• Login
  • Search Icon

Observeer, sien geleenthede raak en vat kanse

March 2013

– Dít het van Gilly Scheepers 'n waardige Graan SA/Syngenta Graanprodusent van die Jaar gemaak

 

PIETMAN BOTHA, SA GRAAN/GRAIN MEDEWERKER

Gilly Scheepers, wat verlede jaar as Graan SA/Syngenta Graanprodusent van die Jaar aangewys is, en sy vrou, René, bestuur en besit die Bloukruin Landgoed BK boerdery met grond wat in die drie distrikte van Fouriesburg, Bethlehem en Paul Roux, geleë is.

image

Hulle besigheid bedryf ‘n geïntegreerde vee-, pluimvee- en saaiboerdery wat saamwerk om hierdie onderneming te laat floreer. Die skape word grootliks in die bergagtige gedeeltes aangewend met die doel om hoofsaaklik wol te produseer. Die beeste lewer speenkalwers aan die mark en die saaiery produseer mielies, droëbone en koring vir die mark en eie gebruik. In die hoenderboerdery word daar hoofsaaklik op eierproduksie gefokus wat aan verskeie afsetgebiede gelewer word.

Met die uitbou van hierdie boerdery het Gilly baie harde werk ingesit, maar met werk alleen kon hy nie dít bereik wat hy nou bestuur nie. Gilly het vroeg al die waarde van observasie, vooruitdenke en om te bly groei, besef.

Om geleenthede raak te sien en die geleentheid te ontsluit, is ‘n gawe wat vir Gilly beskore is. Hierdie uitmuntende bestuurder het ‘n droom gehad wat hy passievol uitleef. Oor tyd het hy dikwels onortodokse metodes aangewend om sy drome te bereik.

Baie grond is in hierdie tyd opgekoop, sinvol in produksie gebring en in sommige gevalle weer verkoop om ander aan te koop.

image

Grondverskuiwing

Een van sy passies is om met grondverskuiwingsmasjiene te werk. Hierdie liefde van Gilly om iets mooi en reg te maak, het hy by sy pa geërf. Sy pa het ook in sy leeftyd sy plaas opgebou, toegespan en tot ‘n spogplaas ontwikkel. Gilly het dan ook hierdie grondverskuiwings - passie van hom sinvol aangewend om geld mee te maak.

Gilly sê: “Ek maak iets mooi en dit betaal my terug; hoe gelukkig is ek om my droom te kan uitleef!”

Waterafloopbeplanning is een van die noodsaaklikhede vir ‘n saaivertakking in die Oos-Vrystaat. Hiersonder gaan grond, bemesting en water verlore – wat alles nodig is vir die produksie van graan.

Weens die onherbergsaamheid van die omgewing, is dit noodsaaklik om oor die vermoë te beskik om by die bewerkbare landbougrond uit te kom. Om hierdie beperking die hoof te bied, het Gilly baie paaie op
onherbergsame plekke gebou en sodoende die waarde van die grond ontsluit.

Die boerdery het egter nie hier gestagneer nie. Waardetoevoeging tot die primêre produkte geproduseer, maak vir Gilly ekonomies sin.

Verder weet hy dat soveel as moontlik van die verbruikersrand in sy sak moet val. Hy het ook besef dat daar ‘n sinergie tussen die vertakkings moet wees en dat die vertakkings mekaar moet komplementeer.

Gilly ag homself gelukkig dat hy weer een van sy liefdes kon aanwend om sy boerdery te versterk – ‘n hoendervertakking is ingebring om sodoende waarde tot sy graanvertakking te voeg. Verder kon die hoendermis gebruik word om die winsgewendheid van die saai- en veevertakkings te verhoog.

Weiding

Ten einde met vee in die Oos-Vrystaat te oorwinter, moet daar vir winterweiding voorsiening gemaak word. In hierdie besigheid word op mieliereste, rogweiding, lusern en oulandsgras staatgemaak om addisionele veeweiding in die winter te voorsien.

Beplanning en rekordhouding

Gilly besef die waarde van goeie beplanning en rekordhouding. Met sy span adviseurs word die effek van verskillende besluite getoets en sodoende word die risiko’s gekwantifiseer en bestuur. Sonder kontrole
kan foute inkom en hiervoor het Gilly ‘n gesoute administrateur wat seker maak dat die papierwerk in tyd en korrek bly.

Hy besef dat risiko’s geneem moet word om geld te kan maak. Oor dié rede kon hy sy besigheid uitbrei, terwyl ander hul besighede wou inkrimp. Weer eens kon Gilly sy passie uitleef. Hy kon plase opkoop en hul verbeter tot spogplase wat weer begin produseer het.

Gilly besef dat gronddiepte een van die belangrikste aspekte van produksie is. Hy soek dan ook grond in terme van hul diepte uit om te besluit wat op die grond gedoen gaan word. In sommige plase is natuurlike weiding uitgewerk om nuwe lande te maak.

