• Login
  • Search Icon

Om aan te pas by VERANDERINGE

September 2018

 

‘n Studiegroep het my onlangs gevra om ‘n praatjie by hul vergadering te lewer. Hul tema was “Landbou 2050”. Die onderwerp waaroor ek moes praat, het die belangrikheid van verhoudings en waardes tydens onderhandelings aangespreek. 

Dit is nie ‘n gewone aanbieding met ‘n paar grafieke en projeksies nie. Hierdie manne is beslis besig om diep oor die toekoms na te dink. Ek het die week voor die aanbieding tyd in Botswana deur gebring. In dié tyd het ek die oorlewing van die natuur bestudeer om vir die manne ten minste iets waardevols saam te stel.

Wat my opgeval het, was hoe die plante en diere by hul omgewing aanpas om te oorleef – en selfs te vermenigvuldig. Ek kon nie komitees van plante en diere kry wat ure sit en besin oor hoe om die omgewing te verander nie. Plante en diere vind maniere om te oorleef – en selfs vooruit te gaan – deur meer kundig te word om by hul omgewing aan te pas – waaraan hulle buitendien niks kan verander nie.

Dit het my laat dink hoeveel tyd Graan SA spandeer om die omgewing te probeer verander en hoeveel tyd daaraan afgestaan word om produsente te ondersteun om te oorleef en te floreer in die bestaande omgewing. 

Van ons senior bestuur het onlangs oorsese kongresse oor hul vakgebied bygewoon en het met groot opgewondenheid teruggekom. Een boodskap waaroor almal besonder duidelik is, is: Terwyl Suid-Afrika met interne sake (en politiek) besig is, is die res van die landbouwêreld besig om aan te pas by veranderinge in hul omgewings. Daar word aanpassings gemaak na aanleiding van die invloed wat die nuwe handelsoorlog tussen die VSA en China vir ander inhou. Suid-Afrika se produsente sal nie net die oog op die plaaslike politieke bal kan hou nie, maar sal ook moet dophou wat in die res van die wêreld gebeur. Ons sal aanpassings moet maak.

Ek het weer tot die besef gekom dat ons as produsente die minimum impak op die omgewing het en relatief min kan doen om dit te verbeter. Die fokus moet eerder wees op hoe om te oorleef en te floreer binne die omgewing waarin ons graan produseer. Die huidige onsekerhede in ons land word deur twee besonder sterk emosies gedryf: Vrees en woede.

Dít is twee byna onversoenbare emosies in enige vergadering. Daar is dié wat vrees oor al die onsekerhede ten opsigte van veiligheid en wat met hul plase gaan gebeur; en dan is daar dié met woede oor die verlede en frustrasies omdat hulle nie uit die greep van armoede kan kom nie. Diegene met antwoorde vir die situasie is regtig min. Ek soek nog na hulle.

Tog het daar weer iewers tussen al die lawaai ‘n greintjie hoop opgevlam. Die Presidensie is betreklik geïnteresseerd daarin om ‘n landbouplan te sien – iets soortgelyk aan wat die motorbedryf ‘n klompie jare gelede opgestel en geïmplementeer het. Dáár was nou ‘n vennootskap wat baie vrugte vir die Suid-Afrikaanse ekonomie opgelewer het. 

Ek hoop net dat ons landbouleiers nie in die proses met mekaar gaan besig raak nie. Dit is tyd vir samewerking en vorentoe stap – as ons die kans kry.

Publication: September 2018

Section: Features

Search