May 2012
PROF JOHAN WILLEMSE, SA GRAAN/GRAIN MEDEWERKER
Die internasionale markte vir oliesade bly baie volatiel, weens verdere oesskade in Suid-Amerika op sojabone, terwyl laat ryp in die VSA vroeë aanplantings beskadig het.
In die geval van Suid-Afrika is die oesskattings ook laer aangepas weens droogteskade, maar daar was ook gebiede wat vroeë rypskade vroeg in April gekry het. Die soja-oes in Suid-Afrika en dié van sonneblom, gaan heelwat kleiner wees as wat aanvanklik verwag is en ons sal eers ná oestyd werklik weet hoe groot die oes was.
Die raming van Maartmaand van 720 000 ton sojabone gaan na my mening nog kleiner realiseer, moontlik in die orde van 650 000 ton, terwyl die sonneblomsaadoes van 514 000 ton, sowat 40% kleiner is as dié van verlede jaar. Ek vermoed dit kan dalk onder die 500 000 ton daal.
In die geval van grondbone is die oes geraam op sowat 52 000 ton in Maart, reeds kleiner as die 64 000 ton oes van verlede jaar. Hier kan die uiteindelike oes ook kleiner realiseer. Die aanduidings is dat vanjaar se totale oliesade-oes in Suid-Afrika rondom 1,3 miljoen ton sal wees, teenoor verlede jaar se sowat 1,7 miljoen ton.
Die feit bly, Suid-Afrika gaan ‘n groot invoerder van oliesaadprodukte bly in 2012 en die eerste deel van 2013. Dit geskied teen die agtergrond van ‘n verwagte 20 miljoen ton tot 30 miljoen ton kleiner internasionale oes as wat verlede jaar gerealiseer het.
Die kleiner Suid-Amerikaanse oes beteken dat die VSA in sy produksieseisoen, wat nou in proses is, 'n rekord soja-oes moet realiseer. Desnieteenstaande is daar kommer dat teen die derde kwartaal vanjaar, internasionale voorraad knap gaan wees voordat die nuwe VSA oes op die mark kom.
Daar was skerp opwaartse beweging in internasionale pryse in die eerste deel van April, soos wat in Tabel 1 getoon word. Daarmee saam het hernude onsekerheid oor die Europese staatskuldkrisis weer die rand laat verswak na R8/dollar – alles faktore wat die plaaslik invoerafgeleide pryse ‘n lekker skop onder die stert gegee het.
Kortliks, in die geval van sojabone en sonneblomsaad, is daar tans heelwat faktore wat pryse opwaarts druk en kan ‘n mens nog terugsit en die mark dophou. Dit sal egter raadsaam wees om die verloop van Amerikaanse oeste in die volgende weke noukeurig dop te hou.
Indien sake daar sou normaliseer en goeie oeste kan realiseer, sal dollarpryse terugsak. In die geval van die randwisselkoers, sal die dollar relatief swak bly. Hierteenoor is Suid-Afrika se ANC/SAKP en COSATU alliansie nie juis ingestel op sinvolle ekonomiese uitsprake of leierskap op hierdie stadium nie, wat internasionale vertroue ondermyn en sal neig om die rand te laat verswak, eerder as versterk.
Sojabone en sonneblomsaad
Internasionale sojaboonproduksie word geraam om met sowat 26 miljoen ton te daal, teenoor verlede jaar se sojaboonoeste. Dit is een van die grootste inkrimpings in die soja-oes en die resultaat is dat voorraad beskikbaar vir verwerking teen Augustusmaand uit Suid-Amerika baie knap gaan wees – wat pryse sal stut tot dan. Die kleiner beskikbaarheid van sojabone vir persdoeleindes gaan dan ook tot gevolg hê dat sojameelpryse internasionaal ook duur bly.
