• Login
  • Search Icon

Oesreste in bewaringsboerdery: bewei of nie?

September 2012

ANDRÉ NEL, LNR-INSTITUUT VIR GRAANGE WASSE, POTCHEFSTROOM

image

Een van die belangrikste redes waarom mielieprodusente van konvensionele na geenbewerking wil oorskakel, is weens die kostebesparing in onder meer brandstof en trekkers. Dikwels word daar na geenbewerking oorgeskakel, maar geen aanpassing word aan enige ander aspek van die produksiestelsel gemaak nie. Sonder die nodige aanpassings aan die produksiestelsel kan geenbewerking ‘n risiko inhou.

Daarom moet geenbewerking as een (of eerste) van die beginsels van bewaringsboerdery gesien word wat nie noodwendig gaan slaag as die ander ewe belangrike beginsels nagelaat word nie.

Die tweede beginsel van bewaringsboerdery is wisselbou. Dit beteken dat mielies nie in monokultuur verbou moet word nie, maar van tyd tot tyd met ‘n ander gewas afgewissel moet word.

Die derde beginsel is dat oesreste onbenut op die grond gelaat moet word om ‘n permanente of minstens ‘n semi-permanente deklaag te vorm vir die voordele wat dit inhou.

Oesreste

Om oesreste onbenut op die grond te laat, terwyl dit voorheen altyd deur vee benut is, is ‘n verandering wat nie algemeen byval gaan vind nie. Oesreste word op baie plase as voer vir vee benut gewoonlik deur beweiding. Die voordeel wat oesreste op die grond het moet dus opgeweeg word teen die voordeel wat dit as veevoer het. Dit is egter moeilik aangesien veevoer ‘n korttermynvoordeel het terwyl die voordeel wat oesreste vir die grond inhou oor ‘n langer termyn tot uiting kom.

Die gevolgtrekking van kundiges uit ander wêrelddele met jare se ondervinding van bewaringsboerdery en die belangrikheid van deklae, is vir ons van belang. Australiërs bestempel die deklaag as een van dié belangrikste aspekte om van bewaringsboerdery ‘n sukses te maak.

In Argentinië, waar bewaringsboerdery op groot skaal suksesvol toegepas word, is die siening van kundiges dat oesreste nie deur vee benut moet word nie, maar as deklaag behoue moet bly. Trouens, vee word eenvoudig glad nie meer op kontantgewaslande toegelaat nie, só ook die verwydering van oesreste.

Waar die klimaat dit toelaat, word dekgewasse selfs geplant met die uitsluitlike doel om die deklaag te bevorder. Die Brasiliane stel dit ook duidelik dat die produktiwiteit van gewasse onder geenbewerking op sanderige grond wat korse vorm, verder agteruit kan gaan as onder ploegbewerking indien ‘n deklaag afwesig is. Van dié ondervindinge en sienings oor deklae behoort ons ernstig kennis te neem aangesien sanderige grond wat korse vorm wyd in die Suid-Afrikaanse mielieproduksiegebied voorkom.

Wat dan van plase wat noodwendig die oesreste moet benut en dit soms in oorvloed het? Volgens die handleiding van die KwaZulu-Natal se no till klub, kan oesreste tot ‘n beperkte mate benut word. So word genoem dat 60% van die grond steeds bedek moet wees om vog te bewaar. Diere moet egter onmiddellik van lande af indien dit reën om kompaksie van die grond te voorkom.

Waar daar min oesreste is, soos in ons laer reënvaldele, is dit ongewens om ‘n deel daarvan te verwyder. Volgens die FAO moet die grondbedekking minstens 30% wees, soos direk ná plant gemeet, om steeds as bewaringsboerdery te kwalifiseer. Die standpunt word gehuldig dat hoe meer oesreste, hoe groter die bedekking, hoe beter vir die grond.

Voordele van deklae

‘n Deklaag hou verskillende voordele in. Eerstens beperk dit winderosie gewoonlik effektief. Dit is oorbekend en jare reeds word die bekende rip-op-ry-bewerking in veral die Vrystaat op sandgrond toegepas waar die meeste oesreste op die grondoppervlak bly om winderosie te bekamp.

Deklae beperk egter ook watererosie en bevorder infiltrasie in die grond. Die impak van reëndruppels op die grond word deur deklaebeperk en ‘n infiltrasiekors ontwikkel nie so vinnig en maklik soos met onbedekte grond nie.

