie agterweë gelaat moet word nie. Gipstoedienings van ten minste 400 kg/ha, kan breedwerpig tydens plant of in bandplasing tydens die eerste blomstadia toegedien word. Tydens planttyd sal dit voordelig wees om met gedienste, reg gekalibreerde planters te werk. Binnery-spasiëring van tussen 7,5 cm tot 10 cm en tussenry-spasiëring tussen 75 cm tot 90 cm, is die oogmerk vir korrekte stand (Foto 3).

Vir optimale opkoms, moet voldoende vog tydens planttyd teenwoordig wees. Waak teen die neiging om agter vog aan te plant, aangesien hierdie praktyk meer skade aanrig as goed doen. Die bekende dr Swanevelder het ‘n gesegde dat daar ‘n stoffie agter die planter moet  uitslaan wat wys toestande vir plant is reg; dit moet darem ook nie ‘n stofstorm agter die planter wees nie! Optimale plantdiepte vir grondbone is 5 cm of ‘n vuurhoutjieboksie-diepte. Dieper plantdieptes veroorsaak stremming op die ontkiemende plantjie en in gronde wat neig tot korsvorming kan dit groot moeilikheid veroorsaak (Foto 4a).

image

Wanneer daar ‘n kors vorm voor opkoms, wat die gevolg is van ‘n harde reënbui of besproeiing, gebeur dit dat, sodra die plantjie grond breek en sonlig kry op die saadlobbe, verlenging van die plantjie staak en veroorsaak dit dat die saadlobbe en die eerste twee nodus onder die grond -oppervlak bly (Foto 4b). Hierdie aspek is baie belangrik aangesien die eerste twee nodusse verantwoordelik is vir ‘n groot persentasie van die grondboonplant se drag. Optimaal moet die saadlobbe gelyk of net bo die grondoppervlak wees; hierdie plasing word beheer met korrekte plantdiepte.

Planttydspasiëring bepaal die verloop van die res van die grondboonseisoen. Té digte aanplantings binnery, bied geen spasie vir die ontwikkelende grondboonplant nie en hierdie plante neig om “lang bene” te maak met ‘n baie klein drag. Kortom kan hierdie plante nie hul volle opbrengspotensiaal bereik nie.

Dieselfde geld vir té nou tussenry-spasiëring, maar daarby kan swak deurligting sowel as swak penetrasie van die blaredak tydens bespuitings, gevoeg word. Hierdie toestande is voordelig vir die ontwikkeling van blaarsiekte en kan die beheer daarvan bemoeilik. Té yl aanplantings het swak stand tot gevolg wat opbrengste drasties kan verlaag (Foto 5).

image

Onkruidbeheer met planttyd is baie belangrik. Dit loop hand aan hand met korrekte grondvoorbereiding sowel as die korrekte toediening van vooropkoms-onkruiddoders (Foto 6). Raadpleeg jou chemiese handelaar om jou in hierdie aspek van raad te verskaf.

image

Klimaatsaspekte moet in gedagte gehou word. Die grondboonplantseisoen neem ‘n aanvang vanaf die middel tot einde Oktober en daar moet gepoog word om aanplantings eerder nie later as 3 Desember te maak nie. Té laat aanplantings veroorsaak dat oestyd in gevaartydperke van té veel reën of selfs vroeë ryp, inbeweeg. Fyner aspekte soos landverkeer wat tot die minimum beperk moet word, moet ook in gedagte gehou word.

Geen grondboonseisoen is ooit dieselfde nie. Té veel of té min reën, onverwagte koue fronte tydens planttyd, droogteperiodes tydens peulvulling of selfs vroeë ryp voor of tydens oestyd, is almal faktore wat ingereken moet word, al kan hulle nie bepaal word nie. Gewasproduksie is en bly ‘n dobbelspel en daarom is dit baie belangrik om met die nodige kennis en beskikbare inligting, die regte besluite van die begin af te neem.

Lekker plant!

Vir meer inligting, kontak Loureine Salomon by salomonl@arc.agric.za.

Publication: October 2011

Section: Input Overview

Search