Hierteenoor is Rusland en die Oekraïne besig om hul produksie van oliesade (veral sonneblomsaad) aansienlik uit te brei en met die huidige goeie pryse word verwag dat hul nuwe aanplantings aansienlik kan toeneem mits die weer saamspeel. Grafiek 1 toon die verloop in die internasionale pryse van sojabone en dié van sonneblomsaad tot middel-April 2012. Die aansienlike stygings in die laaste weke is duidelik.
Intussen is Sjina ‘n baie aktiewe internasionale koper en groot invoerder van sojabone. Brasilië voorsien grootliks aan Sjina, so ook die VSA. Die feit dat die VSA baie min voorraad het, het tot gevolg dat Sjina nou op groot skaal vanaf Argentinië en Brasilië aankoop en die verwagting is dat dit die lande se uitvoerbare voorraad vinnig gaan opslurp na die einde van die jaar. Daarna sal VSA sojabone moet voorsien aan die sowat 60 miljoen ton per jaar invoere van Sjina!
Intussen is die produksie van biodiesel ook aan die styg, waar die stygende aardoliepryse die winsmarge laag hou. Die risiko is natuurlik as aardoliepryse skerp sou daal en dié van oliesade nie, sal biodieselproduksie onwinsgewend wees. Dit is nie tans die geval nie en die produksie van biodiesel in Suid-Amerika is tans 12% - 15% meer as verlede jaar vir die ooreenstemmende tydperk.
Die skerp styging in sojaboonpryse het ook ‘n ander newegevolg, naamlik dat sojabone nou vir VSA en Suid-Amerikaanse produsente meer winsgewend is om te produseer as mielies. Daar is dan die siening van sommige ontleders dat die verwagte VSA mielie-oes oorskat word en dat die kanse op ‘n bo-normale opbrengs-oes eintlik skraal is en dat aanplantings nie soveel gaan toeneem nie. Dit is alles faktore wat pryse opwaarts druk. Grafiek 2 toon die verloop van sojaboon- en sonneblomsaadpryse op Safex. Die aansienlike stygings is duidelik, gedryf deur die stygende dollarpryse, die relatiewe swakker rand/dollar-wisselkoers en dan natuurlik ook ons kleiner oeste as wat aanvanklik verwag is.
Nuwe verwerkingskapasiteit sal gevul moet word met saad en bone en die mededinging kan straf raak om die beskikbare binnelandse voorraad te bekom. In die volgende weke sien ek meer faktore wat pryse hoog sal hou, as faktore wat pryse gaan laat daal. Grondbone se pryse bly redelik stabiel in dollarterme en Grafiek 3 toon die verloop. Die internasionale grondboonoes is kleiner as wat dit verlede jaar was en in die geval van Suid-Afrika is die verwagting ook so ‘n 10 000 ton tot 15 000 ton kleiner oes as verlede jaar.
Die internasionale grondboonoes word tans geraam op sowat 24,8 miljoen ton. Intussen bly Europa die grootste invoerder van grondbone, maar die Asiatiese mark is ook sterk aan die groei. Internasionale markte vir goeie kwaliteit grondbone bly goed en daar is ‘n redelike goeie kans dat Suid-Afrika vanjaar grondbone sal invoer vir die binnelandse mark, terwyl ons uitvoere voortgaan, maar teen kleiner volumes. Solank sojaboon- en sonneblomsaadpryse internasionaal hoog bly, sal dit grondboonpryse stut.
Daar is ten slotte in die kort termyn heelwat faktore wat die pryse in die oliesademark opwaarts druk, hoofsaaklik kleiner oeste internasionaal en plaaslik. Plaaslike produsente hoef nie na kopers te hardloop nie, maar moet ook nie te gulsig wees nie. Die Noordelike Halfrondproduksieseisoen het begin en as sake goed verloop daar, behoort pryse te begin daal vanaf Junie-/Juliemaand se kant.
Hierdie Oliesade-oorsig word moontlik gemaak deur die Olie- en Proteïensade Ontwikkelingstrust.
Publication: May 2012
Section: Markoorsig