Afhangende van die grondtekstuur en helling, kan die hoeveelheid afloop en erosie dramaties afneem indien ‘n deklaag teenwoordig is. ‘n Belangrike aspek wat hiermee verband hou, is die impak op die omgewing. Hoe minder water en grond van ‘n land afloop, hoe minder landbou-chemikalieë word saam afgevoer en hoe minder daarvan beland op plekke waar dit besoedeling veroorsaak. Trouens, water wat van lande onder geenbewerking met ‘n deklaag afloop, bevat gewoonlik baie minder grond en landbou-chemikalieë as water wat van bewerkte lande afloop.

Seker een van die belangrikste deklaagvoordele, veral onder droë toestande, is dat dit die verdamping van vog vanaf die grondoppervlak vertraag. ‘n Groter hoeveelheid plantbeskikbare water in die grond kan tot ‘n hoër opbrengs aanleiding gee.

Resultate uit die VSA toon dat die opbrengs van mielies onder hulle omstandighede met 34 kg/ha toeneem vir elke persentasiepunttoename in die bedekking. Die verandering in die beskikbare hoeveelheid vog speel waarskynlik ‘n groot rol in hierdie syfer.

Weens die stadige afbreekproses van deklae, dien dit as deurlopende en gestadigde bron van voedings vir organismes in die grond. Indien oesreste ingeploeg word, groei die mikrobe-populasie dramaties totdat die oesreste uitgeput is, waarna die mikrobe-populasie kwyn. Bewerkings versteur die mikrobe-aktiwiteit en diversiteit wat ongewens is aangesien patogene dikwels dan die oorhand kry.

Deurlopende en diverse mikrobiese aktiwiteit wat ‘n groter kans staan om onder deklae te ontwikkel, is die ideaal om patogene te beperk en ‘n stadige opname en vrystelling van plantvoedingstowwe vanuit oesreste te bewerkstellig. Mikrobiese aktiwiteit is ook nodig om grond waarvan die struktuur deur herhaalde bewerkings vernietig is, mettertyd te herstel.

Die deklaag beïnvloed dus die mikrobe-aktiwiteit wat op hulle beurt weer die kwaliteit van die grond bepaal. Op grond waarvan die kwaliteit laag is, presteer gewasse ook nie na wense nie en word dit gewoonlik deur patogene of plae, soos aalwurms, beperk.

Koolstofinhoud

Die organiese koolstofinhoud van grond is ‘n aanduiding van die kwaliteit daarvan. In die Pampasstreek van Argentinië is gevind dat die opbrengs van koring ‘n duidelike verwantskap met die organiese koolstofinhoud van die grond toon. Dit verklaar waarskynlik hulle siening dat oesreste onbenut op die grond gelaat moet word. Deur oesreste as veevoer te verwyder, word ‘n deel van die koolstof wat ‘n bydrae tot die grond se kwaliteit moet lewer dus verwyder.

Hulpbron-effektiewe landbou

Deur die beginsels van bewaringsboerdery toe te pas word die kwaliteit van die grond bevorder wat weer die produktiwiteit van gewasse verhoog. Daarom word die term hulpbron-effektiewe landbou dikwels as sinoniem vir bewaringsboerdery gebruik.

Brasilië is ‘n goeie voorbeeld van waar dié effektiwiteit van graanproduksie verhoog is. Daar word beraam dat die omskakeling van 23,5 miljoen hektaar grond, van konvensionele na bewaringsboerdery oor ‘n periode van 15 jaar in dié land, aanleiding gegee het tot die produksie van ‘n addisionele 67,2 miljoen ton graan.

Die beste manier om oesreste te hanteer is om dit net eenvoudig met rus te laat. ‘n Rolmoer kap oesreste in stukkies en begrawe selfs ‘n deel daarvan op sanderige grond. Dit vind baie byval aangesien spuit en plant-aksies op so ‘n land gewoonlik sonder veel probleme verloop. Fyner oesreste vergaan egter vinniger as growwe oesreste en die deklaag gaan dus spoediger tot niet, wat ongewens is.

Fyn en ligte oesreste soos dié van sonneblom beweeg ook mettertyd weens wind en reën teen die helling af. Ongewenste kaal kolle kan dan ontwikkel. Hoe growwer oesreste is en hoe langer dit aan die grond geanker bly, hoe beter. Voorsorg moet ook getref word dat die materiaal wat deur stropers gaan, so eweredig moontlik oor die land versprei word.

Deklae kan ongelukkig ook sekere probleme meebring. Die insekpopulasie en voorkoms van patogene en die onkruiddinamika kan onder deklae verander, wat spesiale teenmaatreëls vereis. Dié probleme weeg egter swak op teen die langtermynvoordele wat ‘n deklaag inhou.

Publication: September 2012

Section: Input Overview

Search