June 2017
Die oesskattingsproses in Suid-Afrika word deur die Oesskattingskomitee, wat deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DLBV) gefasiliteer word, uitgevoer. Die komitee is betrokke by die skattings van beide somergraan-(wit- en geelmielies, sonneblomsaad, sojabone, grondbone, sorghum en droëbone) en wintergewasse (koring, moutgars en kanola).
Terwyl DLBV die proses lei, neem verskeie data-insetverskaffers deel aan die maandelikse Oesskattingskomiteevergaderings wat in Pretoria gehou word. Só word verseker dat die skattings op omvattende inligting gebaseer word.
Die Oesskattingskomitee maak gebruik van die volgende inligting om te verseker dat die mees akkurate resultate verkry word:
Die belangrikste bydraers tot elk van hierdie vergaderings sluit in verteenwoordigers van die nasionale Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, die nege provinsiale departemente van landbou, die Landbounavorsingsraad (LNR) en ‘n LNR-begeleide konsortium.
Die data van die verskillende insetverskaffers word geklassifiseer volgens die tipe metodologie wat gevolg word. Die data op die A- en B-lyn verwys na die tipe statistiese metodologieë wat gevolg word om data te versamel, waar die C-lyn na ‘n meer subjektiewe waarneming verwys.
Tydens ‘n Oesskattingskakelkomiteevergadering wat gedurende November 2008 gehou is, is ooreengekom dat die data van die insetverskaffers op die A-lyn bepalend moet wees tot die oppervlakte en produksie/opbrengste aangesien die metodiek(e) wat gevolg word om die data in te samel, statisties, objektief, wetenskaplik en betroubaar is.
In Tabel 1 word die verskillende insetverskaffers wat deel van die komitee vorm aangetoon, asook die klassifikasie volgens orde van belangrikheid en tipe metodiek wat gevolg word.
A-lyn
Konsortium
‘n Konsortium is in 2002 aangestel om die Oesskattingskomitee te help om ‘n stelsel vir akkurate oesskattings daar te stel. Die konsortium bestaan uit verskeie instellings van die LNR, naamlik die LNR-Grond, Klimaat en Water, LNR-Graangewasse en LNRKleingraan, asook GeoTerraImage en SiQ.
Vlugopname (PICES)
‘n Ligte vliegtuig/helikopter vlieg laag oor geselekteerde lande. ʼn Produsent in die vliegtuig bepaal interalia watter gewas op elkeen van die lande geplant is (en maak ‘n aantal waarnemings van die betrokke lande, soos byvoorbeeld of die land besproei word), waarna dit statisties bereken word. Hierdie opname word in sewe van die nege provinsies gedoen.
Telefoniese opname
‘n Opname van die oppervlakte geplant, asook van die verwagte opbrengste, word gedoen via produsente wat telefonies kort na planttyd gekontak word (ewekansige steekproef) – gedurende Februarie vir somergewasse en gedurende Augustus vir wintergewasse. Produsente moet aandui wat die geplante oppervlakte vir elke gewas op sy/haar plaas is, asook hul verwagte opbrengs. Hul moet ook onderskei of dit onder besproeiing geplant is of op droëland.
Landgrense
Met behulp van satellietbeelde is elke individuele bewerkte land in Suid-Afrika gekarteer. Die landgrense word elke jaar opgedateer en daar word veral baie aandag daaraan gegee om spilpuntbesproeiing volledig te karteer. Hierdie inligting is die basis vir die statistiese seleksie waarop die PICES-opname gedoen moet word.
Gewasklassifikasie
Dit vind plaas met behulp van afstandwaarneming, algoritmes en satellietbeelde wat deur die groeiseisoen opgeneem word om die tipe gewas vir elke individuele land te genereer (wat aan die einde van ‘n seisoen beskikbaar gestel word). Hierdie data word verder gebruik om die oppervlakteberamings, soos gedoen deur die PICES-opname, te verifieer en ook om die verandering in grondgebruik van seisoen tot seisoen ruimtelik, op distriksvlak, voor te stel.
Objektiewe veldopnames (slegs vir mielies en koring)
‘n Aantal produsente, wat aangedui het dat hul mielies en/of koring plant, word geselekteer. Hierdie plase word besoek. Lande word lukraak geselekteer en by elke land word daar ‘n objektiewe opbrengsbepaling gedoen (afmeting van plante, kop- en pittelling). Hierdie opname word een keer per seisoen in die drie belangrikste provinsies vir somergewasse gedoen (April = Mpumalanga en Mei = Vrystaat en Noordwes Provinsie) en een keer per seisoen in die twee belangrikste provinsies vir wintergewasse gedoen (Oktober = Wes-Kaap en Desember = Vrystaat).
Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens (SAGIS)
Gedurende die seisoen word daar oor werklike lewerings deur produsente aan kommersiële strukture gerapporteer. Hierdie leweringsyfer word vanaf ‘n gegewe tydperk in die seisoen as basis vir die oesskattings gebruik. Die produsente lewerings word ook aan die einde van die seisoen gebruik om die oesskattingsyfer vir akkuraatheid te verifieer.
B-lyn
Departement van Landbou, Bosbou en Visserye
Pos-opname
Die Oesskattingskomitee steun ook swaar op die insette wat verkry word vanaf produsente (subjektief). Data oor die oppervlakte geplant, sowel as produsente se opinie oor hul verwagte produksie/ opbrengs word verkry vanaf ‘n nie-ewekansige steekproef (pos-, e-pos, sms en ‘n telefoniese opname) om die gemiddelde opbrengs vir die gewasse te skat. Vir die somergewasse stuur die Direktoraat Statistiek en Ekonomiese nalise van DLBV maandeliks ongeveer 2 000+ vraelyste en vir die wintergewasse ongeveer 1 000+ vraelyste aan produsente medewerkers.
Die medewerker verskaf inligting oor die oppervlakte per gewas aangeplant en die verwagte totale produksie per gewas.
LNR-Grond, Klimaat en Water
LNR-Grond, Klimaat en Water ageer as koördineerder van die konsortium. Verder doen hulle ‘n voorlegging oor weerstoestande wat oor die tydperk vandat die laaste Oesskattingsvergadering plaasgevind het tot die dag van die skatting, geheers het. Hulle gee ook ‘n aanduiding van weerstoestande oor die medium termyn.
LNR-Graangewasse
Groei-simulasiemodel (Integrated Decision Support System for Yield Estimation for SA [IDSS-YES])
Verskeie faktore word in hierdie model gebruik om die moontlike opbrengs te bepaal (t/ha), soos byvoorbeeld beskikbare grondvogvoor planttyd, reënval, temperatuur, tipe kultivars aangeplant en ander produksie-insette.
LNR-Kleingraan
LNR-Kleingraan se taak is om die gegewens ten opsigte van die wintergewasse op die tafel te bevraagteken en te beredeneer.
C-lyn
Provinsiale departemente van landbou
Die verteenwoordigers evalueer plaaslike toestande in hul onderskeie provinsies en het direkte konsultasies met onder andere produsente en studiegroepe. Hul maak ook hul eie waarnemings aangaande die weer- en oestoestande, peste en siektes in hul provinsies.
Hulle het met ander woorde ‘n netwerk van kontakte waarvandaan hulle inligting verkry oor oppervlaktes geplant en opbrengste. Hierdie netwerk kan insluit landboubesighede, saadmaatskappye, telers en grootskaalse produsente.
Landboubesighede
‘n Vraelys word maandeliks aan die verskillende landboubesighede gestuur om die komitee van hul nuutste oesskattingsinligting te voorsien. Hierdie organisasie is nie deel van die Oesskattingskomitee nie en hulle woon ook nie die oesskattingsvergadering by nie. Laastens, inligting ten opsigte van al die ander C-lyn-instansies dra ook by tot die bepaling van die oesskattingsyfers, hetsy dit in die vorm van verslae is, eie waarnemings, terugrapportering of opinies ten einde die insette van die A- en B-lyn te evalueer en/of te verifieer.
Akkuraatheid van oesskattings
Die Oesskattingskomitee is dankbaar vir al die insetverskaffers van data wat gedurende die afgelope klompie jare bygedra het tot die oesskattingsproses. Gereelde deelname deur al die rolspelers vergemaklik nie net alleen die komitee se taak nie, maar lei daartoe dat die oppervlaktes beplant en die verwagte produksie so akkuraat moontlik bepaal kan word. Dit is dus die mikpunt van die Oesskattingskomitee om binne 8% van die finale oes vir die eerste tot vierde oesskatting te wees en binne 5% vir die vyfde tot finale oesskatting. Grafiek 1 en Grafiek 2 toon die Oesskattingskomitee se eerste en finale produksieskattings, asook die finale mielieoes oor die afgelope paar jaar – wat ‘n aanduiding is dat hulle wel suksesvol is om die mikpunte te behaal. Meer inligting kan bekom word van Mee Ellen Matsei of Rona Beukes van DLBV by 012 319 8454/8032 of DAS@daff.gov.za/RonaB@daff.gov.za.
Publication: June 2017
Section: Focus on