March 2017
Volgens ‘n studie wat in 2008 deur die Landbounavorsingsraad (LNR) gedoen is, is die gemiddelde jaarlikse verlies aan bogrond onder gewasverbouing 13 t/ha. Die tempo waarteen bogrond as gevolg van wind- en watererosie verlore gaan, is baie hoër as die natuurlike vorming van grond.
Bewaringslandbou word gesien as die beste manier om die proses om te keer en te verseker dat produsente in die toekoms volhoubaar en winsgewend kan bly produseer. Graan SA se Bewaringslandbou Boere-innoveringsprogram betrek produsentestudie groepe met die nodige ondervinding en toerusting, om navorsing op hul eie plase te doen.
Die proewe dien as ‘n platform waarvandaan die voordele van bewaringslandboupraktyke aan ander groepe in die omgewing gedemonstreer kan word.
Die Riemland Studiegroep op Reitz, wat nege jaar gelede gestig is om volhoubare landbou in die omgewing te ondersoek, is deur Graan SA as ‘n medewerker geïdentifiseer. Die eerste beplanningsvergadering om probleme en navorsingsidees te identifiseer, is in 2014 deur Graan SA gefasiliteer.
VKB en die LNR-Kleingraaninstituut (LNR-KGI) is as potensiële medewerkers by die vergadering ingesluit. Rywydtes en plantpopulasie van mielies en sojabone in bewaringstelsels, asook die effek wat ver skillende gewasse in rotasiestelsels op mekaar het, is deur die studiegroep as die belangrikste navorsingsbehoeftes geïdentifiseer.
Daar is besluit op ‘n statistiese benadering om data vir toekomstige verwysing in te samel. ‘n Navorsingsvoorstel vir befondsing is in 2015 deur die Mielietrust goedgekeur.
Mielie-en-sojaboonplantpopulasie- en -rywydteproef
Daar is wêreldwyd ‘n neiging om 50 cm-plantrye in bewaringslandboustelsels aan te wend. Die doel van die proef is om drie rywydtes, naamlik 50 cm, 75 cm en 100 cm in kombinasie met verskillende plantdigthede van mielies en sojabone te toets.
‘n Ewekansige blokontwerp met drie herhalings van die kombinasies tussen die twee behandelings vir elke gewas (Tabel 1 en Tabel 2) is gebruik. Die terrein op Van Rooyenswoning (mnr Danie Slabbert) is in twee blokke (Figuur 1) verdeel om wisselbou tussen mielies en sojabone te bewerkstellig.
Resultate
Grafiek 1 bevat die 2015/2016-reënvalsyfers vir Reitz en verduidelik waarom mielie- en sojaboonaanplantings eers laat in Desember gedoen kon word. Maksimum temperature was ook bogemiddeld hoog, wat die effektiwiteit van reën wat wel geval het, aansienlik verlaag het.
Aan die einde van Januarie verlede jaar het die sojaboonblok ʼn opkoms van slegs 30% getoon, terwyl die mielieblok beter gevaar het met ‘n 70% opkoms. Die sojaboonblok het nooit herstel nie en moes af geskryf word.
In Tabel 3 is die mielieopbrengste vervat. Hoewel droogtetoestande groot variasie in die opbrengsresultate veroorsaak het, was die twee hoër plantpopulasie se opbrengste betekenisvol hoër as die gemiddelde opbrengs van die 40 000 plantestand. Daar moet egter in gedagte gehou word dat ontkieming as gevolg van droogte nie na wense was nie en slegs 70% van die beplande behandeling gerealiseer het. Gemiddelde opbrengste van die rywydtes het geen betekenisvolle verskille getoon nie.
Gewasrotasieproef
Elke gewas binne ‘n rotasiestelsel kan ‘n effek hê op die volgende gewas se siektebeheer, die voedingstatus van die grond, sowel as onkruidbeheer in die stelsel. Die studiegroep wil graag die invloed van elke gewas, sowel as die opvolggewas, op die stelsel meet sodat hulle dit in die toekoms kan gebruik om ingeligte besluite ten opsigte van opvolggewasse in hul stelsels te neem. Die potensiaal van ‘n “vanggewas” in ‘n goeie reënjaar is deel van die proef. Twee lokaliteite is in die Reitz-distrik gekies (Van Rooyenswoning en Emden) en die proefpersele is by beide uitgelê as ewekansige blokke met vier herhalings van ses rotasiestelsels.
Die stelsels wat ingesluit is, is soos volg:
Resultate
Sojabone
Daar is in November 2015 afgeskop met sojaboonaanplantings op al die persele. Die gemiddelde oesopbrengs van die sojaboonpersele was onderskeidelik 1 t/ha en 1,9 t/ha by die twee lokaliteite, wat ondergemiddeld vir die omgewing was en die swak toestande tydens planttyd reflekteer.
Winterdekgewas
Die eerste opvolggewas in een van die rotasiestelsels was ʼn winterdekgewasmengsel van korog, rog, hawer, swart hawer, wei wieke en Japannese radyse. Al die spesies het suksesvol gevestig en is einde September verlede jaar doodgespuit sodat mielies direk in die reste geplant kon word.
Koring
Koring is einde Julie verlede jaar geplant en het suksesvol gevestig. ‘n Sogenaamde “vangoes” is vroeg in Januarie vanjaar gestroop.
Mielies
Mielies is November verlede jaar op die onderskeie persele geplant. Sonneblomme en droëbone Sonneblomme en droëbone is in Januarie vanjaar geplant nadat die voorafgaande koring gestroop is.
Sonneblomme en droëbone
Sonneblomme en droëbone is in Januarie vanjaar geplant nadat die voorafgaande koring gestroop is.
Die pad vorentoe
Hoewel geen vergelykbare data na slegs een jaar beskikbaar is nie, is die studiegroep opgewonde oor die vordering wat reeds gemaak is. Daar is tydens ‘n beplanningsvergadering in Augustus verlede jaar besluit om die volgende seisoen ‘n 100 000 plante/ha-behandeling vir mielies in die plantpopulasie-en-rywydteproef in te sluit.
Vogmeters is ook in beide proewe geïnstalleer sodat addisionele inligting vir die interpretasie van data ingesamel kan word.
Publication: March 2017
Section: On farm level