Grondsuurheid is volgens Gilly een van die grootste beperkings in die produksie van graan vanaf bestaande lande. Tydige en die regte hoeveelheid kalk toegedien, het dit Gilly in staat gestel om sy grond weer ekonomies in produksie te bring. Met gereelde grondontledings, kan die kolle wat ekstra bemesting kort, geïdentifiseer en reggestel word. Daar word veral ook gefokus daarop om die fosfaatvlakke van lande in stand te hou.

Wisselbou

Wisselbou en die volhou van ‘n goeie wisselbouprogram verhoog volgens die produsent winste en verlaag terselfdertyd risiko’s. “Die plaas se ritme moenie versteur word nie,” merk Gilly op.

In hierdie boerdery word mielies, droëbone en koring aangewend om ‘n gesonde wisselbouprogram daar te stel. Weens die omvang en uitgestrektheid van die plase, word die gewasse tussen plase geroteer. Op dié manier kan die masjinerie geoptimaliseer word. Dit is goed - koper om met ‘n trekker na ‘n volgende plaas te trek as om ‘n trekker onderbenut te laat staan. Met die wisselbouprogram wat gevolg word, kon die kilowatt per hektaar ook verminder word, maar per hektaar bewerk, is dit meer as benodig.

Die plase word ook op hul eie bestuur en plantestand, bemesting en onkruiddoderprogramme word aangepas om die potensiaal van dieplase te ontsluit. Gilly poog om elke plaas se hulpbronne te optimaliseer. Sommige plase sal weens die topografie net as veeplase aangewend word. Op sekere van sy plase is baie erosieslote sigbaar, maar weer eens het Gilly hierdie as ‘n bate gesien. Met ‘n grondwal is ‘n reuse-dam gebou wat weer gebruik word om ‘n gedeelte te besproei en in dieselfde asem word gronderosie gekeer. Goeie waterafloopbeplanning sorg ook dat die skuinslande nie spoel nie en sodoende bly die bemestingstowwe waar dit hoort.

image

Bemarking

“Bemarking kan jou maak of breek,” sê Gilly. Dit is vir hom belangrik om te weet hoeveel dit hom kos om iets te produseer, want dit sal weer bepaal hoe die bemarking gedoen word. Graan wat aan die hoenderboerdery gelewer word, moet vanaf die graanvertakking gekoop word. Op dié manier word risiko tussen die vertakkings versprei.

Droëbone word ook weer gesif voor dit verkoop word en sodoende word ‘n beter prys vir die bone verdien. Daar word altyd gepoog om die bone buite seisoen te verkoop en sodoende word ‘n goeie prys vir die produkte verseker.

As daar gewerk moet word op die plaas, is Gilly ook by. Om tussen die plase te ry, neem net te veel tyd in beslag en daarom poog Gilly om daar te wees waar daar gewerk word. Omdat sy grond ver uitmekaar lê, is daar op elke blok plase ‘n huis waar Gilly en René kan tuisgaan om seker te maak alles loop soos dit moet.

Tydigheid en netheid is verdere sleutels in hierdie besigheid se sukses. “As ek iets moet soek, mors ons tyd en daarom is daar altyd voorraad op die plaas en by die plekke waar dit benodig word. Diesel voorsiening op die plekke waar gewerk word, het sy eie kopkrap-oomblikke. Om genoeg daar te kry en dit tydig daar te hê, is ‘n uitdaging.”

Gemeenskapsbetrokkenheid

Gilly praat altyd van “ons doen dit en ons doen dat”. Hiermee gee hy altyd erkenning aan sy Verlosser wat alles vir hom “leen” en moontlik maak. Sy vrou en sy werkers kry ook erkenning vir die rol wat hulle speel.

“Hier is mense wat al jare vir my werk” en waarvoor hy baie dankbaar is. Sy plaasbestuurders is sy regterhande om alles vlot te laat loop. “Sonder sulke lojale werkers sal my taak baie moeiliker wees,” erken Gilly.

Deur alles net vir jouself te hou, is ook nie vir Gilly reg nie en daarom poog hy om ook sy rol in die gemeenskap sinvol te vervul. Werkers se behoeftes word nie oorgesien nie en daarom word hulle op ‘n gereelde basis opgelei om hul take sinvol, effektief en doeltreffend uit te voer.

Werkers wat op hierdie plaas opgelei is, het hulself al oor en oor in ander sektore bewys deur die hoogste sport te bereik. Plaasskole word ondersteun en sodoende word plaaskinders alle geleenthede gegee om hul potensiaal te bereik.

Gilly en René Scheepers leef voorwaar hul passie uit en is ‘n voorbeeld van wat met harde en slim werk vermag kan word. Kontak Gilly by bloukruin@intekom.co.za.

Publication: March 2013

Section: Other Articles

Search