• Login
  • Search Icon

Nuwe, verbeterde LNR-KGI-kultivars vir droëlandproduksie in die Wes-Kaap

September 2013

DR IAN HEYNS, LNR-KLEINGRAANINSTITUUT, STELLENBOSCH EN DR ANDRÉ MALAN, LNR-KLEINGRAANINSTITUUT, BETHLEHEM

Die LNR-Kleingraaninstituut (LNR-KGI) vorm ‘n integrale deel van die koringbedryf en het in die verlede reeds kultivars met goeie opbrengs en kwaliteit vrygestel (Gamtoos 1983, Palmiet 1984, Kariega 1993, Biedou 2001, Baviaans 2002 en Tankwa 2007).

Die voortdurende vraag na meer koring en die ontwikkeling van nuwe roespatotipes (Ug99) vereis egter dat nuwe, verbeterde kultivars voortdurend ontwikkel moet word.

image

‘n Groot aantal segregerende lyne word elke jaar geëvalueer op grond van agronomiese eienskappe en siekteweerstand, terwyl gevorderde lyne op verskeie lokaliteite in die Swartland en Rûens geplant word om te sien of hulle aangepas is vir omgewingstoestande.

Klem word geplaas op die siekteweerstand van blaar-, streep- en stamroes asook verbeterde opbrengs. Dit is egter dikwels die geval dat kultivars met siekteweerstand ‘n lae opbrengs het en die doel by die LNR-KGI is om kultivars te ontwikkel met goeie kwaliteit, siekteweerstand en ‘n hoë stabiele opbrengs.

Beide Kwartel en Ratel is met dié doel ontwikkel en is die jongste toevoeging tot die reeks LNR-KGI-kultivars vir die westelike reënvalgebied. Hierdie kultivars het albei ‘n Kariega agtergrond, maar is ‘n verbetering op Kariega, aangesien hulle oor matige blaar- en stamroesweerstand beskik.

Ratel en Kwartel is beide middelseisoen-kultivars met ‘n gemiddelde hoogte van 80 cm - 100 cm, vereis geen vernalisasie nie en beskik oor goeie uitloopweerstand.

Ratel sowel as Kwartel, is in 2011 vir die eerste keer by die Nasionale Kultivarevaluasieproewe ingesluit en het goed vertoon teenoor huidige kommersiële kultivars. Gemiddelde opbrengsdata vir kultivarproewe vir die tydperk 2011 - 2012, het getoon dat Ratel goed aangepas is in die Swartland en Rûens, met ‘n algehele vierde plek in die Swartland (2011) en ‘n vyfde plek in die Rûens (2011 en 2012).

Kwartel het ook goed vertoon, maar het nie dieselfde opbrengspotensiaal as Ratel nie. Tankwa is ‘n LNR-KGI-kultivar wat reeds in 2007 vrygestel is en beskik oor hoë vlakke van blaar- en stamroesweerstand, wat dit uiters geskik maak vir toestande in die Wes-Kaap.

Tankwa is ‘n langseisoen-kultivar met ‘n hoë proteïeninhoud. Dit is opmerklik dat Tankwa die tweede hoogste proteïenvlak gehad het (vier jaar gemiddelde 2010 - 2012) vir kultivarproewe in die Swartland en Rûens. Weens die hoë vlakke van roesweerstand, presteer Tankwa beter by omgewings waar die siektedruk hoog is.

image

image

Siekteweerstand

Blaar- en stamroes is die siekte wat die meeste voorkom in die Suid-Westelike produksiegebied, met streeproes wat minder gereeld voorkom. Roesweerstandstoetsing het getoon dat Ratel en Kwartel matig vatbaar is vir blaar- en stamroespatotipes wat voorkom in die Wes-Kaap.

Merkerbemiddelde seleksie het getoon dat Ratel oor ‘n enkele stamroesweerstandsgeen beskik (Sr2), in vergelyking met die twee blaarroesweerstandsgene (Lr24 en Lr34) en die enkele stamroesweerstandsgeen (Sr24) van Kwartel.

Blaarpuntnekrose wat geassosieer word met die blaarroesweerstandsgeen, Lr34, is ook waargeneem by Ratel, maar die teenwoordigheid van hierdie geen kon nie met merkerbemiddelde seleksie bevestig word nie.

Tankwa beskik oor drie effektiewe stamroesweerstandsgene en een blaarroesweerstandsgeen, terwyl Kariega oor nie een van die bogenoem de gene beskik nie.

Ratel en Kwartel is spesifiek ontwikkel vir toestande in die Suid-Westelike winterreënvalstreek, met die klem op verhoogde opbrengs.

Die kultivars het egter ‘n bykomende voordeel deurdat hulle matige weerstand het teen blaar- en stamroes, wat aanleiding gee tot verlaagde produksiekoste.

Die kultivars word tans deur All-Gro Saad bemark en enige navrae kan gerig word aan dr Ian Heyns by 021 887 0045.

Hierdie navorsing is moontlik gemaak deur befondsing van die Wintergraantrust.

Publication: September 2013

Section: Input Overview

Search